
Fred Pheiffer
Einde 2020 verskyn Bitterkomix se 18de uitgawe, opgedra aan Ryk Hattingh. Sy dramatiese monoloog “Eensnaar” wat in 2001 opgevoer is, word hierin herdruk.
Hattingh was joernalis by Vrye Weekblad en die eerste redakteur van die Afrikaanse prikkelblad Loslyf. Ná ’n aanslag op sy gesin emigreer hulle in 1997 Nieu-Seeland toe. Huilboek, sy bekroonde outobiografiese novelle, verskyn in 2016, ’n jaar voor sy ontydige dood.
Bitterkomix word in 1992 deur die grafiese kunstenaars Anton Kannemeyer en Conrad Botes gestig. Dis vanuit die staanspoor omstrede vanweë sy satiriese aanslag op veral die skynheiligheid van die Afrikaner-establishment. Die ruim skote erotiek help dié omstredenheid bepaald aan.
Kannemeyer en Botes teken die meeste van die strokies self. Later kom kunstenaars soos Lorcan White, Paddy Bouma, Karlien de Villiers en Ina van Zyl by.
In 2000 werk Hattingh en Botes saam aan die grafiese roman Die Foster Bende, ’n tragiese misdaadstorie uit die vroeë Johannesburg.
Hattingh loop al ’n entjie met Bitterkomix saam. Met Botes as tekenaar skryf hy stories soos “My pa se geweer” (BK 10, 2000) en “Die kabbalis” (BK 11, 2001). “Vlugvoos”, ’n kortverhaal in BK 17 (2016), is opgedra aan Tienie du Plessis, met wie Hattingh in 1994 die uitgewerytjie Hond stig, wat vir Breyten, Koos Prinsloo en Antjie Krog uitgee.
In 2000 werk Hattingh en Botes saam aan die grafiese roman Die Foster Bende, ’n tragiese misdaadstorie uit die vroeë Johannesburg. In ’n subplot oor die titelverhaal se ontstaan, tree Hattingh en Botes bowendien as hedendaagse karakters Hitchcock (Ryk se derde naam) en Frikkie op.
Blik Snyman is Hattingh se alter ego wat sedert 2001 gereeld in Bitterkomix opduik – bebaard met pyp, langbroek en skoene, hemploos, strawwe drinker en strepiesnuiwer, geen blad voor sy mond nie. Medefuiwers Uys (Kannemeyer) en Buys (White) hou selde kers vas.
In “Eensnaar” kry Hattingh ’n oproep uit Suid-Afrika om iets oor Leipoldt te skryf. Toevallig ontdek hy in ’n Leipoldt-kookboek ’n resep vir tong wat hy vir sy mede-uitgewekenes as iets eg Suid-Afrikaanse wil voorberei, maar die tong moet vars wees.
In Leipoldt se eerste gedigte beween hy die lyding van die konsentrasiekampslagoffers en skryf intens oor die wroeging van ’n Boereverraaier.
Vervolgens neem hy sy toevlug tot sy slampamperliedjies en natuurgedigte. Daarom is dit ironies dat die onheil juis in ’n natuurgedig skuil: “Die koperkapel kom uit sy gat [ . . .] / Maar die geitjie piep: ‘Dis glad nie reën! / Dis klewerig, swart en rooi [ . . .]’ / En die wyse steenuil waag sy woord: ‘Dis bloed, dis mensebloed!’ ”
Hattingh meen Leipoldt het besef dat soos ons in die Boereoorlog verniel en verneder is, so begin ons ook sistematies verniel en verneder. Hy erger hom daaroor dat Afrikaners deur hul bourgeois-leefstyl – niks het verander nie en als is wonderlik – die toekoms van Afrikaans in die oë van ons medeburgers bedreig.
- Pheiffer is ’n mederedakteur van die WAT.