Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ook die onsin en leuens moet opgeruim word
Prof. Hennie van Coller

Wêreldwyd leef mense die groot leuen. Dat oefening en vetvrye produkte gesondheid verseker; dat geld alleen geluk bring; dat as jy wegkyk, die armes en ellendiges verdwyn.

Irak is byna van die kaart verwyder omdat die leuen van wapens van massavernietiging Westerse lande tot oorlog genoop het; honderdduisende het gesterf van Covid 19 omdat die leuen geglo is dat hierdie siekte óf ’n versinsel óf ’n ligte ongesteldheid sou wees.

In die VSA weier Donald Trump steeds om te erken hy het die presidentsverkiesing verloor, en bly hy hamer op verkiesingsbedrog wat nog nie bewys is nie. Hier te lande hou sekere politici vol dat hulle nooit ’n sent gesteel of mag misbruik het nie, en eintlik onkreukbaar is.

Getuies voor die Zondo-kommissie se reputasies word stelselmatig aan flarde geskeur, maar steeds volhard hulle met hul weergawe van die waarheid en onthou hulle geen snars van partytjies, koffers vol kontant, weeldemotors (wat binne hul motorhuise staan) of besoeke aan die Guptas nie. Baie afleidings kan gemaak word, onder meer dat mense liggelowig is en dikwels perdekuttels vir vye aansien, of soos die Nederlanders sê, jy iemand maklik knolle vir citroenen kan verkoop. Veral as jy ’n goeie smous is en volhou om onwaarhede te verkondig.

Geskiedskrywing is nie ’n Sondagmiddag-tydverdryf nie. Dit word gerugsteun deur argivale navorsing; nie die blote rondblaai in biblioteekboeke nie.

Hou net vol dat Kuba die Grensoorlog gewen het; dat Van Riebeeck ’n heining geplant het om rasse te skei; dat die Khoi voor 1652 al vlot Afrikaans gepraat het; die aarde eintlik plat is; en dat China eerste op die maan geland het. Ná ’n tyd word dit as feite aanvaar.

Dit laat my koud as mense gimnasiums plattrap en vetvrye produkte afwurg. Politici se manewales raak my nie. Maar as die Groot Leuen al vastrapplek begin kry in die wetenskaplike diskoers, is die skrif aan die muur.

Geskiedskrywing is nie ’n Sondagmiddag-tydverdryf nie. Dit word gerugsteun deur argivale navorsing; nie die blote rondblaai in biblioteekboeke nie. Kennis van seminale bronne is ’n vanselfsprekendheid; noukeurige bronverwysings, noodsaaklik. Óók eietydse geskiedenis moet die toets van wetenskaplikheid (onder meer van kontroleerbaarheid) kan deurstaan.

Uitgewers wat hulle skuldig maak aan die publikasie van onbetroubare geskiedskrywing (van die eie tyd óf verlede), behoort hul koppe in skande te laat sak, verskoning te vra en sulke publikasies te onttrek: boeke vol lasterlike bewerings, flagrante leuens en verdigsels.

Dan Sleigh het korte mette gemaak van onlangse historiese publikasies, selfs van een deur die gerekende Karel Schoeman. Maar steeds word dié werk aangeprys as geskiedskrywing uit die boonste rakke, en ’n onlangse knolskrywer se fiktiewe geskiedenis van die ou Kaap as weliswaar onbetroubaar, maar steeds “interessant”.

Om ons land leefbaar te maak, moet ons begin opruim: vullis veral, maar ook onsin en leuens.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Armoede  |  Geluk  |  Leuens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.