Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ontspan, hulle toets seker al weer die stelsel . . .
Heinz Mödler

Op 26 April 1986 – om 01:23:40, om presies te wees – druk Alexander Akimof ’n knop wat hy wens hy nooit gedruk het nie. Minute later ontplof reaktor 4 van die Tsjernobil-kernkragstasie in die Oekraïne wat die grootste mensgemaakte ramp denkbaar veroorsaak.

Terwyl die sirenes loei en die vlamme lek, probeer Akimof en sy hoof, Anatoli Djatlof, die skade herstel. In die ontploffing is die dak van die reaktor afgeblaas en het betonmure so dik soos damwalle soos klei beweeg.

Buite lê radioaktiewe uraan en smeul en dien dosisse bestraling van industriële sterkte toe aan almal teenwoordig, asook kilometers verder.

Maar Akimof en Djatlof probeer onverpoos die situasie red. Hulle stuur selfs twee jong manne uit om te gaan kyk hoe die reaktor lyk. By hul terugkoms was die twee onherkenbaar. Akute bestraling het hul liggame permanent verniel. ’n Paar dae later sterf hulle.

Verstommend genoeg wil Djatlof nie toegee nie. Hy is oortuig hulle kan nog iets doen om die situasie te red. Pleks daarvan om sy mense te beveel om na veiligheid te laat spaander, karring hy aan.

Groepdink is ’n sielkundige fenomeen waar ’n groep mense eenvoudig nie wil aanvaar dat die mensgemaakte ramp wat hulle ont­keten het, so erg is as wat dit werklik is nie.

Djatlof, en die hele groep wetenskaplikes wat die betrokke oggend teenwoordig was, ly aan sogenaamde groepdink (groupthink).

Groepdink is ’n sielkundige fenomeen waar ’n groep mense eenvoudig nie wil aanvaar dat die mensgemaakte ramp wat hulle ont­keten het, so erg is as wat dit werklik is nie.

Die term is geskoei op George Orwell se boek 1984, maar is vir die eerste keer in 1971 deur die sielkundige Irving Janis in die vakjoernaal Psychology Today beskryf.

Volgens Janis gaan alles oor die begeerte van die groep om tot elke prys kohesie te behou.

Die groep se beywering om normaliteit en standvastigheid te handhaaf, oorkom die rasionele denke wat nodig is om die waarheid van die situasie te herken. Niemand wil die een wees wat sê “daar is groot moeilikheid – ons moet nou vlug!” nie. As ’n lid van die groep is dit belangriker om te glo wat almal wil glo.

Hoeveel van ons vlug die oomblik wanneer ’n brandalarm afgaan?

Die groep is oortuig van hul onkwesbaarheid en dat die draai van ’n paar knoppe die probleem in ’n japtrap sal oplos.

Hulle ignoreer enige waarskuwings en sal ’n alarm eenvoudig dooddruk, want dit kan tog nie waar wees dat iets regtig verkeerd is nie.

Dit klink domastrant, maar die meeste van ons is geneig om presies dieselfde te doen. Hoeveel van ons vlug die oomblik wanneer ’n brandalarm afgaan?

“Hulle toets seker die stelsel,” is wat almal in die kantoor dink sonder om eens op te kyk. En dan gaan hulle, as ’n groep, voort om hul werk in vrede te doen. Al wat steurend is, is die geraas. Buite heers pandemonium, want almal wat nie deel is van die groep nie, sien hoe die gebou afbrand.

Of die afwesigheid van groepdink die skade van die Tsjernobil-ramp enigsins sou beperk het, is onwaarskynlik.

Maar dalk kon die Amerikaners die lewensverlies, en die verleentheid, van Pearl Harbor vermy het indien hulle in 1941 van groepdink geweet het.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Groepdink  |  Ramp  |  Denkproses  |  Mensdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.