Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op die trein na Pretoria . . .

Op die trein na ’n bekende vreemde plek het Jo Prins gewonder oor die taal wat digters praat.

Jo Prins

Op pad terug huis toe met ’n trein van Pretoria kom sit daar ’n paar dinge in my kop.

As Johannesburger gaan die ironie van dié heen-en-weer op die Gautrein my glad nie verby nie, want ek staan hierdie semester in as dosent in Afrikaanse poësie vir eerstejaars by die Universiteit van Pretoria.

Met die landskap wat venstergrootte-blokke verby ’n mens flits en die derduisende mense wat dié pendel soos skaaptroppe daagliks in hul motors aandurf, dink ek aan die alliterasie: “op pad na Pretoria”, “huis toe met ’n trein . . . ”

En die tik-’n-tik ’n tik-tik van die wiele oor die laste van die spore . . . en die tik ’n tik-tik van vingers op ’n skootrekenaar se keyboard.

Wat sou tog die funksie van dit als wees? Hoekom moet ’n mens hoegenaamd kyk hoe jy na ’n teks kyk? ’n Stap terug neem en kyk hoe jy na die lewe kyk?

In haar gedig “visioen van ’n lessenaar” uit die bundel Otters in bronslaai sê Antjie Krog sy skryf omdat sy woedend is.

Dié heerlike metapoëtiese gedig – ’n gedig dus wat oor die skryf van poësie gaan – is ’n perfekte pasmaat om studente deur hul passies te neem.

Hoekom kan digters nie net dinge op ’n gewone manier stel nie?

“Die lessenaar is warm en bloederig soos ’n pas geslagte karkas; uit die laaie drup deurskynende sinoviale vog,” skryf Krog.

Sy skryf hoe haar hand val op die wit asem van die bladsy soos ’n dier met blink haartjies op die rugkant.

“Die pen word ’n sagte harige nikotienbruin vinger.”

Hoekom kan digters nie net dinge op ’n gewone manier stel nie? Hoekom sê Krog nie net “hier sit ek nou en skryf dié vers” nie?

Die taal van gedigte

Om anders na taal te kyk en hoe ons taal inspan, moet jy dikwels so ’n klein bietjie buite jou gemaksone beweeg, so ’n klein bietjie uitgedaag word om te dink: hel, wat op aarde sê dié vrou tog hier?! En hoekom sê sy wat sy sê?

Vir veral die vrouestudente is Krog natuurlik ’n perfekte digter om aan blootgestel te word op eerstejaarsvlak, want sy skryf teen ’n oorheersende manlikheid in, téén ’n bestel wat ons tot dusver op soveel vlakke in die steek gelaat het.

Terloops, in een van die drie klasse wat ek aanbied tussen sowat 20 vroue, is daar net een enkele man. Sê dit iets van hoe dié jong vroue verkies om hul realiteit te vertaal teenoor hul manlike eweknieë?

Ek vra dikwels vir studente, so op ’n ken-mekaar-agtige manier en om die water bietjie te toets: Hoekom neem julle poësie?

As ’n mens nie iets eenvoudigs soos ’n gedig kan interpreteer nie, watter ander abstraksies van die lewe gaan jou verby?

Dan val daar ’n glasogige skynsel oor die see van mense in die vertrek voor my, jy kan eintlik sien hoe die “ek moet hier wees vir die krediete” geformuleer word.

Só is dit wel, sê ek vir ’n besondere blinkoog regstudent, jy móét hier wees as deel van jou kursus, maar uiteindelik gaan dit oor taal en jy wil tog in staat wees om in ’n hof taal op ’n sinvolle manier aan te wend om ’n saak te wen?

Om afleidings uit ’n teks te maak en dit dan oortuigend te formuleer en te motiveer, dis wat ons hier moet aanpak. Maar ’n mens het sekere instrumente nodig, sekere vaardighede.

As ’n mens nie iets eenvoudig soos ’n gedig kan interpreteer nie, watter ander abstraksies van die lewe gaan jou verby?

Maar mnr. Blinkoog verras my. Hy’s goed voorbereid (hy’t die voorafvideo’s wat hulle moes kyk deeglik deurgewerk) en hy kyk met ’n heel gawe en goeie aanvoeling na van die procedés in die vers.

’n Bekende vreemde plek

Op die trein ná Pretoria (ja, ja, die Briels ís daar in die agtergrond) wonder ek wat nóg by ons verblyfits in hierdie gelapte land en hoe iets eenvoudigs soos behoorlike openbare vervoer ’n reuse-impak op geletterdheid het.

Om my sit nie ’n enkele mens sonder ’n toestel voor hulle oop of met nota’s nie – almal aan’t lees. In die sowat 40 minute wat dié pendel my neem, kon ek my aantekeninge vir die klas ’n laaste keer weer behoorlik deurlees.

En aan die anderkant klim jy padwoedeloos uit, koop in die loop ’n koffie en pak die heerlike oggendstappie na die Hatfield-kampus aan.

Maar ná sowat 20 jaar in Johannesburg is die Jakarandastad vir my ’n vreemde plek en tog, op ’n manier, ’n bekende vreemde plek.

Dis in Pretoria waar ek 50 jaar gelede my eerste lewenslig aanskou het, by Universiteitsoord.

Dis hier waar my pa my tweede naam amper “Taaibos” gemaak het, want hy was huisvader van dié manskoshuis (die moeder het gesê oor haar dooie liggaam).

Maar ná sowat 20 jaar in Johannesburg is die Jakarandastad vir my ’n vreemde plek en tog, op ’n manier, ’n bekende vreemde plek.

En tussen die twee dartel ’n trein wat onbeskaamd hoopvol en flikkerend flits.

* Jo Prins is ’n vryskut-joernalis van Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Gautrein  |  Antjie Krog  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Poësie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.