Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op Jan Taks se rug ’n parvenu
Hein Willemse

Die speelgoed van die parvenu’s. Dié frase het onwillekeurig by my opgekom toe ek verlede week ’n klomp prentjies op sosiale media en in die media te siene gekry het. Ek moes myself onmiddellik betig, want “parvenu” dui op ’n klasvooroordeel.

Miskien moet ’n mens wag om te sien wat die uiteinde van die inhegtenisnemings is voordat ’n oordeel uitgespreek word, het ek gedink. Dikwels gebruik ’n elite- of opperklas die woord om ’n aankomeling uit ’n onderstand op sy plek te sit. Die stereotipiese uitsprake is bekend: “Het nie klas nie”; “Is nie gesofistikeerd nie”; en “Geld sonder kultuur”.

Toe kyk ek weer na die prentjies van praal sonder perke. Motorhuise wat inderwaarheid in vertoonkamers ontaard het, met een eienaar se tientalle luukse motors wat g’n mens sekerlik in ’n leeftyd behoorlik kan benut nie.

Saam met dié uitspattigheid word foto’s van imposante paleise aangebied waarvan die sentrale funksie nie verblyf is nie, maar tentoonstelling. Al wat ek kon uitkry, is “oordaad, die allerverskriklikste oordaad”.

Dit is nie die eerste keer dat Suid-Afrika sulke oordaad sien nie. N.P. van Wyk Louw het in sy gedig “Nuusberigte 1956” uit Tristia (1962) geskryf: “Afrikaners in aansienlike posisies / húlle het nou wat hulle noem ‘gracious living’: / – mooi woorde, van die veroweraar geleer – / selfs vertáál in goeie Afrikaans sal dit nie baat nie / want ‘gracious’ beteken ‘vol genade’ én ‘met grasie’ ”.

“Verraad” – ’n hele verloop, ’n omvattende geheel, is in die woord opgesluit.

Soos in Louw se tyd dui “gracious” vandag ook op totaal iets anders. Sou die nasionale vervolgingsgesag (NVG) bewys dat die geld wat die karre, paleise en plase gekoop het, wel bedoel was vir maatskaplike dienste, kan ek aan geen ander woorde as “verraad” dink nie. Die korruptes het dan op die belastingbetaler se rug parvenu’s geword.

“Verraad” – ’n hele verloop, ’n omvattende geheel, is in die woord opgesluit.

Verraad verwring ’n verlede. Verhoudings wat met moeite gekoester en in stand gehou is, word eensklaps vernietig. Ook in ons huidige tydsgewrig word ons vertroue geskend sodat alle verhoudings met die staat met agterdog bejeën word.

Wat van die toekoms? Ons kweek skeptisisme en sinisme wat niks goed verwag van ons landsbestuur nie. Daarmee saam word hoop op ’n werklik beter toekoms vir almal vernietig. Dan is dit net ’n stappie weg van die oortuiging dat die regering in al sy vorme uit ’n spul gewetenlose rampokkers bestaan wat geensins tot ons algemene welsyn kan bydra nie.

Maar die arrestasies is net die begin.

Ongelukkig is dit ’n insig wat ons, die gewone burgers, die laaste tyd toenemend hoor. Daarom is die arrestasies van die vermeende oortreders belangrik. Ons het lank gewag vir tekens van daadwerklike optrede.

Maar die arrestasies is net die begin. Ons wag vir die skuldigbevindings. Dit is nie net enkelinge wat nou in die beskuldigdebank staan nie. Die ANC as organisasie en regering staan ook daar. Die verrotting is nie maar net bolangs nie, dit het deurgepriem tot in sy kern.

Laat die verraaiers van ons drome uitgewerp word. Dante in sy Divina Commedia (1320) bied vir landsverraaiers ’n hel van ewigdurende ysigheid aan: “A thousand doggish faces then I scanned, / their teeth so bared by cold, I shudder still / whenever I approach a frozen pond. /… / my body shivering in the eternal chill.” (“Inferno”, Canto 32 in Ciaran Carson se vertaling.) In plaas van vuur, is Dante se hel die ene ys en koudheid, ’n uitgeworpenheid sonder die hitte van samesyn.

Want as ons nie die verrotting uitsny nie, sal Louw se woorde profeties word: “hulle gaan mishoop word, / en óns almal saamsleep …”

  • Willemse is professor in letterkunde en literêre teorie in die Universiteit van Pretoria se departement Afrikaans.
Meer oor:  Hein Willemse  |  Motors  |  Belasting  |  Speelgoed  |  Jan Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.