SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
‘Papgooi’ deug nie, wel potgooi
Gerhard van Huyssteen

Vra ’n jong taalentoesias die ander dag op Facebook: “Waar kry ’n mens VivA se papgooie?”

Ek frons, kry visioenflitse van boeresportdae uit my verre verlede, probeer eers die klepel by die klok te kry, toe die kloutjie by die oor en besef uiteindelik die lieweling bedoel seker te vra: “Waar kry ’n mens VivA se pótgooie?”

Dis nou wat gebeur as ’n mens “podcast” met “potgooi” vertaal. Van die oor na die mond, val die pot op die grond – om nou maar flouerig met idiome om te gaan . . .

Die Engelse woord “podcast” is ’n versmelting van “iPod” en “broadcast” – ’n woord wat so half toevallig in 2004 deur die Britse joernalis Ben Hammersley geskep is. ’n “Podcast” was toentertyd ’n reeks digitale klanklêers wat via die internet uitgesaai is (dus “broad­cast”) en wat hoofsaaklik deur Apple-gebruikers afgelaai is (daarom “iPod). Vandag is dit klank en/of video, met programnotas, kommentaar, die hele boksemdais – beskikbaar op iOS, Android en Windows.

Dit was nie 100 jaar nie, toe kom RSG (of ’n inbeller) met die vertaling “potgooi” vorendag – ’n tipies volksetimologiese vertaling. Na bewering het Rapport ook al in 2005 die term “podgooi” gebruik. (’n Mens kan dit ongelukkig nie verifieer nie, aangesien die Media24-koerantargief nie meer vir navorsingsdoeleindes toeganklik is nie.)

Dit was nie 100 jaar nie, toe kom RSG (of ’n inbeller) met die vertaling “potgooi” vorendag.

Maar die Taalkommissie wou geen niks van dié gebry weet nie. “Podsend” moet dit wees, het ons slim-slim en deftig in die 2009-AWS aangekondig. Slim vang egter sy baas en in die jongste uitgawe van die AWS erken ons “potgooi”, “potgooier” en “het gepotgooi”, naas “podsend(ing)”, “podsender” en “het gepodsend”.

Terug na die Facebook-jongeling se vraag: Waar kry ’n mens VivA se papgooie/potgooie/podsendings?

VivA het onlangs begin met twee podsendingreekse. Die doel voor oë is enersyds om inligting op nuwerwetse maniere aan die (jonger) publiek beskikbaar te stel, maar ook om ’n diens aan die siggestremde gemeenskap te lewer.

Die een reeks handel oor die pasverskene AWS. Daar is ’n paar inleidende episodes oor wat die AWS is en hoe die 2017-uitgawe van die 2009-uitgawe verskil. Daarna duik Taalkommissielede in elk van die dele en hoofstukke in, bespreek die noodsaak van die onderhawige deel en probeer om die reëls en werkwyse van die Taalkommissie so eenvoudig as moontlik te verduidelik. Dit is hopelik ’n lekker manier om die boek vir Jan en San Alleman – en veral hul kinders – toeganklik te maak. Daar is reeds nege episodes opgelaai en die res word in die loop van die volgende twee maande gepubliseer.

Die tweede reeks (VivA-joernaal) bevat onderhoude met mense in die taalbedryf (byvoorbeeld oor die bekendstelling van nuwe boeke of oor interessante taalkundige navorsing), asook voorlesings van rubrieke en blogs deur onder andere Jana Luther en Sophia Kapp. (Weens Media24 se kopieregbeleid mag hierdie rubriek helaas nie voorgelees word nie.)

Albei reekse is beskikbaar by viva-afrikaans.org (onder “Lees|Luister”) of iono.fm of in iTunes of enige ander pod­sendingtoepassing. (Soek vir “VivA Afrikaans”.) Op VivA se webwerf is daar ook twee aflaaibare blitsgidse om jou te help om skouer aan dié nuwe tegnologiewiel te sit.

Gaan luister en laat weet ons by navraag@viva-afrikaans.org wat jy daarvan dink. Gooi mielies!

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Sosiale Media  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.