Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Palestina: keuse tussen onreg en geregtigheid

Die Palestynse kwessie is ’n mikrokosmos van soveel dinge wat in ons wêreld verkeerd is. Uiteindelik is dit ’n keuse tussen onreg en geregtigheid, tussen eerlikheid en valsheid, en tussen integriteit en dubbele standaarde, skryf Marthie Momberg.

’n Palestynse man gooi ’n traanrook-granaat terug na die Israeliese veiligheidsmagte in Nablus. Foto: Reuters

“As jy in ’n bakleiery is wat jy nie kan verloor nie, hoe hard moet jy teen ’n kleiner opponent terugveg?” het die komediant Trevor Noah onlangs gevra. En om sy punt te verduidelik, wou die gasheer van The Daily Show ook weet: “As iemand ’n mes vashou, moet die polisie hom skiet? Wat is jou verantwoordelikheid as jy soveel mag het?”

Noah se pogings om die magsverskil in die geweld tussen die Israeli’s en die Palestyne uit te wys, het woedende kommentaar in die VSA ontlok. Hy is daarvan beskuldig dat hy nie die “kompleksiteite” in ag neem nie en dat Israel die reg het om hom teen ’n “terroriste-groep te verdedig”.

Die spanning tussen die Israeli’s en die Palestyne is seker een van die mees betwiste kwessies in ons tyd. Wapens, teksverse en die media word in die stryd om waarheid ingespan. Noah is een van talle openbare figure wat Israel se optrede teenoor die Palestyne krities bejeën en besef dat die werklikheid van Israel se Sionistiese agenda nie een van “onskuld” en “verdediging” is nie.

In werklikheid is Israel ’n militêre supermoondheid met gevorderde tegnologie, ’n kernaanleg en een van die wêreld se top-uitvoerders van militêre toerusting.

Daarby help en beskerm die VSA Israel deur middel van miljarde dollar en sy vetoreg wat die Verenigde Nasies reeds meer as 40 keer verhinder het om Israel vir growwe menseregtevergrype aanspreeklik te hou.

Nie alle Jode steun Israel nie

Die Palestynse gemeenskap in Chili het op ’n saamtrek in Santiago teen die Israeliese geweld in die voortslepende konflik betoog. Foto: AP

Dis belangrik om te weet dat alle Jode nié Israel steun nie en toenemend hul kommer en kritiek in die openbaar lug.

Mark Braverman, ’n Joodse Amerikaner, skryf dit is so vreemd en tragies dat die rolle van die partye omgekeer word: Die Jode word as die slagoffers en die Palestyne as die aanvallers uitgebeeld.

Christene verwar dikwels die Bybelse Israel met die staat Israel en weet nie van die bestaan van Palestynse Christene nie. In Israel self, maar ook in Palestina se Betlehem, Oos-Jerusalem, Nablus, Gasa en elders, ly hierdie Christene saam met ander Palestyne onder Israel se aanslae.

Israel se aanspraak op Palestynse grond kan nie deur Bybelse bronne of geskiedkundige gebeure gestaaf word nie.

Die gedagte van ’n militaristiese, diskriminerende en vernietigende God wat namens ’n staat en ’n 'uitverkore volk' op die oorlogspad is, is uiters gevaarlik.

In hul artikel “Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina” op LitNet wys proff. Sakkie Spangenberg en Christi van der Westhuizen daarop dat die gebied wat tans bekend staan as Palestina en Israel ook nie deurgaans deur Jode bewoon is soos Sioniste beweer nie. Deur die eeue heen was Arabiere en Moslems aansienlik langer in beheer van die streek as Christene, en Jode vir die kortste tydperk.

Die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke het in 2017 sy stem gevoeg by dié van talle ander kerkgemeenskappe toe hy onomwonde en eenparig besluit het dat die diepste wese van die Christelike geloof op die spel is as dit gebruik word om grootskaalse verwoesting en onreg te saai.

Wanneer die Bybel gebruik word om Israel se verdrukking van die Palestyne te regverdig is die integriteit van die Christendom op die spel, het hy verklaar.

In ’n dringende “Kreet om Hoop” het ’n breë koalisie teoloë saam met Palestynse Christene op hul beurt in Julie 2020 gesê dit is onmoontlik om God te dien én oor die onderdrukking van die Palestyne stil te bly.

Hulle vra indringende besinning en studie. Hul invalshoek is dié van intense kommer oor beide partye, want ook die onderdrukker se psige word deur die wandade beskadig.

Blinde lojaliteit en fanatiese ideologie

“Nee vir die volksmoord in Palestina”, lui dié banier op ’n pro-Palestynse saamtrek in Buenos Aires, in Argentinië. Foto: AP

Absolute, onkritiese lojaliteit teenoor ’n staat of ’n groep mense is nie nuut nie. Deur die eeue heen is veral Romeine 13:1-7 misbruik om politieke agendas, wat bo alle wette en universele waardes verhef word, te bevorder. Onder leiding van Hitler en nasionaal-sosialisme is miljoene Jode byvoorbeeld gruwelik vermoor, en in ons land is apartheid geregverdig. In albei gevalle is die onregte deur Christene gesanksioneer.

Maar die gedagte van ’n militaristiese, diskriminerende en vernietigende God wat namens ’n staat en ’n “uitverkore volk” op die oorlogspad is, is uiters gevaarlik. Hierdie verdelende geloof wat teenoor ’n eenheidsbewussyn staan, het geen Bybelse gronde nie.

Blinde lojaliteit teenoor ’n staat hang dikwels saam met ’n fanatiese ideologie waarin kritici uitgekryt word as byvoorbeeld “terroriste” of “verraaiers” wat verdeeldheid tussen mense verdiep.

Net so is ’n benadering wat nie die ongelykheid en die realiteit van ’n grootskaalse onderdrukking in ag neem nie, nie moreel verantwoordbaar nie. Hierdie soort argumente vir “neutraliteit” en “balans” probeer geregtigheid systap, en is ontdaan van behoorlike sosio-politieke ontleding.

Dit verlam besluitneming en laat die deur vir verdere onderdrukking en hartverskeurende afgryslikhede wawyd oop.

Meer as sewe dekades se ongeregtighede

’n Pro-Palestynse betoger op ’n saamtrek in Londen. Foto: Getty Images

’n Onlangse verklaring van die Desmond en Leah Tutu-stigting plaas die huidige opwelling van geweld van meer as sewe dekades van ongeregtighede in perspektief. ’n Onwettige setlaar in die Sheikh Jarrah-woonbuurt van Oos-Jerusalem in Palestina het byvoorbeeld onlangs in reaksie op ’n vrou se beswaar dat haar huis gesteel word sy skouers nonchalant opgetrek en gesê: “As ek nie jou huis afneem nie, dan sal iemand anders dit doen.”

Die setlaar is reg. Israel het deur die jare heen derduisende Palestynse huise gesloop en onteien – dikwels met meubels en al. Kinders kom smiddae van die skool af tuis by ’n hoop afgebreekte beton en beskadigde huisraad. Niemand word aanspreeklik gehou nie.

’n Kaart van “If Americans Knew” wys hoe Palestina sedert 1947 gekrimp het:

palestina

Die kaart heel links wys Palestina onder Britse mandaat in 1947. Volgens die Joodse teoloog Marc Ellis was ’n klein groepie Jode, wat weens Europese vervolging na Palestina gevlug het, godsdienstig.

Mense soos Martin Buber, Hannah Arendt, Albert Einstein en Judah Magnes wou vreedsaam by die bestaande strukture van Palestina inskakel. Die oorgrote meerderheid was egter sekulêr en het ekonomiese en politieke veranderinge nagestreef. Hulle wou, en hulle het, hul eie staat op Palestynse grond opgeëis.

Die kaart tweede van links illustreer die Verenigde Nasies se voorstel om 55% van Palestina aan die inkomende Jode te gee. Die Palestyne sou slegs 45% – in drie dele – kry. Maar teen 15 Mei 1948 was 80% van die Palestyne vlugtelinge, en Sionistiese paramilitêre magte het ’n Joodse staat op 78% van Palestina se grondgebied verklaar.

In 1967 het Israel nog meer Palestynse grond afgeneem.

Van toe tot nou gaan Israel voort om Palestynse grond te onteien – huis vir huis, straat vir straat, en boord vir boord. Hulle vernietig Palestynse huise, paaie, veeskuilings, waterbronne, kerke, moskees, skole, klinieke en meer.

Gasa staan as die grootste buitelug-tronk ter wêreld bekend.

Die Palestyne se beweging, ekonomiese bedrywighede, waterverbruik, toegang tot howe, onderwysinstellings, gesondheidsgeriewe en alle ander fasiliteite, regte en menswees is ingeperk.

Gasa staan as die grootste buitelug-tronk ter wêreld bekend.

Benewens die onlangse huisbesettings in Sheik Jarrah het Israeliese magte tydens Ramadaan ook stankwater, traanrook, rubberbedekte koeëls en skokgranate gebruik op sitstakers in die Al Aqsa-moskee van Oos-Jerusalem, en Palestyne verdryf uit die historiese Damaskus-ingang waar speserye, kruie en ander ware verkoop word.

Al hierdie aksies deur Israel was teen Palestyne op Palestynse eiendom. Palestyne het daarop gereageer met straatoptogte en die Hamas-beweging het vuurpyle na Israel afgevuur.

In Israel het straatgevegte tussen bure uitgebreek en Israel het Gasa gebombardeer en toringgeboue – ook dié wat die BBC, Associated Press en Al Jazeera gehuisves het – saam met talle menselewens vernietig.

Te midde van die woede en frustrasies het die oorgrote meerderheid Palestyne op 18 Mei ’n landwye sitstaking in ’n “intifada van eenheid” (“intifada” beteken “protes”) gehou.

Israeliese apartheid

Dawid teen Goliat? ’n Palestynse man gebruik ’n slingervel as wapen teen Israeliese veiligheidsmagte naby Nablus. Foto: Reuters

Geweld behels veel meer as fisieke krag en alle state is verplig om die basiese regte van alle mense soos vervat in internasionale wette oor menseregte te respekteer en te beskerm.

Hiervolgens is aanslae op lewens, vryheid, gelykheid of outonomie; marteling en onmenslike en vernederende behandeling; asook straf of uitbuiting alles vorms van geweld.

Net so is die weiering van regte op gelykheid, nie-diskriminasie, privaatheid en gesondheid, asook van beskerming teen liggaamlike of geestelike skade, besering, verwaarlosing en mishandeling.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie kwalifiseer ook die versuim of verwaarlosing van toepaslike optrede as geweld.

’n Kritiese en ’n moreel verantwoordbare respons oor die situasie tussen Israel en die Palestyne kan nie die ongelyke realiteit en diskriminasie systap nie.

Daarom is die strukturele en institusionele onderdrukking en diskriminasie met die gepaardgaande sielkundige skade en die mishandeling en verwaarlosing deur Israel nie bloot “wangedrag”, “wreedhede” of “verdediging” nie, maar geweld.

Beide die Internasionale Humanitêre Wet én die Internasionale Menseregtewet is van toepassing op die verhouding tussen Israel en die Palestyne:

• Die Internasionale Humanitêre Wet, wat ouer as die staatstelsel self is, beperk geweld in gewapende konflikte deur middel van ’n reeks wette, verdrae, konvensies en protokolle. Dit sluit die Haagse Konvensies van 1907 en die Geneefse Konvensies van 1949 in. Dit handel oor die beginsels van noodsaaklikheid en proporsionaliteit, dit onderskei tussen burgerlikes en militêre magte, en dit verbied onnodige lyding en aanvalle op mense wat oorgegee het of hulself nie kan verdedig nie. Alle geweld teen burgerlikes is onwettig.

• Die Internasionale Menseregtewet is weer geïnspireer deur die Universele Verklaring van Menseregte van 1948. Dit handel oor basiese en universele burgerlike, politieke, ekonomiese, sosiale en kulturele regte.

Israeliese artillerie in aksie op die grens tussen Israel en die Gasa-strook. Foto: Getty Images

Op die keper beskou, is Israel as besetter aandadig aan die meerderheid oortredings van internasionale wetgewing soos duidelik uit die gereelde verslae van die Verenigde Nasies blyk. Verskeie studies het verder bevind dat Israel aandadig aan apartheid soos gedefinieer in die Statuut van Rome van die Internasionale Strafhof is. In die eerste kwartaal van 2021 is twee belangrike studies hieroor gepubliseer. Die eerste is deur Human Rights Watch, en die tweede is deur die Israeliese Menseregte-sentrum, B’Tselem. Beide bestempel Israel se diskriminasie teen Arabiese Christene en Moslems in sowel Israel as in die besette Palestynse gebiede (dus Gasa, die Wesoewer, Oos-Jerusalem) as apartheid.

Op 5 Februarie vanjaar het die Internasionale Strafhof bevestig dat verskeie moontlike oorlogsmisdade deur Israel en Hamas ondersoek sal word nadat die Palestynse regering die hof gevra het om albei partye vir die nakoming van internasionale reg aanspreeklik te hou.

Die ondersoek sal ook die 2014-oorlog teen Gasa, Israel se optrede teenoor Palestynse burgerlikes op die Gasa-grens sedert 2018, en die vestiging van Israeliese setlaars in Oos-Jerusalem en die Wesoewer insluit.

Anders as die VSA en Israel, verwelkom die Palestyne die besluit.

Keuse tussen onreg en geregtigheid

’n Palestynse man wat in ’n Israeliese lugaanval gewond is. Foto: Getty Images

’n Kritiese en ’n moreel verantwoordbare respons oor die situasie tussen Israel en die Palestyne kan nie die ongelyke realiteit en diskriminasie systap nie.

In 1985, tydens die donkerste dae van Suid Afrikaanse apartheid en midde-in ’n noodtoestand, het teoloë in 1985 se Kairos-dokument byvoorbeeld gevra: “Sou dit wettig wees om die fisieke krag van ’n verkragter en dié van ’n vrou wat weerstand bied teen die verkragter as geweld te beskryf?”

Hoe lank moet die Palestyne nog vir Europa se skuldgevoelens oor die Jode betaal?

Die Palestynse kwessie is ’n mikrokosmos van soveel dinge wat in ons wêreld verkeerd is. Die keuse waarvoor ons staan, is nie een tussen state of nasionaliteite nie.

Dis ’n keuse tussen onreg en geregtigheid, tussen eerlikheid en valsheid, en tussen integriteit en dubbele standaarde.

Dis ook nie ’n keuse tussen Jode en Arabiere of gelowe nie. Dis ’n keuse tussen onreg en geregtigheid, tussen eerlikheid en valsheid, en tussen integriteit en dubbele standaarde. Ons kan nie langer die fout maak om groepe mense teen mekaar af te speel asof ras, kultuur of godsdiens merkers is vir wie mag leef en wie nie.

Die gevierde Palestynse digter Magmoed Darwiesj stel dit beter in een van sy gedigte. Breyten Breytenbach se wonderlike Afrikaanse weergawe in die bundel oorblyfsel/voice over (Human en Rousseau) lui so:

kom, kom drink Arabiese koffie saam met ons

en julle sal sien dat julle mense is

net soos ons       net soos ons ook ween

ook in doodskiste pas

Dr. Marthie Momberg is ’n navorser en projekbestuurder van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie in samewerking met die eenheid vir Morele Leierskap, Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Verenigde Nasies  |  Human Rights Watch  |  Trevor Noah  |  Palestina  |  Suid-Afrika  |  Gasa  |  Amerika  |  Israel  |  Apartheid  |  Palestyne  |  Jode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.