Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op legendes soos oom Tol – en op liefde

‘Heroes get remembered, but legends never die.” Só sê die Babe Ruth-karakter in die fliek The Sandlot.

Aniki
Aniki Joseph

Een van die ikoniese tonele in die epiese rolprent Legends of the Fall is die oomblik dat die trein ingestoom kom. Glimmend swart. Donkergrys rookpluime hoog opgestapel teen die blou lug en spierwit stoomwolke wat sywaarts ontsnap langs die voorste deel van die lokomotief.

Die beeldskone Susannah, wat met haar wit breërandhoed uit die trein klim, verteenwoordig die begin van die verlies van onskuld en die seisoene van ’n aangrypende liefdesverhaal te midde van drie broers se soeke na geregtigheid in ’n wêreld wat kop verloor.

Dalk is dit my liefde vir treine, maar daardie oomblik dat ons oor die grys klippies na die stasiegebou stap, herleef ek dié toneel in my gedagtes. Dit is ’n soel aand in November in die Jakarandastad. Die afwagting is groot. Ons word hartlik ontvang op die rooi tapyt terwyl ’n kameralig flits. Bloedrooi roos vasgespeld teen die bors. Vonkelwyn in die hand. Die ou stasiehorlosie dui die tyd in vet swart strepe aan. Ons is betyds. Die trein ook.

Die lang fluit bereik ons ore voordat ons die lokomotief sien, maar dan breek die langverwagte oomblik aan! Anders as die jong Susannah wat in daardie toneel aan die begin van haar lewensreis was, het ek vele seisoene op my lewenspad beleef. Ek en die liefde het mekaar baie jare gelede reeds gevind.

Nostalgie het ’n manier om ’n mens verder te laat reis as wat die sintuie in die oomblik ervaar . . .

Buite deur die ruite skuif die nag verby. Die reuk van egte leersitplekke, die warmbruin houtpanele, die proteas op die tafels, die swaar silwer eetgerei en die porselein op spierwit tafeldoeke is gehul in die spel van sagte kerslig. Terwyl professionele sjefs ’n vyfgangmaaltyd voorberei, kuier gaste met die beste Suid-Afrikaanse wyne aan boord van die luukse hotel op wiele. Die trots van Afrika.

Nostalgie het ’n manier om ’n mens verder te laat reis as wat die sintuie in die oomblik ervaar . . .

Ek beleef weer Oom Christoffel in my geestesoog. Sout van die aarde. Op 81 jaar het sy lewensreis tot ’n einde gekom. Tydens een van my laaste kuiertjies met hom haal hy sy treinboeke en vergeelde foto’s uit. “Dit is joune. Ek wil dit graag vir jou gee.” Iewers op ’n stokou almanak met treinfoto’s het hy ’n pyl getrek en geskryf: “Oom Tol as lokomotiefinspekteur staan agter die stoker in die kajuit van lokomotief 2702-190.”

Op die agterblad van Commemorating 150 years of Rail in South-Africa 1860-2010 het hy kruisies gemaak teenoor die roetes waarop hy gereeld gewerk het. Jan-Kempdorp na Pudimoe. Kamfersdorp na Hotazel. Hy was kromgetrek deur jare se werk in wind en weer, maar wanneer hy van sy lewe met treine vertel het, het daar ’n lig in sy oë geskyn. Tot aan die einde.

Laataand plaas my hartsmens sy hand oor myne op die tafel, lig sy glasie likeur en sê: “Dankie dat jy my gekies het vir jou reis deur die lewe. Op legendes soos Oom Tol en op liefde!”

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.