Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op lange duur maak ’n jaar geen verskil nie
Annelie Botes

Vandag is die 64ste dag van inperking. In mý memorieboek sal hierdie tyd opgeskryf staan as een waarin ek die kans gegun is om terug te blaai na die hoofstukke van my lewe.

Om te huil oor tragedies waaroor ek nooit gehuil het nie. Om tye van oorwinning te bekyk, te wonder hoe ek die wenpaal gehaal en nie soos ’n klip gesink het nie.

’n Deurslaggewende antwoord wat ek weer eens gesien het, is dat ’n visie van die pad vorentoe van kardinale belang is.

As jy ophou droom en voorwaarts beur, sal jou lewensintensiteit kwyn, en die werke van jou hande sal soos mis voor die son verdwyn.

Tog, soms vra die lewe harde offers van elkeen van ons.

Dit bring my by skole wat Maandag weer begin. Net soveel as wat ek die leerlinge ’n suksesvolle jaar gun, net so diep is my kommer.

Mense, hier kom ’n fout, grensend aan ’n tragedie. Tannie Dalene Matthee het gesê ’n mens se maag vertel vir jou die waarheid. En hierdie bekommernis rommel heel onder uit my maag uit.

Daar is volgens die internet 25 000 skole in die land, 12 miljoen leerlinge, na raming 500 000 onderwysers.

Daar is volgens die internet 25 000 skole in die land, 12 miljoen leerlinge, na raming 500 000 onderwysers. Elke dag moet hulle met een of ander vorm van vervoer by die skool kom, en dan in klasse sit.

Dit is dagdromery om te glo sosiale afstand kan werk. Beskermingsmiddele is nie oral in plek nie, of gesteel. Ek wil nie die storie van voor af uitlê nie. Ons hét mos oë. Vir mý voel dit asof die onderwysdepartement al die betrokkenes in ’n leeukuil instuur.

Dis algemene kennis dat die koronavirus-pandemie se piek nog op pad is. Waarom die haas om kinders terug te kry op skoolbanke?

Waarom gebruik die departement nie die res van 2020 om álles in plek te kry en te wag dat die brander oopsprei nie?

Skep geriewe om eksamen te skryf vir matrieks wat aanlyn, of hoe ook al, voort studeer het. Die res moet matriek herhaal. Deesdae se kinders neem maklik ’n oorbruggingsjaar – watter verskil maak dit of dit in 2020 of 2021 is?

Volgende jaar kan álle leerlinge oorskuif na ’n volgende graad, en sillabusse kan aangepas word sodat alles wat in 2020 agter geraak het, ingehaal word in die skooljare wat kom.

Dit ís moontlik. En dis ’n veel beter opsie as om tot Desember alles op ’n afgejaagde en bolangse manier in te haal.

Die skoolpaniek moet bedaar. Wat met onderwysers se salarisse moet gebeur, wis ek ongelukkig nie. Maar hier is ’n offer wat die lewe vra.

Nou, op 62, kan ek om my lewe te red nie insien wat dit sou saak maak of ek matriek behaal het toe ek 18 of 19 was nie. Of my eerste baba gebore is toe ek 27 of 28 was nie. Of ek werksbevordering gekry het toe ek 38 of 39 was nie.

Maar as die virus grootskaals oorspoel na skole, gaan dit ’n skrikwekkende getal gesinne in pikdonker rou dompel vir die res van hulle bestaan.

Om by ’n kind se graf te staan, is genoeg om van gek te raak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.