Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ouderdom is g’n hindernis vir Biden nie

’n Beswaar wat ’n mens dikwels ten tyde van die Amerikaanse verkiesingsveldtog teen Joe Biden gehoor het, is dat hy te oud (78) vir die werk is. Of selfs dat hy seniel is.

Dit is, om dit reguit te stel, kwaadwillig. Biden­ is wel oor sy hoogtepunt heen, maar ver van seniel.

Trouens, daar is verskeie voorbeelde van ander staatsmanne wat ook al bejaard was terwyl hulle die hoogste sport beklee het en wat beslis nie as seniel of as mislukkings beskryf kan word nie.

Dalk die beste voorbeeld is dié van Konrad Adenauer, wat in 1949 op 73-jarige leeftyd Wes-Duitse bondskanselier geword het. Hy het dit gebly tot in 1963, toe hy op 87 afgetree het – een van die suksesvolste Duitse regerings­leiers ná die Tweede Wêreldoorlog.

Nog een is genl. Charles de Gaulle van Frank­ryk, wat in 1958 op 68 jaar president geword het en ’n dekade later op 78 afgetree het. Of pres. Ronald Reagan: Hy was 70 toe hy in 1981 in Washington ingehuldig is en 78 toe hy afgetree het.

Biden is wel oor sy hoogtepunt heen, maar ver van seniel.

Die veelgeroemde Britse premier sir Winston­ Churchill het in 1940 onder uiters moeilike omstandighede aan die bewind gekom. Hy was toe nog taamlik jonk – 65 – maar toe hy in 1951 vir die tweede keer premier word, was hy al 77 en het dit gebly totdat hy uiteindelik op 82 afgetree het.

Dit is wel waar dat Churchill in sy tweede premierskap nie so op en wakker soos in sy eerste bewindstydperk was nie.

Les bes is daar ons eie Nelson Mandela­, wat 76 was toe hy die leisels as president in Suid-Afrika in 1994 oorgeneem het. Hy het in 1999 op die rype ouderdom van 82 afgetree.

Mandela se bewindstydperk was nie vlekkeloos nie; hy het min aandag aan administratiewe sake gegee. Hy was wel ’n geslaagde simboliese leier wat mense ver buite sy eie etniese groep kon inspireer. En vergeleke met wat ná hom gekom het, kan niemand sê Mandela was destyds ’n seniel ou man nie.

Feit is dat kalender-ouderdom nie noodwendig dieselfde is as jou liggaamlike en emosionele ouderdom nie. As sake reg verloop, kan ’n relatief hoë kalender-ouderdom, wat met veel ervaring gepaardgaan, juis ’n voordeel wees.

Dit hóéf natuurlik nie so te wees nie. Oudpres. Donald Trump is spottenderwys – maar nie heeltemal verkeerdelik nie – soms die “toddler-in-chief” genoem, as woordspeling op die Amerikaanse president se titel van “commander-in-chief”.

Hy het immers dikwels die indruk gewek van ’n omgesukkelde kleuter wat sy speelgoed uit die kot gooi wanneer hy nie sy sin kry nie.

Of Biden ’n goeie president gaan wees, staan nog te besien. Maar sy ouderdom maak hom nie noodwendig ongeskik vir die amp nie.

  • Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Wêreldburger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.