Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Overvaal: ‘Só kan dit nie aangaan nie’
Barnard Beukman

In die uitlopende reaksie – ook uit Afrikaanse geledere – op verlede week se Slag van Overvaal is daar tog soort van een deurlopende tema: “So kan dit nie aangaan nie.”

Inderdaad. Vir ouers om kinders skool toe te neem te midde van kru vloektaal, doodsdreigemente, brandende bande en die geknal van skokgranate is heeltemal onaanvaarbaar.

Dit is duidelik – wat ook al ons tot by die punt gebring het en wat ook al die oorsaak daarvan was – ’n oplossing is nodig.

Selfs nadat die ongelykheid van apartheid ingereken is, is hier ’n groot hedendaagse politieke bedrogspul aan die gang. In kort het die ANC (al weer) skouspelagtig misluk in die dienslewering van skole. En in baie gevalle is bestaande begrotings nie eens gebruik nie – vir 2016-’17 is slegs 16 van die begrote 59 skole landwyd gebou. En honderdmiljoene van die geld is verloor deur die boutenders wat toegeken is.

Al weer onbevoegde regering en stroop van armes se bronne vir die verryking van ’n fisiek oorgewig struggle-elite. Selfs die voedingskemas word besteel.

Te midde van toenemende ontevredenheid het die mees misplaaste politieke heethoof van ons tyd, Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, soos ’n held op ’n figuurlike wit perd op die toneel verskyn.

Sy boodskap is daar is nie voldoende skoolgeriewe nie, want wit kinders sit in onderbesette geboue. En hulle gebruik Afrikaans as verskoning en grootliks rassisme om swart kinders daar uit te hou.

Destyds, by die instelling van uitkomsgebaseerde onderrig, is enige argument daarteen afgemaak as ’n vasklou aan apartheid en ’n onwilligheid om te transformeer. Nou erken almal dit het ons skoolstelsel bykans vernietig. Dit lyk asof ons vir dieselfde siklus van 20 jaar met die beleg van voormalige model C-skole opgestel word.

Baie meen Overvaal se hofoorwinning is waarskynlik tydelik en dit is ’n stryd wat Afrikaans net kan verloor.

Miljoene rande wat deur dié skole in die onderwys vloei, gaan ook waarskynlik verlore wees vir openbare skole. Want dit gaan vloei na private skole – nuwe bekostigbare modelle ook. ’n Inisiatief in dié verband het reeds deur die Dagbreek-trust se onderwysafdeling begin.

Hoe ook al sy, baie lesers en waarnemers meen Overvaal se hofoorwinning is waarskynlik tydelik en dit is ’n stryd wat Afrikaans net kan verloor.

Baie gewone en goeie swart ouers weet nie eens van al die argumente nie. Uit hul oogpunt word hul kinders uit die naaste skool gehou waar hulle hoor wel nog sitplekke is. In die bona ­fide-soeke na basiese bronne, ook onaanvaarbaar.

’n Dringende ingrypingsini­siatief is nou nodig tussen alle betrokkenes om ’n standhoudende vredesakkoord te probeer kry. Dit is ’n noodsaaklike toets vir ons samelewing.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Overvaal  |  Onderrigtaal  |  Rassisme  |  Onderwys  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.