Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oorbevolking erger as skurke
Johan van Wyk

Soos die hardhorende oudstryder wat op ’n herdenking van die Anglo-Boereoorlog “hulde aan die helde van Spioenkop” as “te hel met die spietkops” verstaan het, sal ons dit nie langer kan sê as die nuwe Aarto-strafstelsel, om die slagting op Suid-Afrika se paaie te probeer beëindig, deurgevoer word nie.

Dit kan gerus ook staan vir “Asseblief, Arme Ramaphosa, Tree Op” – nie net teen roekelose padvarke nie, maar ook teen die skurke in jou boesem wat Suid-Afrika dag ná dag opmors.

Maar daar is hoop. Jy kan Suid-Afrika steeds aan jou bors koester. Dis wat ’n boek pas vir my gedoen het.

Een van die voordele daarvan om 80 jaar oud te word, is dat vriende en familie jou baie beter geskenke gee as toe jy jonk was, omdat jou tydjie kort raak. Niemand het my byvoorbeeld groen piesangs gegee nie.

Wat ek wel gekry het, buiten ’n skaapboud uit die Overberg, ’n kabeljou uit Hentiesbaai, ’n fantastiese vrugtekoek so groot soos twee bakstene uit Malmesbury, biltong, goeie whisky, wyn, dadelgevulde sjokolade uit Dubai, Spaanse ham uit Madrid, ’n afval uit die Swartland, droëwors, biltong en ’n valhelm om my oorblywende breinselle te beskerm, was Karel Tomeï se koffietafelboek Flying over South Africa. Dis ’n meneer van 420 bladsye met lugfoto’s van die skoonheid van Suid-Afrika wat jou asem wegslaan.

Die woord probleem bestaan mos nie meer nie, alles is nou ’n uitdaging.

Ek kyk sedertdien met nuwe oë na ons wye, droewe land. Maar nie sonder ’n beklemming dat dit verlore kan gaan weens wat ons almal weet die kernoorsaak van Suid-Afrika, inderdaad die ganse wêreld, se groeiende probleme is nie – vernietigende oorbevolking.

Daar sal seker naïewe idealiste wees wat sê dis nie ’n probleem nie, maar ’n “uitdaging”. Die woord probleem bestaan mos nie meer nie, alles is nou ’n uitdaging. Wat natuurlik snert is. ’n Probleem is ’n probleem, uit en gedaan.

Wie sal ontken dat, tensy dit spoedig onder beheer gebring word, oorbevolking Suid-Afrika en sy nog plek-plek wonderbaarlike natuurlike skoonheid en verskeidenheid uiteindelik sal vernietig? Dat dit nie openlik erken word nie, maar inderdaad soos met ’n familieskandaal weggesteek word asof dit nie bestaan nie, verstom my.

Debatte en eindelose gesprekke wat na nêrens lei, word deur geleerde mense in die media gevoer oor aardverwarming, klimaatsverandering en besoedeling, maar nie ’n woord word gerep oor die oorsaak daarvan nie – skrikwekkende oorbevolking. Is hulle bang om dit te sê?

Maar terug na die Aarto-strafstelsel. Al wat daarin kortkom, is die vraag: Wat is die belangrikste padreël in Suid-Afrika?

Toe ek dit nie kon antwoord om op 16 uit te “paas” nie, het die munisipale “clerk of works” op Calvinia my gefail. Dis hoekom ek dit nooit sal vergeet nie: Hou links!

Roekelose padvarke wat dit nie weet nie, behoort hoogstens toegelaat te word om ’n kruiwa te bestuur.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Menings  |  Aarto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.