Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oom Saag se oorlogstorie dalk nie heeltemal die kool werd

Saterdae is ons vroegoggend by oom Saag se huisie, want dan kan ons koeimelk direk van die speen drink en daarna drom ons om hom saam vir sy raaisels, grappies en stories oor cowboys en crooks.

Met sy swart voorskoot sit hy agter sy werktafeltjie. Timmer.

Sny. Smeer die gare met die harpuis. Hy is deesdae ’n skoenmaker wat hom letterlik met sy lees besig hou. Maak die mooiste en duursaamste leerskoene en help uit waar hy kan.

Deonette Haggard

Ons weet oom Saag was in die Boereoorlog, want dis waar hy “die lood in my heup gevat het” en waarom hy op sy oudag met ’n kierie loop. En dis ook waar hy sy bynaam gekry het met sy saagspelery. Toe hy dus sê, “Oorlogstorie!” het almal blinkoog nadergeskuif en soos ’n klomp vinke begin kwetter en kruisbeen op die stoep voor hom gaan sit.

En oom Saag vat net daar voor.

“Dié oorlogsnag was pikgitdonker, koud en nat. Ons Boere was bo teen ’n koppie en die vyandelike Kakies was direk oorkant ons teen ’n ander koppie in die modder ingegrawe.

“Die gebied tussenin was baie rotsagtig en op hierdie maanlose onweersnag wou niemand dit uit hul skuilings waag nie. Ná middernag is daar ’n ongesonde gerammel van die Kakies se kant af. Verder grafstil. Nie eens ’n dieregeluid in die veld nie.

“Skielik weer ’n gerammel – nader en harder. ‘Dis seker maar die donderweer,’ mompel ons onderlangs en maak ons nog kleiner in ons moddergate.

“ ’n Harde donderslag dop ons uit ons gate uit en in die silwer bliksemstrale sien ons die vyand is op ons. Intussen is die hemelse sluise oop en ons kan niks, maar niks sien nie en saam met die reën, reën die koeëls. Voor ons kon sê ‘donnerwetter’ is die geveg aan die gang.

“Geweerskote klap, weer donder en bliksemstrale slaan om ons neer terwyl koeëls wild heen-en-weer vlieg. Ons vuur en hulle vuur en die koeëls brand slote deur hoed, haar en hemp en kets weg van die rotse om ons. Skielik is daar weer ’n onheilspellende gerammel en . . .”

Net toe verskyn ant Hes se stewige mosbolletjielyf in die voordeur. “Saag, hier’s jou purgasie,” sê sy en kom plant haar doelgerig voor oom Saag neer en hou ’n amperse soplepel na hom toe uit.

“Nee, Vrou!” keer oom Saag met sy hande in die lug en krimp nog kleiner weg in sy stoel. “Ek makeer mos niksie.

“En daai duiwelsdrek van jou het seker weer gemaalde muisbolletjies en vlermuiskoppe in.”

Hy loer na ons en knipoog ondeund. Ant Hes ruk haar ronde lyf nog meer regop en begin bewe soos ’n goed gesette jellie.

“Saag! Hiesô! Drink!”

En sy leun dreigend oor hom terwyl sy voete magteloos voor hom rondtrap. Sy kom weer regop.

“Jou laas nag se middernagtelike gemarcherycloset toe en terug gebeur nie gou weer nie.

“Ooeef . . .” en sy rek die woord langer uit as die alfabet en kyk betekenisvol na ons met haar uiloë agter die dik brilglase. “Of ek vertel vir die kjinners waar jy hierie simpel oorlogstorie gaan haal het.”

Oom Saag kry uiteindelik darem ’n woord in: “Maar, Vrou, dis alles jóú skuld. Jou spyskaart van gister wassie reggie.

“Mirragkos was kool saam met die vet skaapribbetjie en daai lippe-aflek-boontjiesop met varkspek gisteraand,” en hy smak sy lippe, “en . . .”

Oom Saag se mond is nog oop met die beskuldiging toe druk ant Hes die lepel met mening daarin.

En oom Saag sluk. Sy gesig krimp soos ’n gedroogde pruim en hy skud sy lyf en kop soos ’n nat hond.

Ant Hes draai om, ruk haar kop op, kyk na ons en sê verontwaardig: “Gmf! Die kammakastige Boere en Kakies waarvan hy praat is bone en kool. Dis nou vir jou ’n groot pot oorlogsop!”

En sy stoomroller neus in die lug die huis in. En net daar, met ’n “brrrr” oor sy lippe en ’n rilling wat deur sy lyf trek, eindig oom Saag sy storie.

Met die wysheid van die grysheid weet ek vandag die ruim opskep van bone en kool op een dag is soos om ’n elektriese broodrooster in ’n bad vol water te gooi. Dodelik.

* Haggard is ’n vryskutskrywer van Somerset-Oos.

Meer oor:  Deonette Haggard  |  Stories  |  Rubriek  |  Kool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.