Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Oudae se pret en samesyn in ’n familiekooi

Met die viering van my 60ste lewensjaar nou anderdag pak die nostalgie my mos behoorlik beet.

Want toe moes ons noodgedwonge die tyd terugdraai na ’n praktyk wat seker donkiejare gelede reeds uitgesterf het – ’n familiekooi.

Ek was ’n laaitie in ’n tyd toe die luuksheid van hotelle nie vir almal beskore was nie. Mense moes maar tevrede wees om in die sogenaamde “coffee shops” van destyds te oornag.

Dit was nou plekke waar reisigers vir ’n nag of twee teen betaling kon oorslaap en ook iets te ete en te drinke kon kry.

Familie het dikwels by ons aangedoen. Veral as daar begrafnisse of ander familiebyeenkomste was. Dan was ’n familiekooi die enigste uitweg in ons tweevertrek-modderhuisie.

Oupa en ouma sou hul koperkatelkooi vir die belangrikste gaste afstaan en ons voorhuis se beesmisvloer omskep in slaapplek vir almal en algar in die huis. En was dit nou vir jou ’n gedoente! Om die gaste ’n rustige nagrus te verseker sou ouma eers die mielieblaarmatras omdraai en ’n stel vars Sasko-meelsaklakens oortrek.

Dan sou sy alle oortollige kooigoed in die voorhuis lê-maak. Enigiets wat sou deug as beddegoed, van haar lappieskomberse tot gordyne en selfs oupa se snoesige oorlogjas.

In ’n familiekooi moes jy jou lê ken en jou lyf behoorlik sardientjie hou.

In ’n familiekooi moes jy jou lê ken en jou lyf behoorlik sardientjie hou. Daar is sommer so kruis en dwars oor die vloer geslaap en lê-spasie was beperk. Jou kleinhuisiebesoek moes jy afhandel vóór jy jouself lê-maak, want as jy nánag moes opstaan en gaan, het jy die hele voorhuis die harnas ingejaag.

Tussen die magdom lywe moes jy ook in die vetlampie se skemerte jou trap ken, want niemand hou daarvan om uit die slaap wakker geval te word nie.

Van in ’n vol pou trap, sê ek liewer nie veel nie. Dit het die spreekwoordelike kat tussen die duiwe losgelaat, en dan het ’n groot geswets gevolg en moes ’n deel van die slaapgeselskap noodgedwonge opstaan.

Vir ons laaities was ’n familiekooi die grootste pret. Van waar ons slaapplek aan die kombuiskant voor die louwarm Welcome Dover-stoof ingerig was, het ons tot ons groot vermaak geluister na die res van die huismense se verskillende snorkgeluide. Veral dié van oupa, wat geklink het asof hy warm pap koud blaas. Dan was daar die groot gekreun en gekerm oor seer lywe met die opstaantyd.

En daar vat ’n groep familielede wat op kort kennisgewing by my verjaardagmakietie opdaag, my sowaar terug na toeka se tyd. Hoe nou gemaak met die slapery? Dis toe dat my raakvattervrou van 35 jaar met ’n plan vorendag kom, nes my ouma van ouds.

Want hier in die middernagtelike ure luister ek toe na musiek wat my ore jare gelede reeds verleer het. Komende vanaf ’n familiekooi so groot soos Loftus Versfeld op my plattelandse voorhuis se plankvloer.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Pret  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.