Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oor ape wat nie weet hulle dra goue ring

Al dra ’n aap ’n goue ring, hy is en bly ’n lelike ding.

Spreekwoorde soos dié verkondig altyd een of ander waarheid of lewensles wat so ongeveer universeel geldend is. Hoe so? Want dit word baseer op waarnemings en stereotipes wat ’n groot deel van die gemeenskap ken en herken, juis omdat dit so ’n algemene verskynsel is.

Gerhard van Huyssteen

Byvoorbeeld, ons almal ken een of ander An-ghela in Sandton wat eintlik maar ’n doodgewone Engela van Makwassie is. Sy’t ’n tweetal onderskeidings in matriek behaal en haar toe in die Groot Stad as een of ander prokureur of binnenshuise ontwerper loop kwalifiseer. En nou is sy verhewe bo Makwassie.

Sy is o so hip en verlig en vertel graag hoe sy en haar Gay Vriend weer die afgelope Saterdag geshop het tot sy drop. In liberale geselskappe verwys sy ook gragies na haar Black Friends, ofskoon foto’s van hulle op haar art deco-skoorsteenmantelrak ontbreek.

Sy is ’n aap met ’n goue ring.

Want vanaand in haar binnekamer, as sy en Manlief half formeel en deur-die-jare-verwyderd in die bed klim ná nog ’n suksesvolle aand waar hulle gemaak guitig met dié mengelmoes van mense moes meng, hang haar Makwassie-

onderrok enkellengte onder haar nagkabaai uit.

“Og, ek kan nie gló Wimpie en Jean het ons na hulle troue toe genooi nie! Hoe gaan ons nou weer uit dié ene kom? Ons verskonings raak op.”

Want sien, Anghela se hipgeit en verligtgeit strek net so ver.

Sy is o so hip en verlig en vertel graag hoe sy en haar Gay Vriend weer ge-shop het tot sy drop.

Dis ’n gil as sy saam met Wimpie kan gaan shop, of as Jean gratis en op humoristiese wyse huis-en-tuinwenke uitdeel. Watwo sy haar seën oor ’n “moffietroue” sal uitspreek, want “die Bybel sê immers . . .” Lank vergete is hoe sy vroeër vanaand, toe sy deftig en intelligent met die Sandtonse Elite gekoketteer het, ten minste drie keer onbybels was.

Die haan kraai drie maal skaam, want ’n aap kan nie haar aapgeit wegsteek nie, selfs al dra sy ’n goue ring.

Terug na die taalkunde: Aangesien spreekwoorde dikwels metafories en beeldend is, kan ’n mens op die beeld voortborduur om dieper insig in die menslike aard en toestand te kry.

Uiteindelik gaan dit tog nie oor die feit dat jy ’n aap is nie, nie waar nie?

Liewe aarde, die meeste mense in my kenniskring – ekke ingesluit! – is meer aap en minder mens. Ek kom ook van ’n Makwassieplek af, het ook maar in die Groot Stad gaan studeer. Dat ek ook maar net soos Anghela/Engela niks anders as ’n aangeklede aap is nie, is gewoon nie weg te redeneer nie.

Maar dit gaan oor die ring, o wee, die ring.

Die aap wat nie wéét sy dra ’n goue ring nie, daai aap is ’n geváárlike ding.

  • Gerhard van Huyssteen is ’n taalkundige aan die Noordwes-Universiteit. (gerhard.vanhuyssteen@ nwu.ac.za).
Meer oor:  Spreekwoorde  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.