Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oom Sonny se klanke sal my altyd bybly
Nolan Venter

Nugter weet alleen wat my vandag weer ná soveel jare aan Sonny Williams laat dink.

Oom Sonny was ’n frisgeboude Ingelsman met die mooiste blou oë. Doer donkiejare terug in my kinderdae. Hy was op my geboortedorp die ystersmid en het gewerk in ’n plek wat ’n mens aan die Bybelse vagevuur herinner het. Snikheet warm!

Op sy werf sou jy enige ysterskroot aantref. Van die bakke van oeroue lorries tot die kleinste bout en moer denkbaar. Oom Sonny was ’n baie vriendelike man. Min mense op my tuisdorp het nie van hom gehou nie.

Ek sien vandag nog in my verbeelding daardie groot gloeiende inferno van antrasiet wat van sonsopkoms tot sonsondergang sy werkswinkel verlig het. Geeneen kon ’n warm yster tot ’n perfekte gereedskapstuk smee soos hy nie.

Vele dae het die sweet hom afgetap in daardie kenmerkende seilvoorskoot wat hy altoos gedra het. Dan het selfs sy gelaat rooi gegloei. Nes die ysters wat daagliks in sy behendige hande ’n gedaanteverwisseling ondergaan het.

As laaitie was ek ’n gereelde besoeker aan sy praktyk. Want sien, oom Sonny het alles aangekoop.

As laaitie was ek ’n gereelde besoeker aan sy praktyk. Want sien, oom Sonny het alles aangekoop. Van ou motorbuitebande tot bene en ysters. As jy met daardie paar muntstukke in jou sak van hom wegstap, was jy verseker van ’n brood, pakkie viskrummels en miskien nog een van daai geblikte gaskoeldrankies van my tyd bekend as Groovy. Net die regte medisyne om ’n kind se hongerpyne hok te slaan.

Male sonder tal het ’n bobbejaanspanner, vice grip of ’n paar beitels uit oorle’ oupa se stoorkamertjie ook hul weg na oom Sonny gevind. Verkwansel vir ’n appel en ’n ei.

Nooit as te nimmer het hy gekibbel nie, maar altyd betaal. Later sou ek nog self vir oupa na sy verlore gereedskap help soek, wetende dat ek al die tyd die dief was.

So af en toe sou oom Sonny my vra om ’n bietjie hand te gee by die blaasbalk. Veral op dae wanneer hy ’n paar perde se hoefysters moes vervang. Dan het ek daai donkielong gepomp tot my asempie kort was en die sweet my aftap.

En kon oom Sonny liefderyk en met sorg met diere werk! Wanneer hy ’n perd se voor- of agterpoot met sy bene vasknyp, het hy altyd die verslete hoefyster sorgvuldig verwyder. Dan is sy vyl ingespan om die dier se hoef gelyk te skuur alvorens hy dit beslaan het.

Dis só jammer dat oom Sonny se beroep deesdae bykans uitgesterf het. Hoewel sy hamer en aambeeld jare reeds al êrens lê en roes vergader, sal die geluide van sy werkswinkel my bybly.

Veral die klank van ’n hamer op ’n bloedrooi yster wat hy altyd tot een of ander meesterstuk getimmer het. Dan was daar die bruisende geluid van ’n vuurwarm yster wat in ’n drom water gedoop is om dit af te koel. Met die gevolglike stoom wat soos ’n rookwolk opwaarts ontsnap.

Ja-nee, vele van my kinderdae se klanke en geluide het vir altyd stil geraak. Tog is die mense wat hulle in hul kundigheid voortgebring het vir ewig in my gedagtes vasgemessel.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Klanke  |  Sielsgoed  |  Oom Sonny  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.