Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oplossings vir bendeprobleem nie eenvoudig

As jy nie regstreeks daardeur geraak word nie, sukkel jy om ’n behoorlike begrip te kry van wat in bendegeteisterde gebiede aan die gang is.

Braam Hanekom

Die effek op die gemeenskapslewe, die ewige vrees en trauma, die verlies en rou wanneer familielede sterf, die effek van dwelms – en veel meer – gaan die verstand te bowe.

Die afgelope weke was die Western Cape Ecumenical Network (’n netwerk van sowat 30 kerke en kerklike organisasies) besig met analise en die formulering van moontlike intervensiestrategieë, ook van die kerk se kant af.

Antwoorde is nie eenvoudig as jy met so ’n holistiese uitdaging binne ’n “perfekte storm” werk nie. Die volgende uitgangspunte is reeds mee gewerk: Daar is ’n groeiende aanvaarding dat die weermag se intervensie nie ideaal is nie, maar ’n vorm van krisisbestuur binne ’n noodtoestand is. En die aantal sterftes per vierkante kilometer laat die gebied ongetwyfeld as ’n oorlogsone kwalifiseer. Dit in ’n stad wat een van die wêreld se gunsteling-toeristebestemmings is.

So waar lê die probleem dan?

Sosio-ekonomiese oorsake is ’n uitdaging. David Meads het laasweek in Die Burger verwys na die instroming van mense na die Wes-Kaap, die gepaardgaande werkverlies vir sommige, en die rol wat bendes dan in ’n sekondêre ekonomie speel. Duisende het van dié vernietigende kultuur afhanklik geraak. Verder is daar gesinsverbrokkeling en ’n groeiende dwelmkultuur.

Daar is ook ernstige vrae oor die polisie se gebrek aan kapasiteit asook hardnekkige gerugte van polisiekorrupsie.

Die kerk sal die geloofsgemeenskappe binne die geraakte gebiede baie beter moet ondersteun.

Na raming is daar 190 000 polisielede in Suid-Afrika en 450 000 lede in die sekerheidsbedryf. Maar die mense van die Kaapse Vlakte kan hulle nie bekostig nie.

Ook is daar die belangrike vraag oor die soeke na identiteit binne die bruin gemeenskap, die antwoord wat bendes daarop bied en die kerk se mislukte pogings om daardie identiteit in Christus te vestig. En daar is die algemene verbrokkeling van waardes.

Daar moet verstaan word dat bendes nie uniek aan Suid-Afrika is nie. Dit is egter ’n virus wat, wanneer dit toegelaat word om te groei, endemies raak en nie sommer uitgeroei word nie. Ons het toegelaat dat die virus te lank versprei.

Ten slotte sal kerkleiers altyd die vraag bly vra oor die spirituele dimensie. Die kerk sal die geloofsgemeenskappe binne die geraakte gebiede baie beter moet ondersteun.

Ons sigbaarheid in daardie gebiede is tans nie genoeg nie. Ons werk tans ook aan ’n kort-, medium- en langtermynstrategie wat ons graag met die owerhede sal wil bespreek.

Intussen mag ons nooit hoop verloor nie. Ons glo in ’n God wat skep én herskep. Die geskiedenis vertel hierdie verhaal oor en oor. Dit is waarvoor ons bid en werk.

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.