Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Oudtshoorn het my weer bietjie moed gegee’

Gespreksreekse op kunstefeeste het nuwe betekenis gekry in die onsekere dog opwindende tyd waarin Suid-Afrikaners leef, skryf Gert van der Westhuizen.

Gert van der Westhuizen

Ek het nog altyd gedink gesprekke op feeste soos Aardklop, die Woordfees en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees is eintlik ’n mors van tyd. My vermoede was dat min mense dit bywoon, dat hulle nie juis veel ag slaan op wat gesê word nie en nie juis self aan debatte deelneem nie.

Maar ná ek verlede week elke dag Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die KKNK in Oudtshoorn bygewoon het, dink ek anders.

Ek was verstom om te sien hoeveel mense elke dag die gesprekke bygewoon het. Hulle het gekom om te luister na debatte oor die hede, die verlede en die toekoms. Hulle het gehoor hoe daar gepraat word oor die invloed van ons voorouers op ons lewe vandag, korrupsie en die toestand van ons kultuur, ekonomie en politiek.

Hulle het nie geskroom om aan debatte deel te neem deur vrae te vra en agterna met sprekers te gesels nie. Van hulle het ook graag gelees wat later oor die gesprekke geskryf is.

Die afwesigheid van onverdraagsame houdings wat só dikwels met gevoelens van meerderwaardigheid en rassisme verbind kan word, was opmerklik afwesig. Dit was duidelik dat mense oor die algemeen werklik bekommerd is oor wat in Suid-Afrika aangaan en in die toekoms gaan gebeur en dat hulle bereid was om met aandag te luister; selfs na mense met wie hulle nie saamstem nie.

Ek kan nie glo ek sit hier as ’n wit dude wat ’n coloured dude moet oortuig ons moet van ’n rassistiese lied ontslae raak nie,
Deon Maas

Iemand soos Mzwanele Manyi, stigter van die Decolonialisation Foundation en ’n voormalige regeringswoordvoerder, het wel ’n onderlangse gebrom uitgelok toe hy pres. Jacob Zuma en die omstrede Gupta-familie se kant van die saak probeer stel het.

Daar was geen rassistiese opmerkings wat sy optrede versuur het en mense soos Zuma skietgoed gee as hulle rassehaat wil aanblaas nie.

Manyi was nogal dapper om in die spreekwoordelike kake van die leeu in te stap deur voor ’n gehoor op te tree wat hom na verwagting nie met ope arms sou verwelkom nie – veral nie omdat sy gespreksgenoot die gewilde dr. Mathews Phosa was nie.

Mzwanele Manye, stigter van die Decolonisation Forum, in gesprek met dr. Mathews Phosa, prokureur en politikus, tydens Die Burger Praat Saam-gesprekreeks. Foto: Jaco Marais

Hy het reg in die begin gesê hy verstaan Afrikaans en kan dit praat, maar gaan die gesprek in Engels voer omdat “jy uit jou gemaksone gehaal moet word as jy wil transformeer”.

Die charismatiese Manyi wat gereeld so lekker kan lag, het gewys dat dit moontlik is om op ’n beskaafde manier na standpunte te luister waarmee jy nie noodwendig saamstem nie, al word jy uit jou gemaksone gehaal. ’n Man wat nie baie beïndruk was met Manyi se omstrede uitsprake oor bruin mense toe hy nog direkteur-generaal van die department van arbeid was en as Jimmy bekend gestaan het nie, het agterna sy selfoon in my hand gedruk: “Vat ’n kiekie van my en Jimmy asseblief,” het hy gevra.

Dit mag dalk ’n klein en onbenullige gebaar wees, maar Suid-Afrika het baie meer sulke oomblikke nodig, weg van die massaoptogte in die strate en die media se kameras.

’n ‘Rassistiese lied’

Die gesprek oor die toekoms van “Die Stem” was ewe betekenisvol. Die skrywer Dennis Cruywagen, geklee in ’n T-hemp waarop die gesig en naam van die vermoorde Swart Bewussynsleier Steve Biko afgedruk is, het die behoud van “Die Stem” as deel van die volkslied bepleit. Sy gespreksgenote, die skrywer en politieke ontleder Max du Preez en die skrywer en media-persoonlikheid Deon Maas, wou weer niks daarvan weet nie.

“Ek kan nie glo ek sit hier as ’n wit dude wat ’n coloured dude moet oortuig ons moet van ’n rassistiese lied ontslae raak nie,” het Maas opgemerk.

Weet pa dat Suid-Afrika al ’n wit president gehad het?

Jong mense het ook hul stem laat hoor by die debat oor “Die Stem” en met sinvolle voorstelle vorendag gekom. Dit het jou weer laat besef dat jong mense van vandag nie noodwendig die verwysingsraamwerk en lewenswêreld van mense soos Zuma en oudstryders vir apartheid deel nie.

’n Pa in die gehoor het dit duidelik tuisgebring toe hy vertel het van sy 14-jarige dogter wat hom gevra het: “Weet pa dat Suid-Afrika al ’n wit president gehad het?”

Dit is vir jong mense soos sy dat ons ’n beter toekoms moet skep. Ons kan begin deur met mekaar te praat, want dan beteken dit ons aanvaar mekaar en luister na mekaar omdat ons ’n beter Suid-Afrika wil bou. Die gehoor by feeste soos die KKNK is steeds oorwegend wit en ’n mens sien steeds te min jong mense by gespreksreekse wat deur ’n klein groepie feesgangers bygewoon word.

Maar verlede week in Oudtshoorn het my weer ’n klein bietjie moed gegee. Miskien gryp ek na stroooihalms. Dit is dalk, om Winston Churchill se woorde effe te verdraai, dalk net die begin van die begin.

Maar ten minste is dit is ’n begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.