Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pa, ek onthou elke les wat jy my geleer het
Aniki Joseph

Noudat ek uitgeswel van lyf is kan ek treur / oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma, / die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my / op die knieë van hul Gij Here God lê; – “ ’n brief van hulle vakansie”, Breyten Breytenbach.

Pappa, toe dit winter was op die langste nag en die kortste dag van ’n jaar, het jy my pa geword en ek jou dogter.

Buite het die aarde se poeiergrys winterlandskap geruik na konkarook. Binnenshuis het ’n kaggelvuur knetterend in rooi vreugdetonge gedans.

Vanoggend diep ek weer herinneringe op wat iewers soos soet geheime geberg is. Soos die buitelyne van Pa se gesig teen die vlampunt van die kers in die blaker op die bedkassie wanneer dit bedtydstories was.

Dit was die eerste lewensles wat ek geleer het. Stories laat jou reis. Dit verplaas jou. Laat jou droom. Jy het my geleer dat ’n mens nooit vir ander mense se drome moet lag nie en nooit moet ophou droom nie. Jy in jou koordjiesferweelbroek en wettige wintersokkies. Ma wat Vicks smeer aan ons kuiltjieholtes en ook onder ons voete. Die reuk van Borstol.

Pa, jy het my geleer wanneer ’n mens sê: “Ek gooi tou op,” is daar iemand anders wat dieselfde situasie sien en sê: “Ek sien ’n geleentheid.”

Dat geen tyd met jou kinders verkwiste tyd is nie. Om te vra of ek nuwe kennisse met my voordeursleutel kan vertrou. Indien nie, nuwe vriende te soek.

Nie nee sê totdat ek die volle verhaal gehoor het nie. Nie alles te glo wat ek hoor, alles uitgee wat ek het of slaap soveel as wat ek wil nie. Die huidige te hanteer wanneer geskille met verliefdes opduik en die verlede te vergeet.

Nie nee sê totdat ek die volle verhaal gehoor het nie. Nie alles te glo wat ek hoor, alles uitgee wat ek het of slaap soveel as wat ek wil nie. Die huidige te hanteer wanneer geskille met verliefdes opduik en die verlede te vergeet.

Nooit saam te ry wanneer die bestuurder onder die invloed van drank is nie. Om te spaar op die kleinste salaris. Net so vriendelik te wees met die deurwag as met die uitvoerende bestuurder. Altyd ’n kamera byderhand te hê.

Dat daar mense mag wees wat redes opper oor hoekom ek dinge nie kan bereik of doen wat ek gebore is om te doen nie, maar dat drome realiseer.

Ek verlang daarna om jou te sien biltongboekies kerf, lemoen skil in geelgoue spirale met jou knipmes. Die skil van ’n nartjie tot sproeireën tussen jou vingers knak.

Daardie vingers wat ’n banjo en kitaar kon tokkel. Mense kon laat sing en dans, sonder dat jy ooit een enkele musieknoot kon lees.

By jou het ek geleer van die wetenskap in miere, bye, vlinders, duisendpote en toktokkies se bestaan. Wanneer die uitspansel die sterre soos medaljes aan die nagfluweel speld, het jy ons die name van die planete geleer.

Hier waar die harde winters en nat somers / my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor / die soet hart van my moeder / my pa se stil en bitter krag. – Breyten Breytenbach.

  • Joseph is ’n skrywer en ’n reisiger van Pretoria.
Meer oor:  Aniki Joseph  |  Pa  |  Vaderskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.