Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oom Dawie se verpletterende, rou boodskap
Charles Smith

Die oomblik in die bakkie se kajuit in die middel van die veld is een van die roerendste in hierdie tyd van dood, geweld, koue en veldbrande.

Ek kry ’n stemboodskap van Coreli Roos van Bethulie net as ek, Dingaan Jonas en Molefe Mohlolo in die bakkie klim. Dis ysig koud en die wind ruk en pluk aan die kajuit. Die lammers staan kromlyf langs die ooie. Ek trek my handskoen uit en druk die boodskap om te speel.

Sy het geskryf: “Stempos van Dawie Strauss, 3 plase afgebrand.” Ek sien hy is van Edenburg.

Ek kry van orals nuus en foto’s van die verwoestende veldbrand wat in die Wes-Vrystaat woed, terwyl ek met verlof op die plaas is. Dit is jou grootste vrees as ’n veeboer in die hartland.

’n Brand in dié wind kan alles wat jy besit in ure verwoes.

“Ek stuur maar vir julle vanoggend ’n boodskap. Dit is Dawie Strauss wat praat,” sê hy. Ek kan hoor hy is moeg. Buite is die veld in ’n bruin sandwolk gehul. My vingers is gevoelloos.

In die truspieël hang die windpomp se kop skeef nadat die wind hom afgeruk het.

’n Brand in dié wind kan alles wat jy besit in ure verwoes.

“Ek het vieruur vanoggend by die huis aangekom as ’n bankrot man,” sê oom Dawie. Ek kan hoor hoe hy huil. My hart ruk. Ek kan hom op sy bed sien sit met sy selfoon in die hand. Sy hele lewe lê in ’n hoop as.

“Al my plase in Edenburg het afgebrand. Al drie. Dit het in totaliteit afgebrand, daar is niks oor nie. Ek het honderde skape verloor; perde, wild, beeste. Ek vra vir julle op my knieë asseblief of julle my nie kan help met net ’n bietjie weiding nie. Asseblief.” Die wind laat die bome buig. Ek hoor hoe die windpomp rondgepluk word. Dingaan vee die trane met sy groot hande uit die oë. Ons sit ’n hele ruk só, ons harte vol.

Ons was al saam in veldbrande. Dingaan-hulle veg in elke brand wat om ons woed. Pa Hendrik se plaas Mispa het sewe jaar gelede heeltemal afgebrand. Hiér, nóú, in die verwoestende week is oom Dawie se boodskap verpletterend.

Ek sien regter Faan Hancke van Jagersfontein se foto’s van die verskroeide aarde. Dr. Kobus Laubscher stuur foto’s van sy plaas suid van Bloemfontein. Alles is pikswart gebrand. Wikus Bekker en sy swaer Louwrens Conradie van Edenburg het vyf plase verloor.

’n Dekade gelede het ek ná ’n haelstorm op ’n plaas oos van Edenburg aangekom waar 800 skape verkluim het. Ek onthou die verslaentheid toe die werkers met ’n trekker en wa en met perde die dooie skape aangery het. ’n Hele boerdery is in ’n halfuur vernietig. Kort hierna het een ná die ander bakkie aangery gekom met boere wat van vyf tot tien skape afgelaai het. Die trane het van die boer se wange gerol.

Oom Dawie, ons verstaan ’n bietjie waardeur jy en die boere daar gaan. Ons het nie ekstra weiding of voer nie, maar ons span het ’n eeu se ondervinding in windpompe, draad span, bouwerk. Ons kom help graag. Ons boere moet mekaar help; dit is wat ons nog kan doen.

Meer oor:  Charles Smith  |  Rou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.