Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oom Johnny was ‘groot’; het te gou gegroet

Hy was nie ’n ou vir groot groepe wat baie raas nie, maar ’n paar jaar gelede is hy skoolreünie toe (hy was wel dikwels deel van klein groepe wat baie geraas het).

Blouwillem
Blouwillem

Hy het maar gegaan, want 50 jaar sonder ’n gereelde pak slae is immers iets om te vier. Ons wil toe weet of sy maats deur die jare baie verander het.

“Nee,” antwoord hy, “almal is nog dieselfde, party ouens is net méér dieselfde.”

Ja, en die groot genade is dat hyself so deur die jare net meer en meer dieselfde gebly het. Net meer en meer oom Johnny.

Hy het “oom” geword toe ek 25 was en hom op sy 28ste verjaarsdag sy ouderdom gevra het. “Dan moet ek jou mos seker ‘oom’ noem,” sê-vra ek toe tong in die kies.

“Ja, Seun, ek sou so hoop, want dit sal net goeie maniere vir ’n jongman soos jy wees.”

En so het hy oom Johnny en ander kere Big John vir my geword. Nie groot omdat hy soos wyle Groot Paul en Dik Daan lede van die breë publiek was nie (bygesê, kon jy darem ook sien dat hy nie beginselbesware teen ’n stewige etetjie en ’n mooi Merlot gehad het nie).

Nee, die “big” het amper meer verwys na sy blote teenwoordigheid.

Ek het later besef dat dit ’n ongelooflike seën is om heeldag saam met iemand met ’n humorsin te kon werk.

In sy begrafnisbrief sê ’n Amerikaanse niggietjie: “He had a big presence, a people’s magnet, humor personified.”

Ek en hy het daar in die middel 1970’s ’n kantoor gedeel en ek het later besef dat dit ’n ongelooflike seën is om heeldag saam met iemand met ’n humorsin te kon werk.

Dit beteken dat jou werkdae die helfte korter was, maar jy steeds ’n volle salaris betaal is.

Elke dag tot op sy laaste met ’n glimlag gelewe. Nêrens opgedaag sonder daai lekker breë glimlag wat tot sy ore ook ingesluit het nie. Met ’n vonkel in die oog wat vra: “Nou wat kan julle bere my vertel wat lekker of snaaks of beide is?”

’n Storieverteller sonder weerga, maar nie op die raserige, vertonerige manier wat die Ingelse ’n “raconteur” sou noem nie. Net lekker rustig, vol wyshede en waarhede.

My oom Johnny was soos ’n stadig brandende hardekoolvuur. Jy kon praat of net vir die vlamme sit en kyk; jy was altyd gemaklik by die vuurtjie.

En môreoggend krap jy hom oop en dan gloei hy weer stadig, dieselfde hartlike vlammetjie wat almal tuis en warm laat voel het.

Met sy diep, Russiese, Ivan Rebroff-stem vertel hy eendag hoe hy onsuksesvol met kalkoene probeer boer het.

“Eén klein kalkoenkuiken besluit om dood te gaan en hardloop ‘flat out’ teen die verste kant van die hok vas. Die ander kuikens volg hom ‘flat out’ en ja, dis die einde van jou kalkoenboerdery.

“Jis, manne, hoekom sou ’n kalkoen al in Maart wou doodgaan? Kersfees is mos nog ver.”

Inderdaad, ou Big John, hoekom so vroeg?

Meer oor:  Blouwillem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.