Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pad is lank as jy nie kan gesels

As ’n mens so baie langpad soos ek ry, het jy baie dinktyd en kan jy kilometers en myle se nonsies uitdink terwyl die predikantjies verby jou flits.

Blouwillem

Met predikantjies bedoel ek nie pas afgestudeerde teologiestudentjies nie, maar daai wit paaltjies wat vir jou sê hoe ver of hoe naby jy in jou omswerwinge van die naaste dorp af is.

Elke keer as so ’n predikantjie by my verbyflits, dink ek aan die dag toe ek op Vosburg vir die petrolpomper gevra het wat hul naaste dorp is en hy antwoord: “Nee, meneer, ons het nie ’n naaste dorp nie.”

Ja, op die langpad wil ek klokslag halfses vir Ouma Tinkie met my bloutandselfoon bel, maar dan onthou ek sy is nie meer belbaar nie. Ai!

As jy so vieruur in die pad geval het, verlang jy mos al teen ligdag na baie ouens.

Maar jy ken mos jou pêlle se slaapgewoontes goed genoeg om nie die vriendskap te versuur met ’n gebellery nie.

Jou ou maat is dalk al hanekraai wakker, maar vroutjie snoes nog en net daar het hy én jy moeilikheid.

Veral as dit een van daai onsinnige, niksseggende gesprekke is waarvoor ons manne berug is.

Gewoonlik kan ek darem vir Ouboet Jan bel, want hy boer mos, maar soms is ek vyf minute laat en dan skraap hy al daai aaklige hare van sy gesig af en hoor my nie.

Oom Johnny was nooit teen verandering nie, maar hy het ook geglo ’n mens torring nie aan iets wat werk nie.

En ja, vir Oom Johnny mis ek elke keer as ek iets snaaks hoor of raaklees en dis omtrent heeldag en heelpad.

Oom Johnny was nooit teen verandering nie, maar hy het ook geglo ’n mens torring nie aan iets wat werk nie. Hy kon byvoorbeeld nie insien hoekom kinders vandag anders leer lees en skryf as in ons tyd nie, hoekom mense ’n pragtige springbokkie swart wil teel of ’n waatlemoen sonder pitte en ’n veselperske sonder vesels nie.

Is ons dan nou slimmer en ouliker as die oorspronklike vervaardiger?

En terwyl ek so ry, hoor ek dié week hulle maak nou ’n vegetariese burger wat na vleis proe.

Ek weet Oom Johnny sou net sy kop geskud en gebrom het: “ ’n Vegetariër is mos in elk geval nie veronderstel om te weet hoe vleis proe nie, of hoe?” of: “As die misgebakte namaaksels bedoel is vir bekeerde vegetariërs wat reeds weet hoe vleis proe, hoekom draai hulle nie maar weg van hul verkeerde weë af terug na die vleispotte nie?”

Ja, my oom, dis waaroor ek wou bel, want jy sou ook dalk gewaarsku het dat die volgende stap Brusselse spruite of spinasie is wat soos “Fizzers” of suiglekkers smaak sodat kinders mal sal wees daaroor. Of katkos wat soos muis smaak.

Hy wou eenkeer nadat ek ’n krokodilplaas se restaurant besoek het, by my weet hoe krokodil nou eintlik proe. Baie soos hoender, antwoord ek. “Nou hoekom bestel jy nie dan liewers hoender nie, dis mos goedkoper en minder gevaarlik?!”

Meer oor:  Blouwillem  |  Hoender  |  Vegetaries  |  Langpad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.