Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oom Tienkie, die kampioenpampoen en ’n stryd met range

Oom Tienkie was ’n ander oompie, sê ek jou. ’n Liewe aardbolletjie van ’n mens wat lief was vir lekker gesels en met vrede en welbehae in die mens.

Maar mense met uniforms het hom heeltemal laat kop verloor, want hul range het hom baie moeilikheid met die praat saam gegee. Seg hy self: “Wanneer ek daai kolletjies en strepietjies op die uniforms sien, dink ek aan morsekode en dié verstaan ek nie ’n jota of tittel van nie.”

Vanoggend se voorval is weer ’n sprekende voorbeeld. So staan ek maar my staan soos elke oggend by my voorhek en bekyk die wêreld toe ek oom Tienkie in sy light delivery tussen die slaggate aangeskud sien kom. Deur die oop motorvenster skreeu hy: “Magtig, Boetman, klim in; ek is sleg omgefoeter.”

Ek probeer nog “môre” en so aan, maar die oom is soos ’n vulkaan wat uitbars – “ ’n Bleddie swerkater steel so wragtig laasnag my kampioenpampoen” – en verder gee hy vet die dorp in voordat ek nog die motordeur behoorlik agter my toe het.

Dis dus uit pure medelye en vir morele ondersteuning wat ek by hom in die bakkie spring, want ek wonder oor sy woede en ontnugtering wat hom so laat ontplof.

Oom Tienkie vertel nou aldag en heeldag die afgelope twee jaar al vir almal wat wil en nie wil hoor nie dieselfde storie.

“Ek sê vedag vir julle ek gaan nog eendag ’n bul van ’n pampoen hier in my tuintjie kweek.

“En dan is dit skou en Landbouweekblad toe met hom.”

So skud-skud ons die dorp in.

En oom Tienkie praat.

“Nee, Boetman, daar’s mos baie ander pampoene wat hulle kan steel, maar waaragtig, hulle vat my skoupampoen.”

Om die eerste draai val ek links om teen die deur vas, maar om die tweede een kan ek myself redelik regop hou terwyl ek flertsies hoor: “As ek daai @&% in die hande kry . . .” Dis duidelik dat hierdie parmantige dief gejag moet word terwyl die afskuwelike daad nog warm is.

Hoe meer oom Tienkie borrel hoe warmer en kwater raak hy en die hande is meer in die lug as op die stuurwiel en ek knyp by elke stopstraat, want dié ignoreer hy. En ek hoor net “ . . . charge office toe, want hierdie . . . (en hier donder en bliksem dit uit die weer)” om die diewe te beskryf.

Ons rol die laaste bult af en ek probeer nog ’n flou waarskuwinkie – “Moet oom Tienkie nie liewer . . .?” toe klap my kop al teen die voorruit soos ons in ’n stofwolk voor die polisiekantoor tot stilstand ruk.

Rooi in die gesig en opgewerk van frustrasie en kragwoorde rondslinger kom oom Tienkie half uitasem voor ’n uniform tot stilstand.

Dis inderwaarheid kapt. Jansen wat ons vriendelik groet. “Ja, môre, meneer, ek kom net vir julle sê dat julle die diewens moet vang wat gisteraand my kampioenpampoen gesteel het. Hoe gouer hoe beter.

“Die hoi polloi-gemors gaan nie my harde werk opvreet nie, sê ek jou, sersant.”

Kapt. Jansen haal rustig sy pen uit sy sak en probeer die nodige vrae vra om die saak oop te maak. Nie ’n maklike taak met oom Tienkie wat steeds woorde soos warm krale uitspoeg oor die onding wat hom aangedoen is nie. “Ek sê jou, majoor, kry ek hom in die hande draai ek sy nek om.”

Uiteindelik teken oom Tienkie die papiere en hy bedaar effe toe hy verseker word dat alles moontlik gedoen sal word om die kwaaddoener te vang en agter tralies te kry.

“Baie dankie, luitenant, ek waardeer regtig julle moeite en ek weet julle doen goeie werk.”

En net daar verander hy van rat. “Ai, foeitog, en nou het julle nog die moeilikheid met Koos Vuiste se suiplapbroer?”

Deonette Haggard

Nee, skud kapt. Jansen sy kop. “Wel, luitenant, ek hoop darem julle gaan help met sy saak, want hy sukkel ok maar.”

Kapt. Jansen probeer ’n woord inkry, maar toe trek oom Tienkie weer weg met: “Kaptein, julle ondersoek darem seker die saak vannie inbraak by Johnnie se bottelstoor, of hoe?”

Weer kopskud van nee van die uniform se kant.

“Wat seg jy my nou? Julle weet ook nie daarvan nie, konstabel?” Oom Tienkie kyk hom ongelowig aan terwyl hy sy hoed opsit. “Jinne, en hier dog ek julle weet baie vannie kriminele oppie dorp.

“Nou ja, dan groet ek maar, generaal.” En met dié lig hy sy hoed. “Julle weet nou van my pampoen, gehoor? En ek hoop jy trap die skelms se vuil pote gou vas. Baie dankie, dan weer, generaal, gaan je wel.”

Terug in die bakkie kry oom Tienkie woorde vir sy ongelowige verwondering. “Boetman, nou weet hulle van my pampoen, maar jinne, weet jy, vir ’n generaal weet daai outjie darem nou net mooi blou boggherol.”

  • Haggard is ’n vryskutskrywer van Somerset-Oos.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.