Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pandemie eis sy tol onder vroue
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Maandag het ons Internasionale Vrouedag gevier. Die dag het in Februarie 1909 ontstaan toe 15 000 vroue in die klerebedryf in New York gestaak het vir korter werkure. In 1917 het stakende vroue in Rusland die Februarie-revolusie ontketen. Die herdenking jaarliks van dié gebeure is deur vroue wêreldwyd gebruik om protes teen ongelykheid aan te teken.

In 1977 het die Verenigde Nasies (VN) 8 Maart as Internasionale Vrouedag erken. Vanjaar is dit 25 jaar ná die VN se Vrouekongres in Beijing, waar die Beijingse Platform vir Aksie opgestel is. Die VN se Vrouekongres is vir die eerste keer in 1975 in Mexiko gehou, daarna in 1985 in Nairobi en in 1995 in Beijing. Lande moet elke vyf jaar aan die VN se kommissie oor vroue se status in New York verslag doen oor hul vordering.

Die Suid-Afrikaanse regering doen verslag oor vordering met geslagsgelykheid in die 12 kritieke areas van die aksieplatform: Vroue en armoede, onderwys en opleiding, gesondheid, die ekonomie, geweld teen vroue, gewapende konflik, vroue in mags- en besluitnemingsposisies, vroue se menseregte, die media, die omgewing, die dogter en ongenoegsame meganismes vir die bevordering van vroue.

Vanjaar se tema vir Vrouedag is “ ’n gelyke toekoms in ’n Covid-19-wêreld”. Die impak van Covid-19 op vroue wêreldwyd is drasties, met 47 miljoen vroue wie se omstandighede hulle in armoede ingedwing het. Vroue is kwesbaarder in die arbeidsmag omdat hulle dikwels minder beskermde poste beklee, dikwels op kontrak werk met minder byvoordele en gewoonlik eerste hul werk verloor wanneer omstandighede moeilik word.

In Suid-Afrika is vroue in die meerderheid in die informele ekonomie. Dit is vroue wat ware soos groente en vrugte of handewerk op straat verkoop. Ten tyde van die inperking kon die informele ekonomie glad nie funksioneer nie en is dié vroue haweloos gelaat.

Die pandemie het die vooroordeel teenoor vroue in besluitnemingsposisies uitgewys. Baie meer mans was lede van taakspanne.

Die pandemie het die vooroordeel teenoor vroue in besluitnemingsposisies uitgewys. Baie meer mans was lede van taakspanne. Terwyl 70% van gesondheidswerkers vroue is, is net 25% van die wêreld se ministers van gesondheid vroue. Die pandemie het ook vroue se dubbelskof vererger, want die versorging van kinders, skoonmaak van huise en tuisonderrig het drastiese ingrepe op vroue se tyd gedoen. Die Covid­-19-pandemie het die grens tus-sen werk en huis uitgewis en die werk-lewe-balans totaal omvergewerp.

Die VN sonder geweld teen vroue en die onderverteenwoordiging van vroue in regerings uit as die grootste krisisse. Die gemiddelde aantal vroue in regerings is wêreldwyd 24%. Suid-Afrika het 44% vroue in die parlement, maar dit dra nie noodwendig by om beter toestande­ vir vroue te skep nie. Tot op hede is daar geen bewys dat dit geweld teen vroue kan bekamp nie.

Die afgelope jaar het kospryse weens die pandemie skerp gestyg sodat baie Suid-Afrikaners nou honger ly. Brood het met 5,1% gestyg, melk met 8%, suiker 7%, olie en vette 11% en vleis met 7,2%. Dis stapelvoedsel waarmee vroue huisgesinne aan die gang hou.

Stygende kospryse laat enkelouer­gesinne met vroue aan die stuur kwesbaar. Meer mense leef nou onder die broodlyn as in 2020. Die Globale Voedselsekerheidsindeks (GFSI) wys dat Suid-Afrika se voedselsekerheid twee agtereenvolgende jare gedaal en armoede toegeneem het.

Internasionale Vrouedag is nie ’n viering nie. Dis ’n herinnering aan alles wat nog vermag moet word om die agterstande van vroue uit te wis. Covid-19 het baie van die oorwinnings uitgewis.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Diskriminasie  |  Vrouedag  |  Vroue  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.