Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Orgaan-oorplantings amper tot stilstand

Die inperking, en nie noodwendig Covid-19 nie, het veroorsaak dat orgaanoorplantings in die land die laaste paar maande amper tot stilstand gekom het, skryf Maretha Botes.

Dr. Susan Vosloo, hartchirurg van die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad. Foto: lulama zenzile

Hoewel volledige data oor die impak van die Covid-19-pandemie op orgaanoorplantings in Suid-Afrika eers oor sowat ’n jaar beskikbaar sal wees, kan die uitwerking daarvan reeds gesien word.

Duisende mense wag op skenkerorgane en vir baie van hulle word die tyd min om ’n geskikte skenkerorgaan te vind.

Die inperkingsmaatreëls, soos die verbod op interprovinsiale en internasionale reise, die kansellering van kommersiële vlugte, asook die verbod op hospitaalbesoeke het reeds gelei tot ’n afname in orgaanoorplantings.

Dr. Susan Vosloo, hartchirurg van die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, sê aktiwiteit in haar praktyk het met 75% afgeneem.

In die afgelope ses maande, toe streng inperkingsmaatreëls vir die grootste deel gegeld het, is veral baie mediese toestande verwaarloos wat nié met Covid-19 verband hou nie, sê Vosloo.

Mense het gewoon nie hul roetinebesoeke nagekom nie omdat hulle hospitale en dokters se spreekkamers ten tyde van die inperking vermy het.

Daar is sowat 4 000 pasiënte in die land wat wag op orgaanoorplantings.

In gewone omstandighede sou sowat 300 van hulle in die afgelope ses maande oorplantings ontvang het. Maar toe breek ’n pandemie uit en nou lyk dié prentjie heeltemal anders.

Langer waglyste vir dialise

Dr. Zunaid Barday, wat nieroorplantings in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad doen, sê geen oorplantings is die afgelope ses maande in dié hospitaal se oorplantingseenheid gedoen nie.

Dit veroorsaak ’n rimpeleffek omdat die hospitaal se waglys vir dialise – lewensnoodsaaklike behandeling vir nierpasiënte – nou al hoe langer word.

“Ons kan nie nieroorplantings doen nie. Die gevolg is dat ons nie nuwe pasiënte tot die dialiseprogram kan toelaat nie,” sê Barday.

Plek in die dialiseprogram word slegs beskikbaar in die geval van ’n suksesvolle nieroorplanting, wanneer die pasiënt nie meer dialise nodig het nie of wanneer ’n dialise-pasiënt sterf.

“Ons waglys vir dialise het die laaste paar maande geweldig gegroei,” sê Barday.

Volgens hom is dit ’n regstreekse gevolg van die inperking en nié weens Covid-19 nie.

Vosloo beskryf die situasie as “uiters­ kommerwekkend”. Sy sê dit is dringend nodig dat die publiek moet verstaan wat die situasie is.

Volgens haar is een van die grootste redes vir die afname in skenkerorgane ’n wanpersepsie onder die publiek dat orgaanoorplantings totaal en al tot stilstand gekom het ten tyde van die inperking.

“Dit is nie die waarheid nie. Slegs lewende oorplantings is gestop en kan moontlik binnekort weer hervat word,” sê sy.

Volgens Vosloo is ’n lewende oorplanting ’n orgaanoorplanting wat vooruit beplan en geskeduleer word, byvoorbeeld wanneer ’n fa­milielid as skenker optree. Dit is in die meeste gevalle nieroorplantings.

Dié oorplantings is tydelik ten tyde­ van die inperking gestop weens onder meer personeeltekorte en stampvol waakeenhede by hospitale.

Lewensreddend

“Kadawer-oorplantings, waar iemand breindood is en daar organe beskikbaar word, het nooit tot stilstand gekom nie. Mense wat wag op kadawer-organe, het die boodskap verkeerd gekry en baie van hulle voel meer kwesbaar,” sê Vosloo.

“Sulke oorplantings word as mediese noodgevalle beskou en is lewensreddend.

“Dit sal nooit gestop word nie en word nog altyd, of daar Covid-19 op die agtergrond is of nie, op meriete en ’n individuele grondslag beoordeel.”

Vosloo sê die ander faktor wat kadawer-oorplantings ten tyde van ’n pandemie beïnvloed, is om te besluit of dit op daardie tydstip in die beste belang van die pasiënt is. In ’n noodgeval, sê sy, word elke geval individueel beoordeel.

In die beste belang

Is dit byvoorbeeld in die beste belang van die pasiënt om die oorplanting op daardie tydstip in daardie omstandighede te hanteer?

“In sekere hospitale sal die geriewe en hulpbronne te min wees. Daar was beslis sekere tye wat daar potensieel personeeltekorte was. Dit het by alle hospitale gebeur.

“Jy móét altyd seker maak die chirurgie is in die veiligste belang van jou pasiënt. Elke prioriteitsgeval word geïndividualiseer in terme van veiligheid en die beste uitkoms vir die pasiënt.

“As daar groot druk op hulpbronne is, dan moet jy weet jou pasiënt sal nie daardeur bevoordeel word nie,” sê Vosloo.

Dr. David Thomson, hartchirurg van die Groote Schuur-hospitaal, sê ’n ander rede wat in dié tyd tot ’n afname in orgaanskenkings gelei het, is belemmerde interaksie tussen familielede van pasiënte en die personeel in waakeenhede.

Dit is veroorsaak weens die verbod op hospitaalbesoeke ten tyde van ’n groot deel van die inperking.

Volgens Thomson het dit daartoe gelei dat familielede van mense wat gesterf het en wie se organe gebruik kon word vir oorplanting, nié in dié tyd genader is vir die oes van organe nie.

Só het organe wat moontlik geskik was vir oorplanting, verlore gegaan.

Al is ’n pasiënt as ’n orgaanskenker geregistreer, sê Thomson, is dít alleen nie wetlike toestemming om die persoon se organe te verwyder wanneer hy sterf nie.

“Dit beteken slegs die persoon het die voorneme om sy organe te skenk. Die familie sal altyd genader word vir toestemming voordat organe geoes word. In dié tyd het daardie kommunikasienetwerk verbrokkel en baie skenkers is só verlore,” sê Thomson.

Minder trauma, minder organe

Dr. Shoyab Wadee, nefroloog van die Universiteit van die Witwatersrand se Donald Gordon Mediese Sentrum, sê ’n verhoogde infeksierisiko weens Covid-19 is ook ’n faktor wat daartoe gelei het dat baie van die oorplantingsprogramme ten tyde van die inperking gedeeltelik of heeltemal tot stilstand gekom het.

Die verbod op die verkoop van alkohol en die instelling van ’n aandklokreël ten tyde van die inperking het ook ’n uitwerking gehad.

Wadee sê daar was minder traumaverwante sterftes, wat gewoonlik in baie gevalle lei tot orgaanskenkings.

Sommige pasiënte wat wel as skenkers geregistreer was, het aan Covid-19-verwante komplikasies gesterf, wat dit onmoontlik gemaak het om hul organe oor te plant.

Wadee wys daarop dat akute nierversaking uiteindelik by sommige mense gediagnoseer is wat Covid-19 gehad het.

Maar, sê hy, dit het nie meer druk geplaas op die waglys vir niere nie.

Die meeste mense in Suid-Afrika wat op ’n orgaanoorplanting wag, het ’n nier nodig.

“Die waglys vir dié organe is en bly lank . . . Nierpasiënte kan tussen sewe en tien jaar deur dialise ondersteun word terwyl hulle op geskikte skenkerorgane wag, terwyl pasiënte wagtend op organe soos lewers, harte en longe, nie die ondersteuning het nie,” sê Wadee.

Hoewel daar ondersteuningsmeganismes is vir pasiënte wat wag op ’n hartoorplanting, is die oorbruggingstydperk nie so lank soos vir nierpasiënte nie.

’n Oorplantingsbrug

Twee van Vosloo se hartpasiënte, ’n vyfjarige seuntjie en 13-jarige meisie van Johannesburg, wag byvoorbeeld elk reeds meer as twee jaar op ’n geskikte skenkerhart.

Albei dié kinders het twee jaar gelede ’n linkerventrikulêre ondersteuningstoestel ontvang om die linkerhartkamer te ondersteun met bloedsirkulasie.

Dié toestel, wat dikwels ’n brug na oorplanting genoem word, koop slegs tyd totdat die pasiënt ’n skenkerhart kan ontvang.

Albei dié kinders moet so gou moontlik hartoorplantings kry om die kans op komplikasies, wat eindelik tot hul dood kan lei, te verminder.

In die geval van kinders is dit nóg moeiliker om geskikte skenkerorgane te kry.

Die poel van kinderorgaanskenkers is bitter klein en ’n pandemietydperk met streng inperkingsmaatreëls plaas ekstra druk op skenkings en oorplantings.

Botes is ’n vryskutjoernalis.

Meer oor:  Susan Vosloo  |  Hartshirurg  |  Inperking  |  Organe  |  Oorgaanskenkers  |  Orgaanoorplantings  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.