Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oom Motto kon ou skoene nuwe lewe gee
Nolan Venter

Nugter alleen weet wat my aan die begin van hierdie nuwe jaar aan oom Motto laat dink. Dalkies is dit my voete wat hier aan die begin van my sestigste lewensjaar begin lol.

Oom Motto was my geboortedorp se enigste skoenmaker. Doer in die jare toe ek nog ’n nat-agter-die-ore-kaalvoetklonkie was. In die agterplaas van sy werf het hy ’n uiters winsgewende skoenmakerswinkeltjie bedryf. Sy wederhelf, antie Susan, het altyd op die voorstoep gesit. As soort van ’n ontvangsdame wat boek van die verslete skoene en hul eienaars gehou het.

Op egte Afrikaans het ons haar sommer antie Siesanna genoem. Daar sou sy al peinsend met haar kromsteelpyp in die mond sit en daaraan teug dat die dampe sommer so om haar kop draai. En dit nogal in ’n tyd toe dit nie juis hoogmode vir ’n vrou was om te rook nie.

Oom Motto, kan mens amper sê, is met ’n skoenlees en ’n els in sy hande gebore. ’n Verslete skoen wat hy onder hande gehad het, sou hou tot hy eendag uiteindelik op die ashoop beland. Vele verrinneweerde skoene het met sy skoenlees skouers geskuur en is later weer blinkgepoets by sy werkswinkel se deurtjie uit.

Wanneer oom Motto met sy skoene besig was, het hy altyd daardie ronde Mahatma Ghandi brilletjies gedra.

Wanneer oom Motto met sy skoene besig was, het hy altyd daardie ronde Mahatma Ghandi brilletjies gedra. So op die punt van sy neus. Behendig en noukeurig sou hy dan met sy skoenmakersels en gewakste skoengare aan ’n skoen stik. Sonder om een keer op te kyk. Om sy lyf het hy altyd so ’n vuil, morsige seilvoorskoot gedra. Oortrek van taai, romerige Bostik-smeersels. Aan die mure van die vertrek waarin hy gewerk het, het die reuk van skoensole en vars politoer gehang.

Die Bata Toughees van ons dorp se kloosternonne het gereeld onder sy hande deurgeloop. ’n Skoen is mos nes ’n motor se band – loop altyd aan die een kant af. Wanneer die nonne dus windskeef deur die klooster begin loop, moes die skoene vir ’n diens na oom Motto gaan.

Dan het oom Motto hulle reg gedokter en sommer ’n stelletjie ysterpunte vir die gewig van sommige van die lywige kloostersusters bygevoeg. Nou moet ek bysê dat oom Motto sy besigheid bedryf het in ’n tyd toe skoene nog ’n luuksheid was. Mens kon nou wel in daardie tyd ’n goeie paar trappers vir twee sjielings optel, maar in my tyd was dit baie geld. Instandhouding van skoene was dus nodig.

Daarom het oom Motto daagliks ’n magdom skoene versool. Nie met gewone skoensole nie, maar met sole wat hy uit ou motorbande met sy skoenmakersmes gesny het. Met so ’n paar versoolde skoene kon mens wie weet hoe lank oor berge en dale en selfs deur waterstrome loop.

So af en toe duik ek by daardie hokkies by groot winkelkomplekse in waar hulle sleutels sny en stukkende skoene herstel. Dis dán dat ek weer na oom Motto verlang. Sien ek hom weer langs sy lees sit. Met ’n skoen in die hand wat gaap soos ’n polisieman wat nagskof gewerk het. Net om dit later in die hande van nóg ’n tevrede klant te stop.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.