Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ouerskap is oorlewing van sterkeres
Annemarie van der Walt

Dis ’n ander ding, dié ene om ’n ouer te wees. Sekerlik een van die grootste le­wensavonture wat die meeste van ons toetentaal onvoorbereid aanpak én geniet. Meestal.

Een ding kom ek wel agter toe ’n tydskrif vir jong ouers die afgelope week of wat in my hande beland: Ek het foute gemaak, en grotes.

Synde ek destyds toe die dogters klein was nie sulke tydskrifte gelees het nie omdat daar nie tyd was nie, besef ek nou eers onder meer dat die chaotiese oggende voor skool inderwaarheid pure speeltyd kon wees.

Dis nou te sê as jy die kosblikke “sommer” die vorige aand gepak het terwyl jy ieder geval besig was met aandete (en die kinders seker toe op eie stoom hul somme gedoen, gebad en die belastingvorm ingevul het), jou kind se tas deurgevis het vir omsendbriewe en meer op dieselfde Pollyanna-trant.

As jy al dié onwaarskynlikhede met ’n engel­glimlag afgehandel het, dan sou jy vroegoggend vrolik vir Sus kon wakker sing met ’n spesiale liedjie en haar ontbytkossies in ’n prentjie rangskik op die tafel wat reeds gedek is daardie onhebbelik besige vorige aand.

Die meeste skoologgende van my kinders kan ek egter nie lekker terugroep nie. Dis wat trauma aan ’n mens doen, skynbaar. Maar die troos is in ’n vriendin se wyse gelatenheid – sê sy dis nou nie dat ’n mens in die oggend opstaan en besluit vandág is die begin van Sus of Boet se komplekse nie . . . dis net, as die kam val, is almal laat, by wyse van spreke.

So strompel ons ouers as’t ware voort in blinde geloof, geduld, hoop, geduld, liefde en geduld. Hope ongeduld ook, want nes jy een fase onder die knie kry, is die telge in ’n volgende en jy opnuut op ongekaarte terrein.

Vir wat ek gaan soeklees het in daardie tydskrif vir ouers met jong kinders is ’n raaisel.

Dit was dalk suiwer nostalgie en ’n soeke na buitelyne vir die waserige kolle in die geheue. Dalk gedag daar sal één kolom raad wees oor hoe om ’n beste ouer te wees vir die wordende volwassenes van jou vlees en bloed.

Dis nou nie dat ’n mens in die oggend opstaan en besluit vandág is die begin van Sus of Boet se komplekse nie . . .

Helaas nie ’n letter oor hoeveel keer die woord “verlang” toelaatbaar is in e-gesprekke nie, ook nie oor “pasop” nie.

Nie ’n sin oor hoe jy die “donker nag van die siel” namens ’n kind deurgaan nie – want jy kan nie.

Geen wenk oor waar presies is die fyn lyn tussen inmeng en belangstelling toon nie.

Soms voel dit kompleet ek het weer ’n kind se poniestert in die hande, maar die haarrekkie het in die harwar geval en ek moet als laat los om voel-voel en op die knieë te soek.

Dis gewoonlik juis dan wanneer die telefoon lui: “Haai Ma, wat doen Ma?”

Jy sal nie glo nie, sê ek dan, maar ek het iets gesoek en dit gekry nét toe jy bel.

En dan stof ek my eelterige knieë so suutjies af, diep dankbaar hulle het my ouerskap oorleef.

Meer oor:  Menings  |  Ouers  |  Kinders  |  Ouerskap  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.