Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Openbaring in ons ou dorpie
Barend Vos

Soos al die dorp se mense het ek van haar geweet. Ja, reeds voor daardie jaar van haar belydenis­aflegging. Voordat sy my sommer daar­die eerste dag in die kategeseklas oor Openbaring uitgevra het – en die res van haar klasmaats eers gesug, toe hul oë gerol en toe die selfone uitgehaal het. Duidelik gewoond aan en diep geïrriteer deur haar soort vrae. Ek het haar versoek om ná die klas agter te bly.

Sy was nie met die gewone soort praatjies oor die laaste Bybelboek te­vrede nie, dít het ek dadelik agter­gekom. En ek was ligweg verbaas oor hoe maklik die term “apokaliptiese literatuur” oor haar lippe gekom het. Dit was beslis nie die eerste keer dat sy dit gesê het nie; dit was wel die eerste keer dat ek dit uit ’n 16-jarige se mond gehoor het.

Haar naam was Mina en sy was klaarblyklik ’n laatlammetjie, want haar ouers was reeds afgetree. Sy het elke einde van die jaar elke denkbare prys by die skoolprysuitdeling opge­raap. Haar naam was gereeld in die streekkoerant nadat sy by die een of ander nasionale ekspo of eisteddfod of olimpiade uitgeblink het.

Ek het haar elke Sondagoggend in die kerk gesien, so links voor, alleen, half vooroor gebuig en intens aan ’t luister.

Ek het haar elke Sondagoggend in die kerk gesien, so links voor, alleen, half vooroor gebuig en intens aan ’t luister.

Die kategeselesse het hul normale loop geneem, met Mina wat koponder­stebo sit. Maar sy het, benewens ’n oop Bybel voor haar, altyd ’n pen in haar hand gehad. So met die vry hand het sy geteken, sonder ophou geteken, ge­teken.

Soms het ek een van die ander gesien loer, en dié het dan een langsaan se aandag getrek en met die oë beduie: Kyk net hiér!

“Sy is maar ’n vreemde enetjie, jong!” het een van haar onderwysers op ’n dag gesê waar ek dit kon hoor. “Weird, soos haar klasmaats sê.”

En hy het lekker gelag.

Intussen het ek en sy Sondagaande nadat die klas verdaag het oor die Bybel gepraat. Haar vrae oor die kerk­geskiedenis en verskillende interpre­tasie­tradisies het my verras, en uit­ge­daag om weer ou handboeke te gaan afstof.

Op ’n dag, hier in die middel van die jaar, is ek skool toe genooi. Die een of ander professor het uit Johannesburg gevlieg om ’n spesiale prys aan Mina te kom oorhandig. Daar in die skoolsaal het die man gloeiende dinge oor haar gesê. Ek het op die verhoog gesit en haar tussen die ander leerlinge gesoek. Maar dit was haar skoolmaats, wat die heeltyd met mekaar doenig was terwyl die geleerde gepraat het, wat my aandag getrek het.

Oplaas is sy vorentoe geroep om die prys te ontvang. Die gegiggel was duidelik hoorbaar. Haar skoolmaats wat die weird enetjie tussen hulle, die een met die selfbewuste stappie, uitlag. Daar was ’n halfhartige ge-sjuut! van sommige onderwysers.

Haar plek in die kerk was leeg. Ek het nooit weer van haar gehoor nie.

Dít alles was so tien jaar gelede. Mina se ouers het ná haar matriekjaar ver­huis; waarheen weet ek nie. Haar plek in die kerk was leeg. Ek het nooit weer van haar gehoor nie.

Tot die afgelope Sondag. Ons ge­meente se Bybelleesprogram skryf voor dat ek uit Markus 6 lees, oor Jesus se bitter woorde dat ’n profeet nie in sy eie omgewing geëer word nie.

Ná afloop van die erediens wag een van die skool se onderwyseresse my in: Of ek Mina onthou, daai vreemde skepseltjie wat altyd sulke weirdgoe­ters geteken het, selfs pryse daarmee gewen het.

“Net gister lees ek iets oor haar op Facebook,” sê die vrou. “Van die groot prys wat sy in New York gewen het vir haar argitekontwerpe. Die Amerika­ners sê sy is world-class. Wie sou dít nou gedink het, nè? Hier uit ons ou dorpie.”

* Vos is 'n afgetrede NG-leraar en bekroonde skrywer van onder meer die Uit die Beek-dagstukkies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.   

Meer oor:  Godsdiens  |  Vreemd  |  Boelies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.