Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Palme-net kan groot visse vang
Alida Kok

Meer as 14 000 km van ons, op ’n laatwintersnag in Februarie 1986 in die Sweedse hoofstad Stockholm, is ’n moord op ’n sypaadjie gepleeg.

’n Man en sy vrou het by ’n fliekteater uitgestap op pad huis toe. Die man was Olof Palme, Sweedse premier. Sy vrou, Lisbeth, was langs hom. ’n On­geïdentifiseerde man het op die sypaadjie in die rigting van die egpaar beweeg en ’n skoot afgevuur wat die premier getref het.

Palme het later in ’n hospitaal aan sy skietwond beswyk.

Die onopgeloste moord op Palme word as Swede se grootste moderne nasionale trauma geag. Dit het die land onherroeplik verander. Palme was as leier van die Sosiaal-Demokratiese Party en as premier uitgesproke teen apartheid. Die Sweedse regering het die ANC geldelik ondersteun. (Finansiering is na die ANC gekanaliseer, in baie gevalle sonder bevestiging waarvoor die geld op die ou end gebruik is.)

Dis weens Palme se betrokkenheid by die stryd teen apartheid dat daar taamlik kort ná die moord reeds ’n teorie was dat die Suid-Afrikaanse veiligheids­dienste die sluipmoord georkestreer het. Dié teorie kon wel nooit bewys word nie en Sweedse ondersoekspanne kon nie ’n antwoord op die raaisel vind nie.

Nou – 32 jaar ná die sluipmoord – is ’n boek deur die joernalis Jan Stocklassa in Swede gepubliseer wat gegrond is op die argief van die Nordiese Noir-skrywer Stieg Larsson. (Larsson het die Millennium-trilogie geskryf en is in 2004 oorlede.) Stocklassa het Larsson se argief ná sy dood bekom.

Waarom is die bevindings in Larsson se argief en Stocklassa se boek vir ons belangrik?

Larsson, wat ook ’n joernalis en aktivis was, het sy eie uitgebreide langtermynondersoek gedoen om die moord op Palme op te los en kon reeds drie weke ná die voorval in 1986 die legkaartstukke bymekaarbring. Stocklassa het nou Larsson se ondersoek afgehandel en meen die raaisel is opgelos. Volgens hom en Larsson was die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste vir die sluipmoord verantwoordelik.

Die naam wat in hul ondersoek na vore kom: Craig Williamson. Skielik voel ’n plek wat 14 000 km ver is baie nader aan ons.

Williamson was ’n majoor in die polisiemag wat in 1980 as ’n spioen ontmasker is. Hy was ook onder meer die bevelvoerder van die veiligheidstak se buitelandse afdeling. Williamson het by die Waarheid-en-versoeningskommissie amnestie ontvang vir die moorde op Jeanette en Katryn Schoon (’n aktivis en haar agtjarige dogter) en Ruth First (Joe Slovo se vrou).

Daar word gereeld in die Suid-Afrikaanse media oor Williamson geskryf juis weens die verbintenisse wat gemaak kan word tussen hom en die moord in 1988 op Dulcie September (die ANC se verteenwoordiger in Parys) en die moord op Palme.

Waarom is die bevindings in Larsson se argief en Stocklassa se boek vir ons belangrik?

As ’n saak gebou kan word waarin dit duidelik is dat Williamson byvoorbeeld ’n rol gespeel het in die sluipmoord op Palme, kan dit genoeg rede wees om hom buite Suid-Afrika te vervolg. Daar is nie ’n uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Swede nie, maar die Suid-Afrikaanse owerhede sal hul samewerking in ’n Sweedse ondersoek moet toestaan.

Tot op hede het politieke inmenging in ons nasionale vervolgingsgesag meegebring dat talle uitstaande sake wat verband hou met ons apartheidsverlede nie gepak word nie.

In die ondersoek na die Palme-sluipmoord kan die politieke inmenging dalk vrygespring word en kan groter name verantwoordelik gehou word vir hul magsvergrype in die verlede.

Alida Kok is ’n dosent in politieke wetenskappe en is verbonde aan Unisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.