Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op reis deur ’n ander mens se gewone dag

Om te reis is sielsverruimend. Die gemiddelde mens se gemis aan vryheid van beweging is seker niks in vergelyking met dit wat gesoute reisigers moet ervaar in ’n wêreld wat deur ’n pandemie hokgeslaan is nie. Smaak jy dit eers, roep dit jou. Leer jy dit ken, los dit jou nie.

Benewens fisieke inperking en ontoeganklikheid, wat darem geleidelik verlig word, kan onsekerheid verskeie soorte reis onmoontlik maak. Selfs die alledaagse rondbeweeg tussen punt A en punt B verg basiese beplanning en soveel te meer ’n wegbreek, vakansie of oorsese reis. Die mees spontane reisigers onder ons laat hulle tog nie onderkry nie.

Dié vir wie dit ’n ewig ontwykende voorneme is om meer gereeld te reis, bly in die proses onmeetbaar armer. Iemand wat sonder voorbehoud seker maak dat hy gereeld die onbekende invaar, versamel ’n ontelbare rykdom.

So iemand ken die groot geheim. Hy weet wat dit is wat jy sien wanneer jy met jou neus teen die ruit gedruk gaan staan vir ’n kykie deur die venster op ’n ander werklikheid. Of dit nou ’n sjarmante landelike toneeltjie is, soos so graag in reisvertellings beskryf word, of die geskarrel in ’n wêreldstad.

Eintlik kom dit neer op mense in hul dag-tot-dag-geswoeg. Dit is die ding waarop jy sonder uitsondering afkom. As reisiger verlaat jy eenvoudig jou alledaagse bestaan en breek met die gewone om te sien, hoe doelbewus of terloops ook al, hoe ander mense met hul alledaagse te werk gaan.

Al kan die reisiger hom maklik verbeel dat alles deel is van ’n groter stuk toneelspel om hom te vermaak, is dit wat om hom afspeel, maar net iemand anders se gewone dag – baie moontlik sieldodend gewoon.

Smaak jy dit eers, roep dit jou. Leer jy dit ken, los dit jou nie.

’n Kassiere kla nou die dag by my oor dit waarmee sy moet uithou en beskryf in besonderhede ’n patroon van uitputtende voldagskofte wat oorloop in naweke en wat net onderbreek word deur ’n rusnaweek elke tweede week.

’n Reisiger wat met haar te doen kry, sou haar krisis baie maklik kon verromantiseer en dink: A, so doen hulle dit hier. Of hy sou perspektief kon kry op dit wat hy gedink het sy eie krisis is en onmiddellik dankbaarder leef.

As ’n mens dan nie veel verder kan kom as om in jou eie omgewing tussen punt A en punt B te beweeg nie, kan jy jou ten minste vir indrukke oopstel om jou bekende omgewing opnuut te ervaar.

Vir die oplettende verbyganger word die dagloonwerker wat pas deur ’n bakkie opgelaai is, sy arms uitgestrek om aan die dobberende bak te klou asof dit ’n reddingsboot is, ook ’n venster op iemand anders se bestaan.

In so ’n oomblik word ’n ander werklikheid besoek en ’n stukkie siel verruim. Op ons kleinste reise kan ons ander deur hul weergawe van die alledaagse bereik.

  • Marais is ’n taalversorger en skrywer van Bloemfontein.
Meer oor:  Madré Van Tonder  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.