Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ook dié groep kort heling
Christo van der Rheede

Die Afrikaanse gemeenskap is ’n formidabele een wat saam met anderstalige gemeenskappe ’n enorme bydrae tot die vestiging van ’n moderne Suid-Afrika gelewer het.

Vandag is dit ’n hoogs ontwikkelde en gekultiveerde gemeenskap wat deurlopend sy kant op alle terreine van die samelewing bring.

Ek identifiseer met die Afrikaanse gemeenskap, want ek is Afrikaanssprekend en ek deel in dieselfde so­siale, kulturele en godsdienstige praktyke. Met my nierassige ingesteldheid en opvoeding onderskei ek egter nie tussen Afrikaanssprekendes op ’n etniese grondslag nie. Ek is ewe tuis tussen Afrikaanssprekendes ongeag hul velkleur of afkoms, solank ons dieselfde waardes deel.

Waardes soos wedersydse respek, omgee, liefde, eerlikheid, regverdigheid, werketiek, hulpvaardigheid, integriteit, mededeelsaamheid, bedagsaamheid, vredeliewendheid en vergewensgesindheid is die kompas wat rigting gee aan verhoudinge en handelinge met my medemens.

Aanvullend daartoe, lê gedeelde waardes die grondslag vir ’n gedeelde visie. En dit is ’n waardegedrewe en verenigde Afrikaanse gemeenskap wat die toon aangee om die waardes en ideale soos vervat in ons Grondwet te respekteer, beskerm en daaraan uitvoering te help gee.

In my daaglikse omgang met die Afrikaanse gemeenskap kom ek dikwels agter hoe erg verdeeld Afrikaanssprekendes is.

In my daaglikse omgang met die Afrikaanse gemeenskap kom ek dikwels agter hoe erg verdeeld Afrikaanssprekendes is.

Hierdie hoogs gesofistikeerde deel van die breër gemeenskap skroom nie om mekaar te beledig en die lelikste goed toe te snou as hulle van mekaar verskil nie.

Dit sien ’n mens veral op sosiale media en in reaksie op artikels deur joernaliste en menings deur rubriekskrywers.

Hier en daar doen mense wel die moeite om in debat te tree en ’n weldeurdagte en ingeligte teenargument te formuleer. Die meerderheid reaksies is egter uiters platvloers, onbeskof en kom die persoon te na.

Dis allermins wat ’n mens van die Afrikaanse gemeenskap verwag!

Dié vyandigheid en aggressiwiteit is simptomaties van ’n groter probleem waarvan die wortels diep strek. Die geskiedenis en hedendaagse politieke, ekonomiese, kulturele en sosio-maatskaplike uitdagings en onsekerheid waarmee die Afrikaanse gemeenskap gekonfronteer word, het veel hiermee te doen.

Die groter risiko is dat onderlinge konflik so ’n destruktiewe impak op die Afrikaanse gemeenskap sal hê dat dit weldra geen konstruktiewe bydrae meer tot Suid-Afrika se vooruitgang te lewer het nie.

Die ruïnes van vele vooruitstrewende gemeenskappe van weleer het ’n storie te vertel van hoe onderlinge konflik eens gesofistikeerde beskawings tot ’n val gebring het.

As Afrikaanse gemeenskap sal ons na mekaar moet leer luister; ook om goed na te dink oor wat gesê is. Ons moet leer om op ’n ingeligte en beskaafde wyse met mekaar te verskil.

Dit lê die grondslag vir heling, samewerking, die verwesenliking van gemeenskaplike ideale en die skep van ’n beter toekoms vir almal.

Afrikaanse organisasies, instellings en mense sal so gou moontlik om ’n tafel moet sit om oor onderlinge geskille en bepaalde beginsels te praat en met ’n strategie vorendag te kom oor hoe om die Afrikaanse gemeenskap, Suid-Afrika en Afrika op elke terrein denkbaar te dien.

Meer nog, ons sal die faktore wat dié gemeenskap se bydrae ondermyn, moet identifiseer en ’n werkbare, regverdige oplossing daarvoor moet vind.

  • Indien hierdie faktore in stryd is met die beginsels soos in ons Grondwet vervat, is daar sekerlik ’n geregverdige stryd wat ’n nierassige Afrikaanse gemeenskap kan voer om dit uit die weg te ruim. Moet egter nie vergeet van die waardes wat so ’n saak ten grondslag lê nie. Met gesonde waardes is so ’n stryd reeds half gewonne en dit bring heling.Van der Rheede is uitvoerende adjunkhoof van Agri SA.
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.