Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Palme en kie: SA kort al die feite

Ná die publikasie van my laaste rubriek – “Palme-net kan groot visse vang” – het genl. Johan van der Merwe, voormalige kommissaris van polisie, ’n brief aan Beeld geskryf waarin hy die mening uitspreek dat die voorgestelde verbintenis tussen die moord in 1986 op Olof Palme, destydse Sweedse premier, en Craig Williamson, ’n majoor van die voormalige Suid-Afrikaanse Polisiemag, “bloot ’n hersenskim” is.

Alida Kok Engelbrecht

Die voorgestelde verbintenis tussen Palme se skietdood, die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste en Williamson word in ’n nuwe boek verduidelik wat in Europa uitgegee is. Die plasing van Williamson by die moord op Palme is dus nie my “sinspelings” nie (soos verwoord deur Van der Merwe), maar is deel van twee Sweedse joernaliste se verduideliking van wie agter die moord op die premier was.

Die rede waarom dit belangrik is om kennis te neem van nuwe ontwikkelings in dié moordondersoek is nie om net weer na die NP-regering se “magsvergrype” te verwys en die ANC en die PAC se terreurdade te ignoreer nie. Die rede is juis dat Suid-Afrikaners ’n reg het en ’n poging moet aanwend om die kompleksiteit van ons verlede te onthul en te verstaan. Elke dekade ná apartheid verteenwoordig ’n nuwe fase in die manier waarop ons geskiedenis omspit en dieper delf om sin te maak van die Suid-Afrikaanse storielyn.

Ná afloop van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) se werk is 43 lêers aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig met sake wat moontlik vir vervolging voorberei kon word. In 2015 is beëdigde verklarings by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin Adv. Vusi Pikoli, voormalige hoof van die NVG, Anton Ackermann, voormalige hoof van apartheidsvervolgings by die NVG, en Dumisa Ntsebeza, voormalige WVK-kommissaris, onder meer noem dat hoëvlak-inmenging deur ministers en senior politieke amptenare verhinder dat vervolgings plaasvind. Dit blyk dat daar ’n vrees is dat ’n toename in apartheidsvervolgings ’n geleentheid gaan bied om ANC-leiers en -lede ook te vervolg.

Dit is natuurlik belangrik dat hierdie sake opgevolg, gebou en opgelos word, maar Suid-Afrikaners verdien dit om die volle storie te hoor en te verstaan.

Die beste aanname wat dus gemaak kan word na aanleiding van Pikoli, Ackermann en Ntsebeza se beëdigde verklarings, is dat ’n stille ooreenkoms tussen die NP en die ANC in die oorgang van apartheid na ’n demokratiese politieke stelsel getref is. Die partye het ooreengekom dat hulle mekaar se geheime sal bewaar. Of die partye dwing mekaar om geheime te bewaar. Voormalige staatsveiligheidsbeamptes besit bewyse wat ANC-politici se geskiedkundige wandade kan onthul en ANC-politici beheer wat met die 43 lêers gebeur wat by die NVG ingedien is.

Hierdie ewewig wat bestaan tussen twee ou vyande veroorsaak dat daar ’n spreekwoordelike moratorium geplaas is op inligting wat ons apartheidsverlede verduidelik. Dit lei ook daartoe dat ’n oppervlakkige narratief of mitologie ons samelewing onderlê wat die NP-regering as heeltemal boos en die ANC en die PAC as heeltemal deugsaam skets. Dié narratief het sy rakleeftyd bereik.

Intussen, terwyl hierdie twee groter magte seker maak dat hulle mekaar se geheime bewaar en hul magsewewig in stand hou, poog nieregeringsorganisasies en slagoffers se families om op te staan teen die groot mag van die staat in die verlede en die staat in die hede om enkele sake te bou teen verdagtes. Dit sluit die ondersoeke na die verdwyning van die MK-operateur Nokuthula Simelane en die dood van Ahmed Timol in.

Dit is natuurlik belangrik dat hierdie sake opgevolg, gebou en opgelos word, maar Suid-Afrikaners verdien dit om die volle storie te hoor en te verstaan.

  • Kok is ’n dosent in politieke wetenskappe en is verbonde aan Akademia.

Meer oor:  Johan Van Der Merwe  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.