Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oseaanreuse vandag weer in oorvloed hiér
Gerhard Verdoorn

Wit golwe kam met wit kamaste op die see en dans op die suidewind waar die warmer strome van die Indiese Oseaan reeds die ysige Atlanties oorwin het. Skuimspatsels van die branders waai lustig rond en malgasse klap stewig vlerk om met vol kroppe by hulle eiland te gaan setel.

Skielik slaan ’n donderslag oor die oseaan en water spat in ’n sterrenewel oor die onstuimige waters wat golf soos ’n tsoenami. Verder in die wilde gemaal van golf en deining blom ’n reuse-gedaante uit die water en plons met ’n groter donderslag die water in. Dolfyne speel saam met die walvisse in die rowwe see en toldraai uit die donker waters wat wit maanhare in die oggendlig gooi.

Die oseaanreuse het die suide van die Donker Kontinent in al hul glorie bereik en baljaar uitbundig, al is hulle waterwêreld uiters onstuimig. Oktober-winde kasty die see en maak boggelgolwe wat tjokkaskuite lank reeds land toe gejaag het. Die grote baai se inwoners lê angstig onder die woeste storm met fynbos wat soos veertjies in die wind verwaai word. Seesand poleer die uitgespoelde klippe en skulpe tot fyn juwele op die strand. Los skulpies hardloop vervaard op die sand om voor die wind weg te kom, maar die aarde se haastige asem wen die naelloop. As daar vandag mense op die strand was, sou die weë van die oseaanreuse soos ’n opera voor hulle ontvou.

ie suidelike noorkappers ploeg deur die rowwe see met sterte wat klap en vinne wat plasse seewater die lug in opjaag.

In die waters van die oseaan basuin die walvisse hul vreemde sonars oor verre dieptes heen. Dit gesels oor die suide waar die Antarktiese waters ysblou hul aptyt na die tjokka van die kontinentale water gehaas het. Dit wonder oor die kalfies wat binnekort in hul wonderlike waterwêreld sal opdaag.

Sommige skerts oor die bleekwit reus wat saam met hulle van die suide af gekom het en met sy aankoms mites en legendes onder die landbewoners gaan ontketen. Die suidelike noorkappers ploeg deur die rowwe see met sterte wat klap en vinne wat plasse seewater die lug in opjaag. Dolfyne blaas borrels van opgewondenheid oor die aankoms van die grotes, want die see sal vir eers vry van die witpense met die haaktande wees.

As die westewind se laaste woede uitgeblaas is kom die landbewoners na die rotse om die skouspel te beleef. Stoomkolomme blaas oral waar die logge liggame sorgloos onder die water dryf. Skole dolfyne patrolleer die water vir klein blinklywe en baljaar onder die vis. Malgasse duik pylaf water toe en grysrugmeeue kerm omdat hulle die minste van die blinklywe kry.

Ver van die kus dryf skepe met vragte na verre bestemmings, weg van die geboorteplek van die oseaanreuse.

Daar lê ’n kalmte oor die baaie en die meeste walvisse dryf net onder die oppervlak en blaas hul stoomwolke die lug is. Sewe eeue gelede was hulle op die afgrond, maar vandag is die suidelike noorkappers weer in oorvloed hier waar die Indiese Oseaan se waters die Atlanties begin tem.

* Dr. Verdoorn is 'n natuurliefhebber en -bewaarder. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 

Meer oor:  Gerhard Verdoorn  |  Walvisse  |  Natuur  |  See
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.