Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op julle merke, gereed en . . . gaan voluit!

Ons ry die naweek deur die dorp om van die inperkings te ontsnap. Oral is kinders besig met sport. In een van die min breë strate speel kinders krieket met twee vullisdromme as die paaltjies. In ’n nou straat hardloop kinders aflos met ou waterbottels as aflosstokke. Die wenpaal is ’n tou tussen twee lamppale. Op ’n stuk veld word sokker gespeel met ’n rugbybal. Hulle is terdeë bewus dat kontaksport soos rugby verbode is.

Kinders kan met oplossings vorendag kom wanneer volwassenes tob oor nietighede. Dit laat my terugdink aan die Boland Skolesportunie en my beginjare as onderwyser. Ek en my vrou – toe nog ongetroud – was altyd in Rooihuis. Ek het ’n kenteken vir Rooihuis ontwerp en dit afgedruk op “afvalmateriaal” uit haar naaldwerkklas. Sy het die mooiste vlag vir Rooihuis gemaak.

Die kleuresport­byeenkoms was ’n hoogtepunt op die skoolkalender. Daar is weke vooraf geoefen. In die liggaamsopvoeding-periodes het seuns onder die wakende oog van mnr. Kiepie Cupido die baan gereed gekry. Meisies moes rosette maak en juf. Margaret Ontong het geen nonsens geduld nie. Hulle was banger vir haar as vir die hoof.

Begin die atletiekbaan se lyne kalk, stof Rooihuis se vlag af en maak rosette en sommer ekstra maskers in rooi, blou en groen sodat elke kind veilig en herkenbaar is.

Die dag is begin met ’n straatwedloop deur die dorp. Mnr. William Arendse, die hoof, was die afsitter. Langs die strate het ouers gestaan om hul kinders aan te moedig. Wen was vir baie (soos ek) nie ’n opsie nie. Jy wou net die wedloop voltooi, want by die skoolhek het die juffrouens jou ingewag met yskoue koeldrank: rooi, geel en groen. Dit is immers kleuresport.

In my dae het Francois (Kaballie) Davids die wedloop oorheers. Hy sou later verskeie atletiekrekords opstel, om nie eens te praat van sy prestasies op die rugbyveld nie. Hy was een van die vinnigste flanke saam met wie of teen wie ek gespeel het. Boland-kaptein. Saru-kaptein. En nou adjunkpresident van Saru. Dit het alles by kleuresport begin.

Daar is nou geleentheid om nuwe helde te ontdek. Danksy die verslapping van inperkingsregulasies is skolesport weer toelaatbaar, solank daar nie fisiese kontak is nie. Dit bied geleenthede vir sokker, krieket en skaak (solank hulle maskers dra). As ek na die kinders kyk, het die ekstra vakansiedae sy tol geëis. Kompetisie met ander skole is taboe, dus is ’n kleuresportbyeenkoms die ideale kans om van die oortollige energie ontslae te raak. Anders gaan die onderwysers dit in die klas ontgeld.

Begin dus die atletiekbaan se lyne kalk, stof Rooihuis se vlag af en maak rosette en sommer ekstra maskers in rooi, blou en groen sodat elke kind veilig en herkenbaar is. Maak net seker die atlete se hande én die aflosstok is ontsmet. Akademie is belangrik. Maar so ook sport en kultuur. Buitendien, ons kinders het nodig om net weer kind te wees.

Op julle merke, gereed … weg!

Le Cordeur is ’n professor in opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Skolesport  |  Onderrig  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.