Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Opnuut tyd vir ‘liefdesbriewe’

Dit was hartseer om die Distrik Ses-museum in Kaapstad, wat deur ’n onafhanklike trust bestuur word, verlede week vir hulp te hoor pleit.

Judith February

Die museum trek swaar weens die Covid-19-pandemie en inperking, en as hy nie dringend skenkings kry nie, moet hy dalk sy deure toemaak.

Inwoners, verkose amptenare, en dié wat die middele het om filantropiese bydraes te maak, behoort vir die oorlewing van die museum te veg. Om toe te laat dat sy deure sluit, sou soortgelyk wees aan ’n tweede gedwonge verskuiwing van die mense wie se stories in die museum vertel word en, baie belangrik, dié wie se stories nog nie vertel is nie.

In ’n post-pandemie-wêreld het die stad ’n onafhanklike ruimte waar daar oor ras, plek en ongelykheid gepraat kan word, nodiger as ooit.

Die pandemie veroorsaak wêreldwyd ekonomiese en maatskaplike verwoesting. In ’n land so ongelyk soos ons s’n, is die afloop verpletterend. Ons sien dit daagliks in die aantal ontwortelde, honger mense wat in die strate rondhang, en in die winkels, hotelle en restaurante wat gesluit het. Soos die dae en maande verbygaan, sal dit net erger word.

Soos met alles, sal daar ná die pandemie rekenskap gegee moet word van alles wat vir altyd verlore gegaan het.

Hoe veelvlakkig daar rekenskap gegee gaan word, hang baie af van ons bereidwilligheid om introspeksie te doen en om die ekonomie en die samelewing op ’n dieper vlak te probeer begryp.

Ons kan nie alles wat verlore is terugkry nie, maar ons kan probeer om dit wat werklik saak maak te red. Wat maak vir ons saak in so ’n verdeelde en geskende samelewing? Lewensmiddele maak saak. Menswaardigheid maak saak. En dit wat ons saambind en help om mekaar beter te verstaan, behoort sekerlik nou meer saak te maak as ooit te vore.

Tog, ten spyte van die kunste se bydrae daartoe om die hede en verlede te verstaan, word dit afgeskeep. Hoe omvorm ons teater, musiek en vertellings?

Wat sê dit oor al die regeringsfere en sy toewyding aan die dinge wat werklik saak maak as ons nie die museum kan red nie?

Waar is ons toewyding daaraan om stories oor plek en verskuiwing, oor huis en ballingskap te vertel as hierdie belangrike deel van die stad se onderbou toegelaat word om te sluit? Wat sê dit oor al die regeringsfere en sy toewyding aan die dinge wat werklik saak maak as ons nie die museum kan red nie?

’n Mens kan nie help om kwaad te word oor hoe belaglik dit is in die lig daarvan dat soveel verlore is weens korrupsie, vermorsing en die versuim om dit wat belangrik is te prioritiseer nie.

Die museum sê donasies sal ’n “liefdesbrief” aan Distrik Ses, die stad en ons land wees. Dit sê dat toe inwoners van Distrik Ses hul uitsettingsbevele gekry het, het hulle in ware Distrik Ses-styl dié kennisgewings “liefdesbriewe” genoem.

Dit was ’n siniese opmerking oor die ongeërgdheid van die apartheidstaat, wat nie kon sien hoe diep die gemeenskapsbande is nie. Daarom is dit tyd dat ons opnuut “liefdesbriewe’ stuur.

Milan Kundera het gesê: “The struggle of man against power is the struggle of memory against forgetting.” Stede het die vermoë om agente van ware maatskaplike verandering te wees, want dit is plekke om in te lewe, lief te hê, te werk, te floreer en te oorleef.

Uitnemende stede het plek vir diverse vorme van uitdrukking deur kuns, musiek, sport, kos, letterkunde en graffiti, om maar enkele voorbeelde te noem.

Hulle het ’n gemaklike verhouding met dié wat ander menings het en met ’n verlede wat dalk by hulle spook. Hulle het innerlike vrede en is veerkragtig in die aangesig van aanvalle en pogings om te verdeel. Hulle staan vír iets.

In Kaapstad, met sy gelaaide geskiedenis, moet ons onthou eerder as vergeet. Ter wille van die hede en toekomstige generasies moet ons waarde heg aan die ruimtes wat ons toelaat om te onthou.

  • Om ’n skenking aan die museum te maak, gaan na www.districtsix.co.za.
Meer oor:  Judith February  |  Distrik Ses-Museum  |  Museums  |  Hulp  |  Liefdesbriewe  |  Verval  |  Skenkings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.