Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ou vlag: ’n Alternatiewe uitspraak

Die gelykheidshof se uitspraak oor die ou landsvlag het verlede week heelwat opspraak verwek. Hermann Pretorius skryf hoe sy uitspraak sou gelyk het as hy die regter was wat oor die saak besluit het.

Hermann Pretorius

Verskoon my as ek myself vir ’n oomblik verbeel ek is ’n regter in die gelykheidshof.

Pretorius: Wanneer ’n hof ’n kwessie van grondwetlikheid hanteer, moet daar met versigtigheid opgetree word. Die hof moet besef dat daar veel meer op die spel is as die blote feite voor hom, dat fundamentele stromings ter sprake is, dat die konsep van ’n grondwetlike staat deur die hof se denke en beslissing geraak word. Dit is met hierdie onus van verantwoordelikheid in gedagte dat ek die uitspraak in hierdie saak lewer.

Die Nelson Mandela-stigting, die eerste applikant, verlang van die gelykheidshof om te bevind dat die Unievlag van 1928 op haatspraak neerkom kragtens art. 10 van die Wet op Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Diskriminasie (die Gelykheidswet). Hierdie wetsartikel kan nie in isolasie oorweeg word nie omdat dit direk verband hou met ’n grondwetlike reg verskans in art. 16 van die Grondwet. Dit is dus ’n saak oor die fundamentele reg van vryheid van uitdrukking soos vervat in art. 16 van die Republiek se Grondwet en verder beliggaam deur art. 10 van die Gelykheidswet.

Art. 16(2) bevat die uitsonderings op die vryheid van uitdrukking. Binne die bestek van die huidige saak, is art. 16(2)(c) van toepassing, wat die “verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gegrond is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak”, ag buite die reg van vryheid van uitdrukking te val en dus beperk kan word. Omdat art. 16 ’n interne beperking bevat, sal interpretatiewe steun op art. 36 van die Grondwet nie benodig word binne die bestek van hierdie saak nie.

Dat die Unievlag, soos ander simbole, ook ’n geleier van haatspraak kan wees, is dus ’n onvermydelike gevolgtrekking.

Voor die hof is argumente geplaas van historiese en politieke waarde wat geen hof of Suid-Afrikaner mag ignoreer of gering skat nie. Die eerste applikant argumenteer oortuigend dat die Unievlag vir baie, plaaslik en internasionaal, ’n simbool is van rasse-onderdrukking en ’n herinnering aan die bose dade van apartheid. Dit is opvallend dat AfriForum, die eerste respondent, op hierdie punt in volle ooreenstemming is met die eerste applikant. Die hof se taak in hierdie verband is dus eenvoudig, en die gelaaide aard van die Unievlag kan aanvaar word as regsfeit.

Voor die hof is die argumente deur die eerste respondent geplaas dat art. 10 van die Gelykheidswet slegs op woorde van toepassing is en dat slegs woorde dus iemand aan haatspraak skuldig maak. Kortom kan hierdie argument verwerp word. Dit is regspraktyk, plaaslik en internasionaal, om vryheid van uitdrukking en vryheid van spraak as een en dieselfde ding te sien. Op basiese vlak, verder, is ’n simbool ’n konsep wat betekenis oordra. Op hierdie gronde is woorde ook ouditiewe of visuele simbole. Dat die Unievlag, soos ander simbole, ook ’n geleier van haatspraak kan wees, is dus ’n onvermydelike gevolgtrekking.

Brandende kruis in die VSA

Kragtens art. 38 van die Grondwet, is hierdie hof gemagtig om buitelandse reg in ag te neem in sy beslissings. In hierdie verband, verwys ek na die minderheidsuitspraak van Thomas R in die saak van Virgina v Black in die hoogste hof van die VSA.

Ter sprake in daardie saak was die grondwetlikheid van ’n stuk wetgewing wat in Virginië die brand van ’n kruis verklaar tot ’n misdaad. Black is kragtens hierdie wetgewing in die hof van eerste instansie skuldig bevind, maar argumenteer op appèl dat sy reg op vryheid van uitdrukking onregmatig deur die wetgewing beperk is. Die hoogste hof gee hom in ’n meerderheidsuitspraak van 8 tot 1 gelyk, maar Thomas R, die enigste swart regter op die bank, verskil van die meerderheid.

Waar die Unievlag ten toon gestel word en feitelik bewys kan word dat dit in werklikheid in die plek staan van ’n dreigement van geweld gegrond op ras, sal daardie tentoonstelling haatspraak uitmaak.

Thomas R maak die oortuigende argument dat die brand van ’n kruis in die suide van Amerika, waar Thomas self vandaan kom, slegs een ding beteken: ’n dreigement van rassegeweld teen ’n swart persoon. Gevolglik, bevind Thomas R, behoort Black se skuldigbevinding te staan, aangesien ’n dreigement van geweld nie binne die bestek van spraakvryheid val nie.

Goedkeurend van die regsredenering in hierdie minderheidsuitspraak, bevind hierdie hof soos volg:

Waar die Unievlag ten toon gestel word en feitelik bewys kan word dat dit in werklikheid in die plek staan van ’n dreigement van geweld gegrond op ras, sal daardie tentoonstelling haatspraak uitmaak.

Ander tentoonstellings van die vlag, hoe ongewild dit ook al mag wees vir groot dele van ons samelewing, word beskerm deur art. 16 van die Grondwet omdat dit eenvoudig nie voldoen aan die beperkingsvereistes soos in die Handves van Regte vervat nie.

* Hermann Pretorius is ’n ontleder by die Instituut vir Rasseverhoudinge en kan by @Meneer_Mann op Twitter gevolg word. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.