Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op 53 glo ek die eerste keer in Kersvader
Charles Smith

Die eerste keer toe ek Willie Keogh (65) op straat gesien het, was op Kersdag verlede jaar. Hy het ’n Kersvader-pak aangehad en met sy lang, wit baard het hy soos die ware Jakob gelyk.

Maar dit was eers ’n goeie sewe maande later wat ek by Bloemfontein se bekendste boemelaar op die hoek van Brillstraat en Tweede Laan gestop en hom ’n koeldrank op ’n bloedige warm dag aangebied het. Dis toe hy sy van sê, dat ’n liggie aangaan.

Ek en Willie kom van dieselfde dorp af. Ons was albei in die Hoërskool Rouxville op skool. Sy pa en oom was bekende bouers op die dorp. Dinge het begin skeef loop vir hom nadat hy op die Spoorweë afgelê is en ná ’n slegte egskeiding het hy op straat beland.

Ek het Willie se storie en foto op Facebook geplaas en só is hy met baie van sy klas- en skoolmaats herenig. Ek was geskok toe ek hom ’n ruk gelede sien en hy vertel hoe hy aangeval, met ’n baksteen teen die kop geslaan en met ’n mes in die hand gesteek is. Maar ek het vir hom nuus gehad. Hy word gesoek om Kersvader in ’n sentrum in Rustenburg te gaan wees. Willie kon ’n tydjie van die straat af kom.

’n Ma vertel aan my hoe sy gebid het haar dogter, wat ’n alkoholis was en op straat gebly het, is liewer dood.

Maar dit was ver, en sy mense sou hom mis hier in Brill­straat, Westdene, waar hy al die motoriste vriendelik groet.

Nadat ek met die Marleen Smith-projek begin het om bewustheid rondom depressie te kweek, het ek van baie mense om my se pyn gehoor. ’n Bekende en gerespekteerde akademikus se seun is ook ’n boemelaar. ’n Ma vertel aan my hoe sy gebid het haar dogter, wat ’n alkoholis was en op straat gebly het, is liewer dood. Maar vandag is sy gered en lei ’n normale lewe.

Die week whatsapp Meisie K (15) my, die een wat weggeloop het uit die skool omdat sy geboelie is en deur ’n polisiebeampte uitgebuit is. Haar lewe is darem weer op koers.

“Ek het in ’n oomblik besef dat ek ’n tweede kans gekry het. Ek gaan almal om verskoning vra wat ek seergemaak het. Oom, ek’t besluit om die moeilikste besluit te neem en dit is om my pa te vergewe,” skryf sy oor haar alkoholis-pa wat hulle verwerp het.

“Hello deda,” skryf sy. “Ek het gister besluit ek wil volgende jaar op ’n skoon bladsy begin. Ek het deda vergewe en ek hoop deda kan my vergewe. Ek wil van my verlede vergeet en ek wil fokus op my toekoms . . .”

’n Kind wat deur trauma is, leer op 15 die grootste les van die lewe: Om vrede te maak en jou toekoms in jou hande te neem. Vir eers het die droogte, die hitte, ons stad wat weens die kaders onder Ace se plundering sonder krag en water gaan wees, nie soveel saak gemaak nie. Haar boodskap het my lank stil gehad.

Gister bel Willie. Hy wil net sê hy is aangestel as Kersvader in ’n sentrum in Bloemfontein teen R500 ’n dag en ’n plek in ’n gastehuis. Die lewe lyk skielik weer goed, sê hy.

Inderdaad. Op 53 glo ek ook in Kersvader.

Meer oor:  Charles Smith  |  Alkoholisme  |  Kersvader  |  Depressie  |  Hulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.