Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pandemie skep ’n sin van dringendheid

Dis merkwaardig hoe die ratte van dienslewering begin draai het sedert pres. Cyril Ramaphosa einde Maart die staat van inperking aangekondig het.

Johanna van Eeden

Watertenks word aangery na plakkerskampe, die departement van gesondheid is skielik op grondvlak sigbaar met omvattende Covid-19-toetsing, die na­sionale uitsaaier ondersteun die departement van basiese onderwys met tuisonderrig en hulppakkette word voorberei om mense geldelik te ondersteun.

Volle erkenning aan die regering vir die ingrypings en vir Ramaphosa se ferm dog simpatieke leierskap.

Beteken dit dan die regering het heeltyd die vermoë gehad om dienste te lewer en dit bloot net nie gedoen nie? Suid-Afrika – en die res van die wêreld – beleef ongekende verandering in dié tyd. Reëls, riglyne en wetgewing word oornag aangepas ten einde die verspreiding van Covid-19 te beperk. Dis ’n gejaag teen tyd: om die vlak van infeksies so laag moontlik te hou sodat hospitale nie knak onder die druk van ’n vloedgolf van siek mense nie.

Ramaphosa en sy span baklei dié stryd met ’n agterstand. Elke liewe staatsdepartement of instelling wat noodsaaklik is om die pandemie te beveg, is oor die jare heen stelselmatig uitgedun, gestroop, besteel of wanbestuur.

Dit is volgens die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) een van die grootste probleme in Suid-Afrika se hantering van die krisis. Dit, saam met ’n kwesbare ekonomie.

Beteken dit dan die regering het heeltyd die vermoë gehad om dienste te lewer en dit bloot net nie gedoen nie?

En ons staan nou maar eers met ons enkels in die vlak water van die krisis, wat vernietigend deur ander lande met meer hulpbronne golf. As iemand nog wonder oor wat op ons wag, behoort die departement van gesondheid se soeke na genoeg begrafnisondernemers, die projek om inderhaas duisende ventilators te bou en die identifisering van landwye kwarantyngeriewe ’n wekroep te wees.

En die winter lê nog voor.

RW Johnson skryf in Fight­ing for the Dream oor die omvang van die probleme in die ANC en die impak daarvan op die land. Dit is gepubliseer voordat “koronavirus” ’n deel van ons daaglikse woordeskat geword het.

Johnson argumenteer ten gunste van talle beleidshervormings (hy vra byvoorbeeld, nes die IRV in sy verslag verlede week, om die afskaffing van regstellende aksie).

’n Lening van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) kan volgens Johnson Ramaphosa die verskoning gee om hervormings deur te druk omdat dié veranderinge deel kan wees van die voorwaardes vir ’n lening.

Soos Ramaphosa die regering se ratte die laaste paar weke geolie­ het, lyk dit nie of hy eens die IMF-verskoning gaan benodig nie. Covid-19 is die krisis waarop ons moes wag om te sien waartoe die regering in staat is wanneer daar skielik ’n sin van dringendheid ontstaan.

  • Van Eeden is adjunkredakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.