Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oorweeg die ander logika van jou geloof
Wilhelm Jordaan
Wilhelm Jordaan

In gesprekke oor geloof gebeur dit gereeld dat mense “absolute” stellings maak. Soos: “In mý Bybel word selfdegeslagverhoudings afgekeur; in mý Here se oë is dit of dat sonde; Jesus het letterlik uit die dood opgestaan (die graf was leeg), óf hy het nie; jy dien die Here óf jy dien hom nie; ’n mens is óf gelowig óf nie.”

Wie só praat, gebruik onwetend ’n soort Aristoteliaanse logika; die “wet van geen weerspreking” wat lui: Niks kan tegelyk A en nie-A wees nie. Daarvolgens is dit byvoorbeeld onlogies om gelyktydig ongeloof en geloof te bely. Op die oog af klink dit reg. Maar iets is nie pluis nie.

Verby strak logika is daar ook ’n dialektiese logika wat daarop gerig is om die middelterrein tussen opponerende standpunte te verken. Om met die oë van “én-én” eerder as “óf-óf” na geloofsvrae te kyk. Soos die teoloog Marcus Borg dit doen as hy praat van geloof as ’n voortgaande gesprek eerder as ’n vaste, onveranderlike “posisie”.

Bewustheid van dié “grys landskap” beteken die verrekening van “ander” geloofsmoontlikhede.

Dít is in teenstelling met diegene vir wie onsekerheid, twyfel oor en die bevraagtekening van tradisionele geloofsopvattings en -uitings ’n sondige ondeug is. Dit is juis húlle wat die onversetlike wet van geen weerspreking aanwend.

Dit word dan dikwels ook ’n manier van dink oor omtrent alle lewensdinge; toegeklamp in die netjiese kategorieë van swart of wit sonder ’n bewussyn van die skitterende grys landskap tussen-in. Bewustheid van dié “grys landskap” beteken die verrekening van “ander” geloofsmoontlikhede.

Byvoorbeeld: Die tradisionele Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Artikels) is vir sommige mense problematies. Om dit met oortuiging woord vir woord na te sê, soos die gebruik in ’n erediens is, is vir hulle moeilik.

Maar dialektiese logika laat ’n ander “lesing” toe. Enersyds: Dié belydenis roer my en roep die verlange na God in my wakker. Dit is die geloofspad waarlangs die kerkvaders geloof eeue gelede begryp het en waarlangs ek ook van kindsdae af gekom het. Ek kan my daarin verbly as ’n kosbare tradisie waarsonder ek nie wil wees nie.

Andersyds, en terselfdertyd: Ek glo die geheimenis van God en Christus is ontvouend en dit laat my toe om dit wat vir my vreemd geword het, in te klee met eerbiedige verwonderingstaal wat ook die mistiek van geloof toelaat.

Soos die digter Sheila Cussons dit doen in “Die sagte sprong”: “Dit kom wanneer dit nie verwag / word nie: ’n aanraking van die verstand / lig soos ’n veer, vlugtig maar presies . . . / iets wat die bewussyn tot / in die lewe tref, iets soos ’n sagte sprong / – vreugde, verbasing, vreugde, herkenning: . . .”

Waarmee ’n struikelende, twyfelende, spartelende, soekende mens in die woorde van die pa van ’n maansieke kind, soos dit in die Bybel aangeteken staan, kan uitroep: “Here, ek glo. Help my in my ongeloof.”

Juis dít wat die katolieke teoloog Hans Küng in Latyn simul fidelis et incredulus noem: Om tegelyk te glo en nie te glo nie . . .

  • Jordaan is ’n emeritus professor in sielkunde.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Kerk  |  Oortuigings  |  Godsdiens  |  Geloof  |  God
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.