Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op soek na wie Jesus is
Die laaste Avondmaal deur Leonardo da Vinci.

Dié Jesus wie se geboorte ge­lowiges met Kersfees vier: Wie was hy? Of: Wie is Hy?

Die Nuwe Testament praat baie oor Jesus, maar daar is min buite-bybelse verwysings na Hom. In sy Annales noem die Romeinse skrywer Tacitus “Christus” se veroor­deling onder Pontius Pilatus. Die Joodse geskiedskrywer Josefus (37 n.C.-100 n.C.) noem Jesus twee keer in sy Antiquitates. Josefus se oorspronk­like bewoording bevestig buite­bybels die bestaan van Jesus van Nasaret.

Dit is onmoontlik om uit die Nuwe Testament ’n noukeurige rekonstruksie van Jesus se lewensloop te doen. Dit is so omdat die Nuwe Testament nie ’n biografie oor Jesus is nie, maar bestaan uit geloofsdokumente wat jare ná Jesus se lewe geskryf is. En dan konsentreer daardie geskrifte ook net op sekere betekenisvolle oomblikke in Jesus se lewe. Die Nuwe Testament beklemtoon telkens dat daar ooggetuies was wat Jesus se optrede gesien het en daarvan kon vertel (Luk. 1:12; Joh. 21:24). Só wil die skrywers die basiese betroubaarheid van die verkondiging oor Jesus benadruk.

Jesus was nog altyd omstrede.

Jesus was nog altyd omstrede. Vroeg reeds is sy opstanding uit die dood ontken en beweer dat die dissipels sy lyk gesteel het (Matt. 28:13). Die 2de eeuse Ebioniete-evangelie ontken dat Jesus uit ’n maagd gebore is, terwyl sekere Joodse geskrifte beweer dat Jesus die buite-egtelike kind van Maria en ’n Romeinse soldaat was.

Die vertrekpunt van die moderne wetenskaplike “soektog” na Jesus is die oortuiging dat die ware, vlees-en-bloed-Jesus wat destyds in die stofpaaie van Palestina geloop het, aansienlik verskil van dié Jesus van wie die Nuwe Testament vertel. Die “ware”, “oorspronklike” Jesus is volgens die aanhangers van dié gedagte steeds soek en moet deur wetenskaplike navorsing “gevind” word. Maar die wetenskaplike “soektogte” na Jesus die laaste paar honderd jaar het dikwels minder van die Gesoekte as van die soekers laat blyk. Subjektiwiteit speel deurgaans ’n groot rol: Die soekers probeer telkens ’n beeld van Jesus wat hulle self geskep het as “waar” bewys.

Die sekulêre tydsgees – waar die bestaan van die boaardse, en dus van God, al hoe meer ontken word – is ook ’n kern­probleem. Baie van die geleerde soekers wil alles kragtens die sigbare en rasioneel verklaarbare feite wetenskaplik uitlê en “bewys”. Só loop hulle hulle vas teen die onverklaarbare en die misterie van God. En van Jesus.

Maar Wolfhart Pannenberg, ’n bekende Duitse teoloog van die 20ste eeu, het beklemtoon dat ’n mens nie jou verstand hoef op te skort om in God en Jesus te glo nie. Volgens hom kan ’n mens die metodes van moderne geskiedskrywing op die teks van die Nuwe Testament toepas en aantoon dat dit onwetenskaplik sou wees om dit byvoorbeeld nié as ’n waarskynlike feit te aanvaar dat Jesus ná sy dood weer gesien is nie. Verskillende getuies het onafhanklik van mekaar getuig dat hulle Jesus gesien het. Pannenberg wys daarop dat Jesus ná sy opstanding aan meer as 500 “broers” verskyn het (1 Kor. 15:6 – volgens die destydse opvatting was die “susters” daarby ingesluit). Pannenberg meen dis uit ’n suiwer historiese oogpunt ’n meer “wetenskaplike” standpunt dat die opgestane Jesus weer gesien is as om sonder meer te wil aanneem dat dit nié gebeur het nie.

Dit is ook waar dat gelowiges die Jesus van Nasaret tog ook alte dikwels verkeerd verstaan.

Dit is ook waar dat gelowiges die Jesus van Nasaret wat ons in die Nuwe Testament ontmoet tog ook alte dikwels verkeerd verstaan. ’n Mens moet onthou dat Jesus nie danig goed ingepas het in die godsdienstige hokkies van die Palestina waar Hy destyds geleef het nie. Hy het in die Jerusalem van 2 000 jaar gelede aanmekaar oorhoops geraak met die godsdienstige leiers. Hy was ánders as wat hulle wou hê Hy moet wees. Hy was ’n rebel teen die mooidoenery en gewoontes en taboes van sy tyd. Dit het nie vir Hom om die seremonies en tradisies gegaan nie, nie om die pragtige godsdienstige dop waarin alles gehou is nie, maar oor die inhoud van die dop.

Dr. Frits Gaum, een van die applikante wat die NG Kerk voor die hof daag.

Dit kan gebeur dat ’n mens eintlik nie die “ware” Jesus volg nie, maar ’n Jesus wat in jou stereotipe godsdienspatroon inpas. Want die “ware” Jesus is minder as wat ons sou wou dink te vinde tussen mense wat presies soos ons lyk, ruik, praat, dink, aantrek, leef en bid. Gaan soek Hom eerder tussen die herders, die verworpenes, die armes, kreupeles, blindes, die “minderbevoorregtes”. Gaan soek Hom in die plakkerskampe. Ons moet radikaal anders oor Jesus begin dink, skryf die teoloog Stephan Joubert. En in so ’n radikaal nuwe verstaan van Jesus sal die liefde van God vir mense en mense vir mekaar – waarvan Jesus die sinnebeeld is – altyd die leidster moet wees.

Maar sulke radikaal anderster denke oor Jesus beteken nie dat Hy min of meer op dieselfde vlak as ’n 20ste en 21ste ikoon gesien moet word nie – bloot ’n ander weergawe van Mohandas Gandhi of Moeder Teresa of Nelson Mandela. Radikale denke oor Jesus van Nasaret be­teken vir my nog maar altyd om te erken dat Hy die enigste mens in die geskiedenis is wat ook God is – die God-mens, die Een wat uit die dood opgestaan het, die Een wat wéér sal kom.

Dít is die kern van die Christelike boodskap. Val dit weg, val die bodem onder die Christelike geloof uit.

Meer oor:  God  |  Jesus  |  Gelowiges
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.