Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oom Cyril, kom plaas toe en skiet kettie

Ons almal weet oom Cyril kan die sweep klap. Maar kan hy regtig ’n boeresweep klap dat die skape se ore tuit?

In die weke van inperking het die kinders dalk nie elke dag penorent gesit en huiswerk doen nie, maar hulle het geleer om dinge te doen wat net so belangrik is soos somme, boekhou en chemie.

Charles Smith

Dit is om met ’n sweep te kan klap, om kettie te skiet, draadkar te bou, perd te ry, vis te vang en net sommer in die veld te kan loop en spore, plante en diere uit te ken.

Skole is so besig om kinders vol syfers, woorde, driehoeke en reghoeke te prop dat hulle papegaaie geword het in wie se koppe daar min plek oorgebly het vir verbeelding. Hulle moet wen en presteer, maar daar is nie tyd vir jol en avontuur nie.

Die dag toe my laaitie van ’n buitelugkamp kom en vertel hy het ’n lewende skerpioen geëet (natuurlik sonder die angel!), het ek so trots gevoel soos as hy ’n paaltjie met ’n perfekte inswaaier gekry het. Dis nie altyd die prestasie wat tel nie, maar die feit dat jy ’n tree na buite gee.

Ons moet versigtig wees om nie die kinders te veel op te piep nie. Natuurlik moet hulle leer daar is dalk ’n skerpioen onder elke klip wat hulle optel en dat hulle versigtig moet wees vir slange in die veld. Maar jy gaan jou oor raakslaan as jy leer om met ’n sweep te klap, ’n hoek gaan jou eendag haak as jy leer om met die visstok in te gooi en die seerste van die seerste – jy gaan jou duim met die kettie raakskiet.

Jy kan ’n kind troos wat huil met ’n stukkende duim of met tien dorings in die voet as hulle kaalvoet in die veld stap. Maar ’n kind wat met dooie oë en bleek gelaat by die huis kom omdat hy of sy uitgebrand is omdat hulle te hard gedruk is om te presteer, gaan jy moeilik kan troos of regruk.

Jy hoef nie ’n winkel leeg te koop om jou kind gelukkig te maak nie. Dit verg ’n klein oomblik om die kind se verbeelding weer aan te steek. Soos ’n sweep wat klap, of die eerste klip uit ’n kettie wat ’n boomstam tref. En nee, ’n kind hoef nie iets dood te maak om gelukkig te wees nie. Laat hulle jol.

Dit was heerlik toe ek (wettiglik) in die middel van grendeltyd op die plaas kon wegbreek. Die kinders kon in die veld gaan braai, in die plaas-dam swem en met die honde gaan stap om die skape aan te keer. Om ’n skaap te vang, is net so lekker as om ’n wiskundesom reg te kry. En luister hoe die kinders in die aand in die bed oor die honde en skape gesels en wie se sweep se klap was die hardste.

Ja, ja, ja, natuurlik is skool belangrik. Maar ons het hierdie oomblik nodig gehad om te her-besin. Ons lewe te vinnig. Soms is dit nie so belangrik dat jou kind wen nie, eerder dat sy of haar oë glinster en hulle ’n blos op die wang het.

So, oom Cyril, wanneer kom klap jy sweep en skiet kettie op die plaas saam met die kinders? Ek dink jy het dit ook nodig.

Meer oor:  Goeiemôre  |  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.