Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oor hoe om grawe en gliewe te organiseer
Gerhard van Huyssteen

Vroeër vandeesweek kom klop dr. Frikkie Lombard, die eindredakteur van die Buro van die WAT oor wie ek dit verlede week in hierdie rubriek had, by my, Tom McLachlan en prof. Ernst Kotzé (albei ­oudvoorsitters van die Taalkommissie) om raad en ad- vies aan. Die trefwoord spelling moet tans by die WAT ­behoorlik saamgestel en bewerk word. (Onthou, die ­WAT-mense werk dat die salpeter op hul flanke uitslaan om die letter “s” binnekort af te handel.)

Die eerste konsepdefinisie by spelling staan so: “Manier waarop die woorde van taal of ’n taal deur letters en diakritiese tekens voorgestel word.”

Fraai, tog?

Kyk, as jy nou nog nooit ’n klomp slimmige woordeboekmakers en bleeksielige akademici in aksie gesien het nie, sal jy nie weet dat daar nie sommer dadelik eenstemmigheid sal wees nie.

Elke liewe woord word beproe, herkou en uiteindelik ingesluk of uitgespoeg: Vir dié een werk “taal of ’n taal” nie, daai ene wonder oor “letters en diakritiese”. En só kluif ons 11 e-posboodskappe lank.

Een kernkwessie waaroor uitsluitsel gekry moet word, is oor waar spelling in die breë prentjie van taal pas. Tradisioneel word spelling nie gesien as taal nie: Dis iets arbitrêrs wat deur ’n klomp gryskoppe in ’n stowwerige ivoortoring uitgedink word. Maar moderner mense dink daar anders oor.

Só gesien is die ortografie van ’n taal nie net die manier waarop geskryf word nie, maar óók die manier waarop korrek geskryf word

Soos die taal wat in jou kop is, kan uitkom as gesproke klanke, net so kan dit uitkom in geskrewe tekentjies (ook bekend as gliewe, soos in hiërogliewe, waar daardie “hiëro-“ verwys na “heilig”; hiërogliewe is dus letterlik “heilige skrifteken”). En elke taal het ’n eie, unieke manier hoe hierdie klanke en tekens ingespan word om die betekenisse en bedoelings in jou kop oor te dra.

Die konvensies van hoe grawe (grofweg letters, diakritiese tekens en simbole) georganiseer word in ’n spesifieke taal, word gewoonlik in ’n taal se spelreëls (oftewel ortografie) weergegee.

Die WAT definieer ortografie as die “stel konvensies om in ’n taal te kan skryf, wat insluit spellingnorme, beginsels oor skryfwyse, die gebruik van koppeltekens en hoofletters, die afbreek van woorde, klem en punktuasie”, maar ook die “juiste, korrekte spelling volgens aanvaarde of gevestigde gebruik”. (Ek beskou wel “die gebruik van koppeltekens en hoofletters” as ’n onderdeel van skryfwyse, net soos los of vas skryf ook daaronder hoort.)

Só gesien is die ortografie van ’n taal nie net die manier waarop geskryf word nie, maar óók die manier waarop korrek geskryf word.

Die woord “ortografie” kom immers uit die Griekse orthos, wat “korrek” beteken (soos ook in “ortodontis” en “ortopeed” – hulle maak onderskeidelik jou tande en voete “korrek”), plus die wortel van graphein, wat “om te skryf” beteken.

Spelling hoort dus tuis onder die ortografie van ’n spesifieke taal (nie taal in die algemeen nie). En met die res van die inligting in pag, herformuleer Frikkie ’n voorlopige defini-sie:

spelling: Manier waarop woorde van ’n taal gespel en sodanige woorde deur letters en diakritiese tekens voorgestel word.

En wat beteken “gespel” in die definisie? Voorlopig staan in die WAT by spel: “Die letters van ’n woord een vir een in volgorde sê, skryf of op ’n ander manier weergee.”

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Moedertaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.