Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onwelkome aandag wat die lewe versuur
Annemarie van der Walt

Die meeste vroue sal die hutswoord “#metoo” kan gebruik wat ná die Hollywood-vervaardiger Harvey Weinstein se onthulde seksuele predatoriese gedrag ontstaan het. Wys my ’n vrou wat nog nie aan die ontvangkant was van ongevraagde attensies nie, en ek wys jou die maan is van kaaskoek gemaak.

Ek het dit hier nie eens oor blatante en ernstige seksuele teistering nie, maar eerder ’n alledaagse – as ’n mens dit so kan noem – optrede deur sommige mans wat dit blykbaar hul reg ag om onvanpaste opmerkings teenoor vroue te maak op straat, in ’n kuierplek, by ’n sportbyeenkoms, waar ook al.

Gaan stap, draf of ry fiets deur ’n doodgewone voorstad as vrou en ’n manlike verbyganger sál die een of ander mislikheid kwytraak. Jy kners op jou tande, vermy oogkontak, bal jou vuiste en stoom binnetoe, want enige reaksie dien slegs as aansporing. Dit is verby vernederend, en die magteloosheid smaak soos bitterals.

Dit is ’n gevoel wat moeilik is om te verduidelik aan enige man, selfs die menigte goedgemanierdes wat hulle nooit daaraan sal skuldig maak nie. Dié se houding is wel meermale simpatiek en hul raad “ignoreer dit”. Die punt is egter dit maak steeds ongevraagde inbreuk op ’n vrou se privaatheid, vryheid van beweging, wése. ’n Vrou hoef ook nie onwelkome aandag as ’n kompliment te sien nie, soos dikwels gepaai word. Die wagwoord is “onwelkom”, en dit is my vroulike reg om as sodanig daarop te reageer.

So sit ek en ’n vriendin ’n paar jaar gelede een middag by ’n kuierplek op die dorp en opvang met mekaar se kinders, werk, die lewe. Drankies word by ons afgelewer – “met komplimente” van twee mans by ’n ander tafel. Ons het dit van die hand gewys en teruggestuur, eerstens omdat ons met mekaar wou kuier, dankie; daarby is dit pleinweg simpel om ’n oopgemaakte drankie te aanvaar (ons preek dit dan tot satwordens toe vir die kinders) en voorts was daar níks, sweet blow all, in ons houding wat tot dié aandag aanleiding gegee het nie.

Die resultaat was dat ons uitgeskel is vir suurknolle, opstêrs, sonder ’n sin vir avontuur, bla-die-bla-die-bla. Ons het die pad gevat, ’n gesellige kuier versuur omdat ons nie met diep dankbaarheid en soet glimlaggies wou aanvaar wat opgedring is nie.

Die resultaat was dat ons uitgeskel is vir suurknolle, opstêrs, sonder ’n sin vir avontuur, bla-die-bla-die-bla.

Op ’n ligter noot: Daar is een groot voordeel van ouer word vir ’n vrou, en dit is dat ’n mens dié onwelkome aandag vryspring soos die jare aanstap. Of dit is weens jou plooie of uitsakboude of dalk ’n houding van “as jy moeilikheid soek, gaan jy dit kry” is moeilik om te bepaal.

Stap ek nou die dag met my hond (’n kruising wat almal alewig probeer uitpluis) deur die dorp en ’n man kom reguit op my afgestap – duidelik belangstellend. Hy groet, noem hy was al voorheen hier op besoek: “Ek kan jou ongelukkig nie onthou nie, maar wel jou hond.”

Toe gee ek ’n menopousale glimlag: “Dis ’n teef, wees op jou pasoppens.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.