Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Op voetsoolvlak kan jy báie doen
Leopold Scholtz Foto: Foto24

Jy kan deesdae nie meer ’n Suid-Afrikaanse koerant oopslaan sonder om te lees van korrupsie, misdaad, onbekwaamheid en ’n chaos nie.

Vir grondgrypers se saak kan jy, as jy toegeeflik wil wees, nog ’n effense simpatie openbaar (ofskoon nie vir hul metodes nie). Van diegene wat so profiteer van die koronavirus kan jy slegs afsku hê – en dieselfde geld dié wat plaas- en ander moorde pleeg en oor die algemeen van die swakkes steel en roof.

Van pres. Cyril Ramaphosa hoor ons gereeld sussende woorde. Ja, dis érg, het hy pas in sy weeklikse nuusbrief gesê en streng stappe teen oortreders beloof. Dis ’n melodie wat ons al male sonder tal uit sy mond of pen gehoor het. En dit gaan maar voort. Dis asof die oortreders sy beloftes en dreigemente met minagting aanhoor: Hy práát net en dóén niks, is hul houding.

Dis verklaarbaar waarom Ramaphosa se woorde en dade so ver uitmekaar lê. ’n Aantal eienskappe is naamlik in die ANC/SAKP se DNS ingebed: oneerlikheid, korrupsie, magswellus, magsmisbruik, noem maar op.

Die ANC/SAKP se leierskorps het met diamante gesmokkel, dissidente gruwelik gemartel, vroue is as seksslawe gebruik, en daar is anderpad gekyk.

Dis asof die twee partye (wat vir alle praktiese doeleindes één is) hulself nie kan help nie. Feit is dat die twee al vroeg in hul ballingskap-periode in die vroeë 1960’s korrup geraak het (onbekwaam was hulle nog altyd).

In sy studie oor die ANC/SAKP in ballingskap (External Mission: The ANC in Exile 1960-1990) bewys die oorlede Brits-Nederlandse historikus Stephen Ellis onomstootlik hoe korrup die ANC/SAKP-leiding destyds was.

Dit word bevestig deur my eie navorsing oor die twee se magsmisbruik van voor 1990 (wat hopelik mettertyd op ’n boek moet uitloop).

Die ANC/SAKP se leierskorps het destyds met diamante gesmokkel, dissidente in die kampe in Angola en Zambië is gruwelik gemartel, vroue is as seksslawe gebruik, en Oliver Tambo en Thabo Mbeki het anderpad gekyk.

Dis die een ding waaroor ek die NP-regering van destyds verkwalik: Hulle het ons verhinder om die ware omvang van die ANC/SAKP se misdadige DNS vir onsself vas te stel. Wat ons gekry het, was oorduidelik propaganda en dus het elke onafhanklik denkende dit maar met ’n knippie sout geneem.

Eintlik is die twee bewegings se natuurlike neiging nie so verbasend nie. Hulle is, om die ouderwetse doopformulier te misbruik, “in sonde ontvang en gebore en van nature geneig tot alle kwaad”.

My navorsing wys onteenseglik hoe die ANC/SAKP se leierskorps sedert die 1950’s klakkeloos agter die USSR aangeloop het.

Die doopouers van die tweeling heet Sowjetunie en kommunisme. My navorsing wys onteenseglik hoe die ANC/SAKP se leierskorps sedert die 1950’s klakkeloos agter die USSR aangeloop het – wat betref ideologie, maar ook betreffende die internasionale politiek: Alles wat die Weste in die Koue Oorlog gedoen het, was sleg; alles wat die kommunistiese blok gedoen het, was goed.

Is dit ’n wonder dat die ANC/SAKP hom nie regtig aan die Grondwet (wat, ondanks gebreke, ’n voorbeeldige demokratiese dokument is) steur nie?

Hoe om die saak op te los? Wel, uiteindelik is daar maar één oplossing moontlik: Die ANC/SAKP moet in ’n algemene verkiesing verslaan en deur ’n egte demokratiese party vervang word.

Probleem: Ons almal weet dit gaan nie op kort termyn, indien ooit, gebeur nie. Die verregaande onbekwaamheid, korrupsie en leuens sál voortduur.

En dus kom ek weer terug op die deuntjie wat ek gereeld sing: Vergeet (voorlopig) van ’n regeringsverandering. Op voetsoolvlak is daar baie wat die burgerlike samelewing kan doen.

Werk rondom die regering heen. Maak soos Solidariteit: Maak slaggate in die pad, lekkende pype, ensovoorts, sélf reg. Doen jou eie ding, maar organiseer behoorlik en bly geweldloos en op ’n wetsgehoorsame manier. Sukses!

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.