Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Pad na ANC se gewete loop deur die maag'

Die maande lange stryd om die stemming oor Dinsdag se wantrouemosie in die geheim te laat geskied het weer eens duidelik gewys: die pad na menige politikus se gewete loop deur die maag – oftewel die salaristjek. Opposisiepartye was oortuig dat hulle die ANC se ysere partydissipline sou kon knou, indien sy LP’s volgens hul gewete, en nie hul brood en botter nie, sou kon stem. Dit was egter kwalik die geval – die veiligheid van die hand wat hulle voed het steeds te swaar geweeg.

Die ANC se parlementêre boelietaktiek veroorsaak dat daar dikwels vinger gewys word na ons kiesstelsel, wat LP’s tot stemvee reduseer. LP’s is nie direk verantwoordbaar teenoor kiesers nie, en is banger vir die swepe as die stembus. Daar is egter ’n bisarre stukkie geskiedenis wat wys net hóéveel mag die parlementêre salaristjek oor die politiek kan uitoefen, en dit het weinig met die kiesstelsel te doen.

In 1933 was daar ’n groot opskudding: genl. J.B.M. Hertzog se regering het aan ’n draadjie gehang. Die Nasionale Party was reeds sedert 1924 aan die bewind, maar die Groot Depressie het hard gebyt. Danksy Hertzog se hardkoppigheid het Suid-Afrika sy geldeenheid aan die goudstandaard bly koppel, terwyl ander lande daarvan afstand gedoen het. Dit het die Suid-Afrikaanse geldeenheid kunsmatig hoog gehou. Boere kon nie uitvoermarkte vir hul produkte kry nie en kapitaal het die land uitgestroom.

Dit het in ’n krisis ontaard toe die gesoute politieke opportunis Tielman Roos besluit het om munt daaruit te slaan. Soos ’n wafferse Malema het hy van die politieke verhoog beloof om tot Suid-Afrika se ekonomiese redding te kom. ’n Aantal Volksraadslede het hom gesteun. Indien hy hulle van die NP sou kon afrokkel en met die opposisie – naamlik Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party – kon saamspan, sou hy die regering uit die kussings kon lig.

Toe die nuus uitlek, was daar aanvanklik ’n gemor in die parlementêre wandelgange.

Hertzog moes vinnig plan maak. Terwyl die parlement ’n mosie van wantroue in die regering gedebatteer het, het hy met Smuts agter die skerms begin onderhandel. Die uiteinde was ’n koalisie-ooreenkoms tussen die regerende party en die opposisie, wat Roos uitgeskakel het.

Toe die nuus uitlek, was daar aanvanklik ’n gemor in die parlementêre wandelgange – tot die lede uitgevind het dat hul leiers ooreengekom het om nie mekaar se setels in die volgende verkiesing te betwis nie. Bestaande parlementslede was dus verseker van ’n onbestrede verkiesing in hul onderskeie kiesafdelings – mits hulle deur hul plaaslike tak benoem is. Met hul setels – en dus hul inkomste – verseker, was daar skielik ruime ondersteuning vir die koalisie. Die Kaapse NP het wel die koalisie teengestaan, maar selfs hulle het by Hertzog gaan seker maak dat hul setels ook veilig sou wees.

Die 1933-verkiesing was dus ’n kunsmatige affêre. Dit was toevallig ook die eerste verkiesing waarin wit vroue kon stem en as kandidate kon staan, nadat hulle stemreg in 1930 verkry het. Hier en daar het ’n onafhanklike kandidaat besluit om sake vir die plaaslike Volksraadslid warm te maak – onder meer in Calvinia, waar mev. A.C.S. Steenkamp vir D.F. Malan geopponeer het. Hy het sy setel behou, maar sy meerderheid het gekrimp.

Hertzog en Smuts kon dus daarin slaag om hul koalisie te beveilig deur parlementslede as’t ware om te koop, maar dit was van korte duur. In die daaropvolgende jaar, nadat hulle besluit het om hul partye tot die Verenigde Party te laat saamsmelt, het daar ’n skeuring plaasgevind: D.F. Malan en sy volgelinge het weggebreek. 14 jaar later was Malan aan die bewind.

  • Koorts is ’n historikus aan die Universiteit van die Vrystaat.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.