Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oriënteringsprak-tyke moes eintlik nooit eens bestaan het nie

Om die heel eerste keer jou eersgeborene saam met nog 120 gr. R-leerlinge op ’n groot bus te sien vertrek, is waarskynlik een van die swaarste afskeide wat ’n ma ooit sal neem.

Die kind, daarenteen, bruis van opgewondenheid – sy eerste skooluitstappie, spesiale eetgoed in ’n sakkie en geen skoolwerk ’n hele dag lank.

’n Veteraanma wat haar jongste afgesien het, slaan haar arm beskermend om jou: “Toemaar, ontspan, hierdie skool se onderwysers is superversigtig. Ek het gesien Chrissie en Daniëltjie sit langs mekaar.”

Enock Mpianzi

Jy stap weg, ’n klein bietjie gerusgestel, maar bid byna onverpoos voort; sê nou die bus breek op die N2, wat as die kind in die Kunstekaap alleen toilet toe gaan, en . . . 12 jaar lank sal die ma elke keer ongerus wees wanneer haar kind in ’n groot skoolgroep êrens heen vertrek. Elke keer wanneer haar kind doodmoeg en vol stof tuiskom, sal sy haar hande na Bo ophef. Parktown Boys’ High se leerkragte was nie eens naastenby versigtig en presies nie.

24 uur nadat hul oriënteringskamp begin het, kom die organiseerders agter dat Enock Mpianzi nie teenwoordig is nie. Sy ouers word gebel om te hoor of hy wel die kamp bywoon. Natuurlik was die ouers dadelik bekommerd.

Enoch se ma stort in duie wanneer sy moet hoor dat haar 13-jarige seun in die Krokodilrivier naby Brits verdrink het. Die ouers moes reeds R800 vir die bywoning van die kamp betaal en dus was daar nie nog geld vir ’n reddingsbaadjie nie.

Ontgroening, insouting, doop – praktyke wat eintlik nooit moes bestaan het nie. Reeds in 2018 het stemme opgegaan teen dié oriënteringspraktyke by die betrokke skool. By die Universiteit Stellenbosch is dit dalk aan die uitsterf – te danke aan groter kulturele diversiteit. Daar is egter steeds oud-Dagbrekers, oud-Wilgenhoffers en dies meer wat pleit dat dit ’n gesonde praktyk was en dat dit koshuisgees gebou het.

Ek self laat my kop in skaamte sak dat ek ook deel van die insoutery was, nogal in ’n leidende rol. Die arme eerstejaars is “Ditte” genoem en elke keer wanneer hulle een van die huis­komiteelede raakgeloop het, moes hulle hierdie rympie opsê: “Geëerd voel die nietige, derderangse dit, Marta Swart, om die wonderlike en beeldskone juffrou Jacoba Cronjé te groet.”

Die eerstejaars moes kaarte om hul nekke dra, sykouse oor hul hare trek en handdoeke onderaan hul minirokke werk om meer kuis te wees. Saans is konsert gehou en die nuwelinge is verneder.

Snags is die groentjies wakker gemaak en moes hulle ál hul klere uit die kaste haal, in tasse pak en sogenaamd teruggaan van waar hulle gekom het.

Ander kere is hulle uit hul slaap gewek en moes hulle om middernag met baaibroeke en sonbrandroom in die ontspanningsaal gaan lê en sonbruin. Belaglik, kinderagtig. Dan vra ek myself af: “Hoe kon ek?” Hierdie oriën­teringspraktyke maak natuurlik die deur vir belhamels wawyd oop.

Diegene wat nooit ’n sê het nie, kan nou na hartelus bevele aan die nuwelinge gee.

Bewys jou manlikheid; dit is blykbaar die hoofdoel van alle oriënteringsgeleenthede wat vir jong seuns aangebied word. Enoch sou beslis makliker aangepas het in die klaskamer, op ’n harde skoolbank, met pen en papier in die hand en voor die swartbord ’n streng maar vriendelike pedagoog.

Nou pryk sy foto op die voorblaaie van baie koerante. Wanneer die matriekuitslae egter in 2025 gepubliseer word, sal hy in sy afwesigheid skitter.

  • De Kock is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Ontgroening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.