Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Pannekoek die beste teenvoeter as dit buite sous
Johan van Wyk

Soos dit nou amper dag ná dag in die Boland reën, en met die winterskoolvakansie voor die deur, wag daar ’n groot vraag op pa’s en ma’s oor ’n saak wat nie kleinhondjiegrootmaak is nie. Of soos my Engelse auntie Mattie sou sê, nie “a walk in the park” is nie.

Wat op dees aarde gaan ons doen om kinders en kleinkinders in ’n nat, koue vakansie binnenshuis besig en uit die kwaad te hou as hulle nie hul neuse by die deur kan uitsteek om hulle buite moeg te gaan speel nie?

Toe ek by my dogter, ’n ma van twee woelwaterseuntjies in die Paarl, waar dit aanmekaar reën, wou weet wat sy beplan en of sy in ’n kritieke stadium verplig sal wees om ons hulp en die van die polisie, die predikant en die Dierebeskermingsvereniging (die arme hond kan dit ook nie hou nie!) in te roep, het sy my meegedeel dat sy dit reeds ’n saak van gebed gemaak het.

Sy het klaar moeg geklink, en die skole het nog nie eens gesluit nie.

Toe ek by my dogter, ’n ma van twee woelwaterseuntjies, wou weet wat sy beplan, het sy my meegedeel dat sy dit reeds ’n saak van gebed gemaak het.

Dis natuurlik nie ’n nuwe probleem nie. Wanneer donker wolke uit die suide oor die Hantamberge saamgepak en ’n koue ysreën dae lank uitgesak het, het my radelose ma kleintyd ná ’n dag of drie gedreig om ons te vermoor.

Dit was in die tye voor klimaatsverandering toe dit anders as nou gereeld in die winter in die Hantam en die Roggeveld gereën het. So baie dat die riviere vir lang tydperke jaar ná jaar in die winter sterk geloop en soms in vloed hulle walle oorstroom het.

Helaas nou al vir vyf jaar en langer nie meer nie. Gelukkig kan Karooboere sewe jaar van droogte vat, maar nie sewe dae van reën nie. ’n Skaap is mos in wese ’n woestyndier. As jy hom nie een gee nie, maak hy self een.

’n Verdere probleem is dat jy kinders net vir so lank en nie langer nie met vreetpak, karretjies, slangetjies-en-leertjies, dambord, poppe, dokter-dokter en speletjies op hulle ouma se iPad kan besig hou.

Dan raak hulle verveeld en onhebbelik, baklei, vang kattekwaad aan, breek hulle speelgoed en gooi dit rond en begin die huis afbreek.

My ma moes die kraaines in haar hare met ’n skêr losknip. Die resultaat was ’n gat net-net kleiner as Kimberley s’n.

Dís wanneer, as jy dit oor jou hart kan kry, die vlieëplak gemaak van tjoep of ’n houtlepel uitgehaal moet word.

Maar pasop, dis nou onwettig! In my kinderdae was dit nie. Ek onthou steeds die pak wat ek opgedoen het toe ek ’n woer-woer gemaak van ’n groot jasknoop op volspoed in my suster se hare gedruk het.

My ma moes die kraaines in haar hare met ’n skêr losknip. Die resultaat was ’n gat net-net kleiner as Kimberley s’n.

Die oplossing is nie televisie nie, maar eetgoed soos tant Malie maak in Eugène Marais se gedig “Wanneer dit reën op Rietfontein”:

“. . . Op toontjies dring die kleintjies om die deur / en watertand betrag elkeen die geur, / wat walm deur sleutelgat en skeur – / ja, almal weet die werskaf is nie blote skyn . . .”

Want almal weet “tant Malie bak nou pannekoek” terwyl dit buite sous.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Ouerskap  |  Kinders  |  Pannekoek  |  Winter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.