Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op Vadersdag gedagtig aan al dié ooms

My pa se dood ’n paar jaar gelede het my laat dink oor die ooms van die land – die ooms van die platteland en die voorstede. My mense se ooms. Die meeste al oorlede.

Dana Snyman

My pa was een van hierdie ooms. Hy het graag Grasshopper-skoene gedra wat hy met militêre bruin skoenpolitoer skoongemaak het, in sy broeksak was altyd ’n knipmes, en om sy pols ’n horlosie wat jy moes opwen. In sy hemp se bosak het hy ’n sakboekie en ’n Parker-pen gedra en sy hare het hy met ’n kantpaadjie gekam, selfs toe hy bles begin raak het.

Hy het al die jare as predikant plattelandse siele bearbei, maar dit het hom nie minder van ’n oom gemaak nie. Die ou plattelandse dokters was ook maar ooms – ooms in wit safaripakke, wat laatnag in ’n Mercedes 280S die distrik sou inry om na ’n koorsige kind te gaan omsien.

Van die ander ooms was bankbestuurders, stasiemeesters, posmeesters en stadsklerke. Polisiemanne. Plaasboere. Boormanne. Padskraper­bestuurders. Masjiniste.

Baie van hierdie ooms was meesters van vaardighede waaraan mettertyd al hoe minder ’n behoefte was: Hoe om ’n sweep te vleg, hoe om ’n klein hondjie se stert af te sny, hoe om ’n kind se wisseltand te trek, hoe om water met ’n mikstok aan te wys, hoe om ’n lemoen met ’n knipmes te skil.

Hulle kon die dele van ’n ossewa opnoem en het geweet presies wanneer om dahliabolle te plant. Hulle het hul rygoed self gediens.

In hul hangkas was ’n .303 of ’n Mauser. Ooms wat ’n bok geskiet het en geweet het hoe om dit af te slag en hoe om biltong te sny en dit aan stringe bloudraad tussen die balke in die motorhuis gehang het om droog te word.

Party kon soos ’n tortelduif fluit deur hul hande bak voor hul monde te hou. Ander het kinders vermaak deur hul valstande uit te haal en gesigte te trek. Een sou sy vinger na jou toe uithou en sê: “Kom trek gou my vinger.” En trek jy die vinger, los hy ’n wind, en lag en lag.

Hulle was steeds kwaad vir die donnerse Engelse oor die konsentrasiekampe.

Hulle was nie vlekkeloos nie, hierdie ooms. Baie het gestem vir landswette wat onmeetbare pyn en swaarkry vir ander gebring het. Hulle het kerklike tug uitgeroep oor mense wat dalk eerder naasteliefde nodig gehad het. Party het ’n skelm bottel brandewyn in die gereedskapskis aangehou, en ander het hul naaste se vrou en se os en se esel begeer.

Kortom: Hulle was alte menslik. Hulle was trots en hardwerkend. Hulle was spaarsamig. Hoe ouer hulle geword het, hoe meer het hulle vertel hoe hulle as kind kaalvoet deur die ryp skool toe gestap het. Die werkinge van hul hande is oral in die land te sien. Hulle het saans vroeg gaan slaap en soggens vroeg opgestaan.

“Móét pa’s dan sterf om vir hul seuns te lééf?” vra Hennie Aucamp in sy kortverhaal “Die nag van die ooms”.

Miskien is Aucamp reg. Môre, op Vadersdag, sal ek aan oorlede Pa en aan dié soos hy dink.

Meer oor:  Pa  |  Vadersdag  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.