Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pa, ek wil waai, die berghut het nie WiFi nie!
Charles Smith

‘Wonderwerk: ’n Seun oorleef ses maande sonder WiFi!”

Dit is seker die beste tong-in-die-kies-storie van die jaar. Eerstens gaan geen kind só nagmerrie oorleef nie. En tweedens wys dit hoe ons in stilte in die knyp geraak het.

Ons as samelewing is slimfoonverslaaf. Ons sal moet drastiese stappe doen om ons kinders terug te wen, maar dit is feitlik onmoontlik. Want ons is self verslaaf. Ons gesels minder, lees minder, stel minder in mekaar belang.

Ons voer gesprekke op WhatsApp en klets op Facebook. En ons verwoes, verkleineer en belaster mekaar op enige sosiale media omdat ons dit vanuit die veilige fort van ons huis kan doen.

In die ou dae is ons as kinders beperk met sakgeld. Maar ons sal nou ’n streep met data moet trek. Was skottelgoed en jy kry data. Was my kar vir ’n maand en jy kry 1 Meg om op Instagram rond te lê.

Ons moet kinders leer om die werklikheid te kan “like”.

Ouers wat in Facebook leef en hul kastele in Pinterest bou en kinders wat hul droom-lewe in Instagram uitleef, lei tot ’n toenemende gebrek aan kontak met die werk-likheid. Jy moet ’n prentjie kan “like” om daarvan te hou. Anders is dit nie die moeite werd nie.

Ons moet kinders leer om die werklikheid te kan “like”. Om in die veld te stap en te kan sê: “Kyk die mooi blom.” Of: “Dit is lekker om die son op my te voel en te sien hoe die wolke oor die berg waai. . .” In plaas van: “Pa, ek wil waai. Die berghut het nie WiFi nie!”

As ons ’n projek kan begin waar kinders net ons nasionale diere- en plant-simbole in die natuur kan beleef, sal ons al baie ver gevorder het om die kinders terug te wen. Dit sal help as ‘ onderwysers sê: Neem vir my sélffoto’s van ’n springbok, ’n kraanvoël, die koningsprotea en van ’n galjoen. Of van ’n pragtige geelhoutboom wat groot en massief bó ander bome uittroon.

Ek wil hoor dat ’n kind vir my opgewonde vertel hy het gesien hoe ’n springbok in die veld in die Karoo pronk, eerder as wat hy vertel van nog ’n toertjie in die fliek Avengers.

Ek wil nie hê hy moet my net vertel hoe hy ’n springbok geskiet het nie. ’n Kind moet eers leer om die lewe te waardeer voordat hy of sy leer om iets dood te maak.

Ek wil hoor ’n kind vertel om die vuur van die wonderwerk om ’n suikerbekkie op ’n konings-protea in die veld te sien en die Kaapse fynbos te ruik, want dit is verslawend.

Ek kan dit ure lank doen.

Ek wil hê ’n kind moet dit beleef om te hoor hoe ’n bloukraanvoël hoog bó hom of haar in die Vrystaatse lug roep. Want ons gaan dit nog net ’n dekade of twee hoor.

As ’n kind vir jou sê: “Pa, vandag in die veld was wonderlik!” begin ons ons kinders van Vodacom, MTN, Cell C en Telkom terug te wen.

As hulle voel hoe ’n galjoen ruk aan die lyn en die vis weer kan vrylaat in die see, is dit om hulle terug te wen.

Sonder WiFi.

Meer oor:  Charles Smith  |  Natuur  |  Realiteit  |  Wifi  |  Selfoon  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.