Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ope brief aan prof. Wim de Villiers

Die mikroaggressie wat Afrikaanssprekendes op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) ervaar, skep ’n vyandige omgewing en atmosfeer, skryf die US se Departement van Afrikaans en Nederlands in ’n ope brief aan die rektor, prof. Wim de Villiers.

Prof. Wim de Villiers Foto: GALLO IMAGES
Geagte prof. De Villiers,

Ons departement bestaan nie uit taalaktiviste of taalstryders nie. Ons is ’n akademiese departement wat vakkundig omgaan met die vakgebied Afrikaans en Nederlands, die tale Afrikaans en Nederlands in die besonder, asook die veeltalige taalpraktyk.

Tot dusver het ons nie openbaar toegetree tot die diskoers betreffende Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) nie. Dit is egter vanuit ons vakkundige posisie dat ons nie verder ons stilte kan handhaaf oor die universiteit se hantering van veeltaligheid en Afrikaans nie.

Ons word toenemend gevra of daar werklik nog ’n rede is om studente vir ’n veeltalige omgewing op te lei, teen die agtergrond van ons eie instelling se hantering van veeltaligheid. Daar word ook deurlopend van ons departement verwag om die universiteit se besluite rakende taal in die algemeen en Afrikaans in die besonder te verdedig of te verduidelik aan die gemeenskap daar buite, terwyl ons uiteraard lojaal aan die universiteit wil bly.

Wanneer “Afrikaans” en “Stellenbosch” weer eens in die nuus is, dra ons swaar aan ’n unieke las. Ons is in die oë van die publiek aanspreeklik vir wat met Afrikaans aan ons instelling gebeur, nieteenstaande die feit dat geen lid van ons departement betrokke was by die samestelling van die huidige taalbeleid of die hersiene konsepweergawe nie.

‘Inheemse taal’

Die eerste spesifieke saak om in dié brief te belig, is die uiters problematiese hantering van die begrip “inheemse taal” in die nuwe konseptaalbeleid. Die betrokke woordverklaring is uit die departement van hoër onderwys en opleiding se nuutste taalbeleidsraamwerk gelig. Die mees ideologies gelade gedeelte van dié woordverklaring is nie in ons konsepbeleid gekopieer nie: “An indigenous language is a language that is native to a re­gion or country and spoken by indigenous people.”

Die uitsluiting van Afrikaans uit hierdie groep tale is eerstens wetenskaplik foutief en tweedens ideologies gekleur. Die verklaring is dalk dat hierdie bewoording gewoon oorgeneem is om met die oorhoofse beleidsdokument te strook, maar dan moet hierdie feit eksplisiet gestel en gekontekstualiseer word deur ook ondubbelsinnig te sê dat die universiteit beslis die taal Afrikaans as die inheemse taal beskou wat dit is. Dit is immers ook hoe taalkenners dit beskou.

Kundiges uit verskeie vakgebiede maak dit oor dekades duidelik dat om ’n persoon se taal te negeer, hulle menswees negeer, en om selfs net implisiet te maak asof Afrikaans, en dus Afrikaanssprekendes, nie eintlik hier hoort nie, is derhalwe skokkend. Aangesien die konsepbeleid stel dat dit bygewerk kan word met relevante terminologie, versoek ons dat hierdie growwe mistasting reggestel word.

‘Afrikaans verklein’

Ander tersaaklike punte in die konseptaalbeleid word kortliks hieronder genoem:

  • Die definisie van “vertaling” lees, ironies, soos ’n swak vertaling. Woorde soos “gehalte”, “kwaliteit” of “gehalteversekering” kom nêrens voor nie. Daar word genoem dat professionele vertalings “goed afgeronde” produkte “moet” wees, maar sonder enige verwysing na hoe die gehalte verseker sal word. Dit blyk gereeld uit informele terugvoer dat studente wat opvoedkundig van Afrikaans gebruik wil maak, swak vertaalde materiaal kry wat hulle noop om die Engelse materiaal te benut, met die gepaardgaande potensiële pedagogiese benadeling – dit is as daar wel iets beskikbaar gemaak word. Dit is ’n enorme tekortkoming in die beleid as daar geen proses vir gehalteversekering geëkspliseer word nie en ook geen kanaal vir klagtes oor gebrekkige toepassing van daardie versekering nie. Hierdeur word veeltaligheid en Afrikaans ondermyn.
  • Die kontekstuele faktore ter sprake by die gebruik van Afrikaans, Engels en isiXhosa, noem glad nie die beduidende akademiese, professionele en internasionale waarde van Afrikaans nie, maar wel Engels s’n. Ons vertrou dat hierdie fout reggestel sal word sodat dit nie lyk asof die waarde van Afrikaans verklein of verswyg word nie.
  • Die begrip “pedagogies verantwoordbaar” word verklaar, maar die verwante term “redelikerwys uitvoerbaar” staan nie daar nie. Hierdie vae en poten­sieel problematiese term moet duideliker gesistematiseer word deur minstens iets soos ’n metingsinstrument of verbandhoudende oorwegings eksplisiet te stel, anders lyk dit asof die US ’n agterdeur oophou vir enige afwyking van die beleid om ex post facto goedgemaak te word.
  • Daar is geen aanduiding van wie die medewerkers aan die beleid was nie.
  • In meegaande korrespondensie word gewag gemaak van die feit dat die huidige taalbeleid “grondwetlik geregverdig” is en dat die “proses om die beleid te aanvaar” aan bepaalde maatstawwe voldoen het. Die gereelde herhaling van hierdie gegewens kan gelees word as implikasie dat die taalbeleid eintlik bo kritiek verhewe is. Dit moet liefs eksplisiet genoem word dat nie een van hierdie twee stellings werklik ’n empiries of vakkundig gefundeerde uitspraak maak oor (a) die gehalte van die huidige taalbeleid of (b) die sukses en gevolge van die implementering daarvan nie.
  • Hier is reeds ’n nuwe konsepbeleid saamgestel waarop kommentaar gevra word voordat daar duidelik terugvoer gegee is oor die effekte van die implementering van die huidige weergawe. Beleidshersiening moenie as ’n administratiewe oefening gedoen word bloot omdat dit nou tyd is daarvoor nie. Dit moet gedoen word binne ’n duidelik geformuleerde vakkundige raamwerk wat werklike beleidseffekte en -uitkomste stel en in ag neem. Daar is immers geen rede om ’n beleid te hersien anders as om daarop te verbeter nie.

Vervolgens ontstaan etlike vrae:

  • In hoe ’n mate het die huidige taalbeleid aan die gestelde doelwitte voldoen?
  • Wat het sedert 2015 met die Afrikaanse aanbod aan die universiteit gebeur?
  • Watter gevolge het die taalbeleid gehad?
  • Is data hieroor ingesamel, verwerk en openbaar gepubliseer? Indien wel, waar is dit verkrygbaar? Indien nie, waarom nie, en op grond waarvan word hierdie hersiening dan onderneem?

Stilbly ook ’n antwoord

Die vroeër vermelde indruk dat diegene wat Afrikaanssprekend is nie in gelyke mate op ons kampusse (be)hoort as hul Engelssprekende eweknieë nie, word versterk in die tweede aspek wat in hierdie brief aan bod kom, naamlik die openbare diskoers vanuit die universiteit waar dit Afrikaans betref, en die universiteit se omgang met Afrikaans in die algemeen.

’n Onlangse illustrasie is die debakel oor beweerde gevalle van die afdwing van Engels in sekere omgewings tydens die verwelkomingstyd.

Die universiteit het hierna in die media gesê dat die afdwing van Engels “nie beleid” is nie. Daar is egter nie duidelike tekens, minstens wat ons kon opspoor, van ’n formele ondersoek en planne vir ’n hoëvlak-regstelling, indien dit uiteindelik nodig blyk, nie.

Diegene wat reeds vyandig gestem is teenoor ons instelling kry sodoende skietgoed om verdere reputasieskade te berokken, en gemoedere loop hoog op grond van ongetoetste bewerings.

Die media gons oor hierdie saak en studente vertel in informele kontekste van hul eie soortgelyke ervarings, maar die universiteit se topstrukture bly in die oë van die publiek net stil. Wat maklik hieruit afgelei kan word sonder die nodige regstelling, is dat die inhoud van die bewerings óf implisiet goedgekeur word, óf nie as ernstig geag word nie.

Dit is tyd dat ’n senior lid van die universiteitsbestuur ’n duidelike standpunt daaroor inneem en versekering gee dat daar ’n deursigtige ondersoek sal wees om die bewerings as waar of onwaar te bewys, en dat daar konkrete optrede sal wees as hier wel eentaligheid afgedwing is of ’n atmosfeer geskep is waarin eentaligheid implisiet of eksplisiet die enigste aanvaarbare opsie is. Stilbly is ook ’n antwoord, soos die spreekwoord lui.

Afjakke

Ons ervaar in ons eie departement wel toenemend dat studente verbaas is dat hulle in Afrikaans met hulle dosente mag kommunikeer. Studenteleierskapstrukture (en selfs ander formele universiteitsomgewings en -strukture) moet gereeld daaraan herinner word om hulle materiaal tog in Afrikaans ook beskikbaar te stel. Versoeke vir die gebruik van Afrikaans word boonop in baie gevalle doodgewoon geïgnoreer of selfs afgejak.

Dit raak ook al hoe meer algemeen dat bepaalde stukke amptelike korrespondensie eers net in Engels versprei word met ’n belofte dat die Afrikaanse weergawe daarvan op een of ander latere stadium of ander plek sal verskyn. Dit is moontlik nog regverdigbaar wanneer dit werklik oor besonder dringende sake gaan, maar nie andersins nie.

Hierdie stand van sake gaan vir ’n betekenisvolle deel van die studentegemeenskap gepaard met persoonlike spanning en hoogs waarskynlik ook met opvoedkundige benadeling.

Dit sal goed wees as die universiteit wys dat daar erns is oor veeltaligheid deur hierdie soort skadelike praktyk doodgewoon stop te sit. Dit plaas Afrikaans by verstek in ’n sekondêre posisie en dwing diegene wat Afrikaans gemakliker lees om maar die Engelse weergawe te lees as hulle ewe op hoogte as hulle Engelse kollegas of medestudente wil wees.

Daar bestaan ook skynbaar die wanpersepsie dat personeellede wat Engels verstaan, hoewel dit nie hul eerste taal is nie, outomaties ook gemaklik hul hoëvlak- akademiese werk in Engels kan doen.

Die implikasies van ’n verlies aan byvoorbeeld kommunikatiewe nuanse wanneer daar slegs in ’n dosent en studente se tweede taal gekommunikeer word, is so ver ons kan vasstel nie grondig ondersoek as deel van die opstel van ’n beleid wat duidelik toenemend in daardie rigting mik nie. So ook nie die verlies aan diepte en rykheid van die opvoedkundige ervaring vir byvoorbeeld die Engelssprekende student wat nou geen blootstelling aan ’n tweede akademiese taal kry nie.

Mikroaggressie

Die soort handelinge hierbo genoem, wat ’n seleksie voorbeelde is en geen omvattende opgawe nie, staan in die kader van die sosiale geregtigheid bekend as mikroaggressies – doelbewuste óf onbedoelde opmerkings, praktyke of handelinge wat vooroordeel teenoor ’n bepaalde groep of persoon, gewoonlik ’n minderheid, uitdruk.

Dit kan iets so klein wees soos om ’n student met ’n Afrikaansklinkende naam en van te komplimenteer oor hulle “goeie Engels”, of so grof soos om enige versoek dat die universiteit deursigtig en verantwoordbaar met Afrikaans omgaan, af te maak as ’n politiese of etniese stryd.

Dit is tipies nie die groot amptelike gebare wat hierdie soort aggressie(s) versinnebeeld nie, maar eerder ’n verskeidenheid kleiner opmerkings of optredes wat elkeen op sigself onbenullig kan lyk, maklik as onskuldig afgemaak word en nie noodwendig doelbewus kwetsend is nie, maar saam bydra tot ’n vyandige omgewing en atmosfeer.

Die universiteit moet kennis neem daarvan dat Afrikaanssprekende studente gereeld die slagoffers is van hierdie soort mikroaggressie op grond van hulle moedertaal; iets wat die universiteit onderneem om te respekteer, te benut en beskikbaar te maak wanneer hulle dit nodig het. En die universiteit moet erns maak daarvan om te verseker dit word wel gedoen.

Ons noodsaaklike transformasie kan nie plaasvind deur die lewensruimte van sekere studente in te perk omdat hulle taal nog in enkele persone se oë ’n uitgediende negatiewe politieke konnotasie het nie.

In die tagtigs beskryf Ruiz drie oriëntasies teenoor taal en veeltaligheid wat vandag as paradigmas beskou word: Ons kan dit sien as ’n probleem, as ’n reg, of as ’n hulpbron.

Ons hoop die universiteit kan die dringend noodsaaklike kopskuif maak dat werklike veeltaligheid eerder as slegs Engels, en daarmee saam die benutting van die enorme hulpbron wat Afrikaans is, nie net die mees wetenskaplik verantwoordbare pad vorentoe is nie, maar in ons land ook die mees etiese een.Met besorgdheid,

  • Die Departement Afrikaans en Nederlands
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.